Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma se korrupsiesaak uitgestel om te appelleer

Oudpres. Jacob Zuma en sy medebeskuldigde se korrupsieverhoor is weer uitgestel omdat die aangeklaagdes teen ’n hofbeslissing wil appelleer wat lui dat vervolging nié gestaak gaan word nie.

’n Verhoordatum vir volgende jaar April sal eers in Februarie volgende jaar vasgestel word.

Zuma en Thales South Africa, ’n filiaal van die Franse wapenvervaardiger Thales, staan saam tereg op 18 aanklagte van korrupsie, bedrog, rampokkery en geldwassery wat met minstens 783 betalings verband hou wat hy met behulp van sy destydse finansiële raadgewer, Schabir Shaik, ontvang het.

Die saak hou verband met die wapenskandaal van 1999 en die bewering dat Thales, vroeër bekend as Thomson-CSF, destyds ’n kontrak van miljarde rand gekry het om wapenstelsels aan die Suid-Afrikaanse vloot te verskaf.

Oudpres. Jacob Zuma Dinsdagoggend in die hooggeregshof in Pietermaritzburg. Foto: Felix Dlangamandla

Die hof het Dinsdag binne vyf minute verdaag nadat al die partye ooreengekom het om teen 1 November hul aansoeke om verlof tot appèl in te dien, waarna die aansoekdatum op 27 November vasgestel is.

Adv. Anton Katz, namens Thales, het egter gesê daar is nog nie sekerheid of Thales ook teen die hofbeslissing gaan appelleer nie.

“Ons het nog nie opdragte ontvang nie,” het Katz gesê. Zuma se regsverteenwoordiger het egter gesê Zuma is al 14 jaar lank gereed vir die hofsaak, maar hy wil sy reg om verlof te vra om te appelleer uitoefen omdat hy klarigheid wil kry oor waarom hy nou eers vervolg word.

’n Volbank regters het Vrydag Zuma se aansoek in die hooggeregshof in Pietermaritzburg, dat alle aanklagte van korrupsie en bedrog teen hom teruggetrek word, met koste van die hand gewys.

Zuma het in sy aansoek aangevoer die aanklagte teen hom is polities gemotiveerd. Hy het sê onder meer dat hy die slagoffer van ’n polities gemotiveerde aanval deur die nasionale vervolgingsgesag is.

Regters Thoba Poyo-Dlwati, Bhekisisa Mnguni en Esther Steyn het verder ten gunste van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) beslis dat Zuma se bykomende bewysstukke nie toelaatbaar is nie.

Sy medebeskuldigde se aansoek is ook voorheen verwerp. Thales het in sy aansoek aangevoer “dat die korrupsiesaak wat al 14 jaar sloer se getuies is óf siek, onopspoorbaar of dood is en dat dit indruis teen ’n aangeklaagde se reg op ’n regverdige verhoor”.

Meer oor:  Pietermaritzburg  |  Korrupsiesaak  |  Zuma  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.