Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma se naam genoem in komplot-bewerings

Oudpres. Jacob Zuma is Dinsdag in die Parlement daarvan beskuldig dat hy na bewering op ’n vergadering teenwoordig was waar ’n komplot glo gesmee is om genl.maj. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, te vermoor.

Diane Kohler Barnard, DA-woordvoerder oor polisie, het Dinsdag in die parlement gesê Zuma, Super Zuma en Sihle Zikalala, albei LUR’e in KwaZulu-Natal, en Dudu Myeni, voormalige SAL-voorsitter, was teenwoordig.

“As genl. Booysen selfs net sy tone stamp, sal ons weet waar om te kyk,” het Kohler Barnard gesê.

Diane Kohler Barnard, DA-woordvoerder oor polisie. Sy het Dinsdag in die parlement gesê oudpres. Jacob Zuma is betrokke by ’n beweerde komplot om genl.maj. Johan Booysen, voormalige Valkehoof in KwaZulu-Natal, om die lewe te bring. Foto: Michael Hammond

Booysen sê hy weet van gerugte dat daar ’n komplot is om hom te vermoor. Hy het ’n maand gelede vir die eerste keer daarvan gehoor en was aanvanklik baie skepties daaroor.

Onafhanklike bronne het glo egter die beweringe die afgelope paar weke aan hom bevestig. ’n Week nadat hy die eerste keer hieroor ingelig is, het ’n tweede bron in KwaZulu-Natal hom blykbaar gewaarsku om versigtig te wees.

Verlede Donderdag het hy glo ’n oproep by sy huis gekry van nog ’n bron in die provinsie. “Dié persoon het gesê hy moet dringend met my praat en het my daarna in my kantoor kom sien.” Dié persoon werk vir die polisie se afdeling vir misdaadintelligensie.

Dieselfde middag het hy ’n oproep van ’n ander persoon, oorspronklik van KwaZulu-Natal, maar nou van Mpumalanga, gekry, vertel Booysen. Dié persoon wou hom ook oor die bewerings spreek.

“Ek het die man by ’n vulstasie naby die O.R. Tambo-lughawe ontmoet, waar hy ook die inligting oor ’n komplot geopper het.”

Booysen het gesê hy is nie bang nie, “maar beslis ook nie domastrant nie. Ek het die nodige voorsorgmaatreëls getref.”

Genl.maj. Johan Booysen, voormalige Valkehoof in KwaZulu-Natal. Hy het Woensdag gesê hy weet dat ’n komplot gesmee is om hom te vermoor. Foto: Deaan Vivier

Kohler Barnard het gesê oudpresident Zuma en sy makkers het met veterane van Umkhonto weSizwe (MK) in Cornubia naby Phoenix in KwaZulu-Natal gepraat. Sy het nie gesê wanneer dié beweerde ontmoeting sou plaasgevind het nie.

Dié MK-veterane is volgens bronne vroeër na China gestuur vir teen-intelligensieopleiding en daarna in “strategiese” plekke in die polisie ontplooi.

Booysen het gesê hy het gehoor die mense wat genader is om hom dood te maak, is van dié wat in China opgelei is.

Op ’n vraag of hy weet hoekom hy so ’n steen des aanstoots is, het Booysen gesê hy weet werklikwaar nie wat die rede kan wees nie.

“Dit kan moontlik wees dat een van die mense my ’n les wil leer.” Dit kan ook wees omdat hy en mense soos lt.genl. Anwa Dramat, voormalige nasionale Valke-hoof, genl.maj. Shadrack Sibiya, voormalige Gautengse Valkehoof, Robert McBride, Opod-hoof en nog ander mense betrokke was by ondersoeke na hoëvlak-korrupsie.

“Ek verstaan die MK-veterane moes inligting insamel om my en politici in die nuwe bedeling te benadeel.”

Super Zuma. Hy wil hê dat Diane Kohler Barnard, DA-woordvoerder oor die polisie, die komplot-beweringe buite die parlement herhaal. Hy ontken dat hy by so ’n komplot betrokke is.Foto: Jabulani Langa/Daily Sun

Die mense wie se name deur Kohler Barnard genoem is, het Woensdag ontken dat hulle enigsins by ’n komplot betrokke is of was om Booysen “uit te haal”.

Bongani Tembe, Zikalala se woordvoerder, het gesê Kohler Barnard se beweringe is “loutere onsin”.

“As die beweringe waar is, hoekom gaan sy nie na die polisie dat dit ondersoek word nie. Zikalala is ’n man wat in vrede en geregtigheid glo.”

Super Zuma het die beweringe ontken. “Hoekom herhaal sy nie die beweringe buite die parlement nie. Sy weet sy word daar beskerm.”

Hy het gesê hy was nog nooit op ’n vergadering waar net hy, oudpres. Zuma, Zikalala en Myeni teenwoordig was nie.

Vukile Mathabela, Zuma se woordvoerder, het gesê hulle sal eers na Kohler Barnard se beweringe moet luister voordat hulle kommentaar lewer.

Myeni is glo met siekteverlof en het nie op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Johan Booysen  |  Jacob Zuma  |  Komplot  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.