Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma se prokureur gooi handdoek in

Nóg ’n regsverteenwoordiger van oudpres. Jacob Zuma het die handdoek ingegooi.

Eric Mabuza, Zuma se prokureur, het hom onttrek as die oudpresident se regsverteenwoordiger.

Mabuza het die hooggeregshof in Pietermaritzburg per brief in kennis gestel dat hy hom onttrek as Zuma se prokureur in die saak waarin die 79-jarige oudpresident en die Franse wapenvervaardiger Thales teregstaan op 16 aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery, berig News24.

Dié saak gaan op 17 Mei voort.

Mabuza wou Woensdagmiddag by navraag van Netwerk24 nie kommentaar lewer nie.

Eric Mabuza Foto: Gallo Images

Adv. Muzi Sikhakhane SC is Zuma se advokaat.

Vukile Mathebula, Zuma se woordvoerder, het op sy beurt bevestig Mabuza het hom as prokureur onttrek.

Hy meen dit sal ook die geval wees met Sikhakhane omdat hy en Mabuza as ’n span saamwerk.

Verskeie van Zuma se regsverteenwoordigers het hul dienste aan die oudpresident die laaste paar jaar opgeskort – onder meer omdat hulle nie betaal word nie.

Zuma sal moontlik binnekort hoor wat sy lot is nadat die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping by die konstitusionele hof aanbeveel het dat hy van minagting van die hof aangekla word.

Zuma het die laaste ruk striemende aanvalle op die regbank en die Zondo-kommissie gedoen.

Hy het die laaste ruk ook verskeie kostebevele teen hom gekry.

Die kommissie het hom tot dié hof gewend omdat Zuma weier om weer voor die kommissie te getuig.

Carl Niehaus, woordvoerder van die Umkhonto we Sizwe-militêreveterane-vereniging, wat baie na aan Zuma is en gereeld namens die oudpresident praat, kon nog nie vir kommentaar bereik word nie.

Hou Netwerk24 dop vir meer inligting later.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.