Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma se regsman stop Zondo om eers met Zuma te praat

Hy meen oudpres. Jacob Zuma is met voorbedagte rade na die Zondo-kommisie van ondersoek na staatskaping gebring om aan kruisondervraging onderwerp te word. Daarom het adv. Muzi Sikhakhane SC., Zuma se regsverteenwoordiger, Woensdagmiddag kort ná middagete daarop aangedring dat die verrigtinge eers gestaak word.

Adv. Muzi Sikhakhane SC. (regs), oudpres. Jacob Zuma se regsverteenwoordiger, met sy prokureur, Daniel Mantsha. Foto: Felix Dlangamandla

“Ek wil met hom (Zuma) praat en hoor of hy bereid is om gekruisondervra te word. Dit is nou vir my duidelik dat hy gekruisondervra word. Ek moet hom konsulteer,” het Sikhakhane gesê kort voordat hy Zuma se derde dag van getuienis voor die kommissie net ná 14:30 kortgeknip het.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het verrigtinge tot 15:00 verdaag.

Alles het begin toe Zuma met die hervatting van verrigtinge ná middagete aangedui het dat hy “ ’n probleem” het omdat hy gedwing word om deur besonderhede van amptenare te gaan.

“Ek is nie ’n sekretaresse wat notules neem nie. Ek het nie met die besonderhede gewerk nie. Dit sal die kommissie sy eie gevolgtrekkings laat maak. Die direkteur-generaal of die sekretaresse sal weet wat die besonderhede in die dokumente is. Ek weet nie waarom ek die besonderhede moet verskaf nie.”

Hy was ontevrede nadat adv. Paul Pretorius SC., getuienisleier, hom gepeper het met vrae oor Barbara Hogan, voormalige minister van openbare ondernemings, se vroeëre getuienis voor die kommissie dat Zuma in 2009 ingemeng het by die aanstelling van Siyabongo Gama as uitvoerende groephoof van Transnet.

Zondo het Zuma daarop gewys dat dit belangrik is vir die kommissie om sy weergawe te verstaan om uiteindelik tot ’n gevolgtrekking oor die bewerings te kan kom.

“Maar voel vry om te sê jy het nie met daardie spesifieke besonderhede te doen gehad nie,” het Zondo gesê.

’n Duidelik omgekrapte Zuma het toe gesê: “Ek hoor jou, voorsitter, maar dit los nie my probleem op nie. Ek weet nie wat beteken die bewering van die minister dat ek ingemeng het nie. As ’n amptenaar byvoorbeeld aangestel word, word die president gekonsulteer. Ek verstaan nie wat bedoel word met ek het ingemeng nie.”

“Die bewering is dat die president ingemeng het. Ek het gereageer, ek het nooit ingemeng nie. Selfs al het ek met haar gepraat, het ek nie daardie saak so bespreek nie. Ek het reeds die vraag beantwoord dat ek nooit so iets gesê het nie. As ek egter deur die besonderhede gaan, het ek ’n probleem, want ek het klaar die aantygings ontken.”

Maar voel vry om te sê jy het nie met daardie spesifieke besonderhede te doen gehad nie.
Zondo

Zuma het bygevoeg dat die kabinet as ’n geheel oor sulke sake beslis.

Nadat Zondo aan hom verduidelik het hoe die proses van die kommissie werk, het hy gesê hy word “deeglik” gekruisondervra.

“Ek weet nie wat die uitkoms daarvan sal wees nie.”

Sikhakhane het kort daarna ingegryp en die verdaging versoek om Zuma te konsulteer.

Die sitting duur voort.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.