Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'Zuma se siekte moet geheim bly'

Oudpres. Jacob Zuma is nie net te siek om voor die Zondo-kommissie oor staatskaping te getuig nie, maar sy siekte moet ook geheim bly.

Só het Zuma se regspan Dinsdag voor die Zondo-kommissie gesê toe hulle die kommissie ingelig het dat hy nié vandeesweek sal kan getuig nie en ook nie tot Maart beskikbaar sal wees nie.

Hy moet mediese prosedures in die buiteland en in Suid-Afrika ondergaan. Die aard van sy mediese toestand word egter só geheim gehou dat sy dokters net bereid is om agter toe deure aan adjunkhoofregter Raymond Zondo te verduidelik wat fout is met Zuma.

Adv. Thabani Masuku SC, een van Zuma se regsverteenwoordigers, het by die kommissie kapsie gemaak teen die feit dat sy kliënt “antagonisties” behandel word.

Hy het gekla dit is onnodig vir die kommissie se regspan om ’n aansoek voor Zondo te bring om ’n bevel te maak wat Zuma sal verplig om op ’n latere datum te getuig.

Masuku het gesê dit is onaanvaarbaar dat Zuma se goeie woord nie aanvaar kan word nie. Hy het gesê sy kliënt wil wel getuig.

Adv. Paul Pretorius SC, ’n getuienisleier van die kommissie, het gesê Zuma se regspan het eers Maandag om 16:00 in ’n verklaring genoem dat Zuma siek is en nie beskikbaar sal wees om te getuig nie.

Die verklaring is uitgereik kort voordat die kommissie die bevel by Zondo sou aanvra wat Zuma sou dwing om tussen 27 Januarie en 31 Januarie te getuig.

Hulle het vroeër in ’n mediaverklaring aangedui die bevel gaan aangevra word.

Masuku het aangevoer dit is onregverdig dat die dreigement van moontlike inhegtenisneming oor Zuma se kop hang.

Hy het ook uitgevaar oor die mediaverklaring.

Zondo het daarop geantwoord hý het opdrag gegee dat die verklaring uitgereik word en die inhoud daarvan is neutraal en nié aanvallend teenoor Zuma nie.

Zondo het gesê die kommissie het die vorige keer toe Zuma nie kon getuig weens siekte nie, nie eers ’n mediese sertifikaat gevra nie. Sy woord is toe wel aanvaar.

Dié keer het Zuma aangebied om inligting beskikbaar te stel oor sy siekte.

Masuku het gesê die hoof van Zuma se mediese span sal agter toe deure vir Zondo oor die saak ontmoet.

Nadat Zondo en die partye vergader het, het die sitting voortgegaan en Pretorius het gesê die aansoek vir ’n dagvaarding vir Zuma se verskyning word eers uitgestel.

Zondo het gesê hy het die aanbod deur Zuma aanvaar dat sy mediese span se hoof hom kom spreek en inlig.

Die kommissie aanvaar ook dat Zuma nie tussen 27 en 31 Januarie hoef te verskyn nie weens dié mediese redes.

Adv. Glynnis Breytenbach, DA-LP, het in reaksie gesê Zuma se siektetoestand klink vir haar “maar ’n bietjie verdag”.

“Ek kan nie dink dat daar ’n siektetoestand bestaan wat nie in Suid-Afrika behandel kan word nie. Ons medici is baie bekwaam en ons hospitale is uitstekend, tensy hy bang is vir die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).

Sy het wel gesê indien dokumentasie aan Zondo voorgelê is en hy het op grond daarvan uitstel gegee, kan hulle die saak nie verder neem nie.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het gesê Zuma het ’n “openbare plig om alles aan die publiek te openbaar.

“As hy siek is, moet hy as openbare figuur openbaar wat hy onder lede het sodat Suid-Afrikaners self kan oordeel of dit sy nie-verskyning voor die Zondo-kommissie regverdig.”

Groenewald het gesê dat siekte destyds gebruik is om Shabir Shaik uit die tronk te kry.

Volgens Groenewald verwerp sy party Zuma se geheime siekte daarom met minagting.

“In hierdie stadium lyk dit net na nog ’n verskoning om weg te kom van die Zondo-kommissie.” – Llewellyn Prince, Marelize Barnard en Philda Essop

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.