Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dís hoe jy steeds vir Zuma opdok
Oudpres. Jacob ZumaFoto: CHARNE KEMP

Terwyl oud.pres. Jacob Zuma Woensdag in Umthatha in die Oos-Kaap die bestaan van staatskaping ontken het, het opposisiepartye hard maar onsuksesvol probeer keer dat die staatshoof ’n pensioen kry.

Zuma het volgens EWN by die Walter Sisulu-universiteit gesê daar was bloot “mense wat dinge aan ander gedoen het in die een vorm of ’n ander”.

Hy was ’n gasspreker by die universiteit en het gesê studente “moet nie alles sluk wat hulle gevoer word nie”.

“Wat is die staat? . . . die staat is saamgestel uit drie elemente. Is die parlement gekaap? Is die regstelsel gekaap? Is die uitvoerende gesag gekaap?” Zuma sê sover dit hom aangaan is die (Zondo-) kommissie van ondersoek na staatskaping onnodig omdat die staat nié gekaap is nie.

In die nasionale vergadering het die meeste opposisiepartye hul stem baie dik gemaak teen ’n pensioen vir Zuma. Hy is selfs ’n “grondwetlike misdadiger” en “hoofplunderaar van die staatskas” genoem wat homself in sy termyn as staatshoof ten koste van die belastingbetaler én Suid-Afrika só verryk het dat hy nie enige pensioen- en mediese voordele ná sy uittrede verdien nie.

Hulle beswaar was teen ’n ANC-gedrewe mosie dat Zuma sy pensioen- en mediese voordele, wat verhoog sal word elke keer as die sittende president se salaris verhoog word, uitbetaal moet word.

Dié pleidooi van opposisisepartye het egter op dowe ore geval toe ANC-LP’s, wat adj.pres. David Mabuza ingesluit het, hul meerderheid in die NV gebruik het om die mosie te aanvaar.

Die opposisiepartye is met 197 stemme teen 95 verslaan.

Die mosie, wat deur Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep ingedien is, het onder meer gelui dat die NV aanbevelings van die onafhanklike kommissie vir die vergoeding van staatsamptenare se verslag van 22 Augustus 2018 oor Zuma se pensioen- en mediese voordele moet aanvaar.

Dit lui onder meer dat ’n belasbare pensioenvoordeel aan Zuma uitbetaal word wat 100% dieselfde is as die jaarlikse vergoeding wat hy voor sy uittrede ontvang het.

Vroeër is berig dat Zuma se jaarlikse salaris as president in 2016/ 2017 sowat R3,27 miljoen beloop het.

Verder lui dit dat sy weduwees of afhanklikes ’n pensioenvoordeel van 50% van sy jaarlikse salaris moet kry as hy sou sterf. Hy het tans vier vroue.

“Die verhoging van bogenoemde voordele moet gekoppel word aan die verhoging van die sittende president se salaris.”

Die regering betaal ook Zuma se mediese fonds ten volle.

Nthako Matiase, EFF-LP, het tydens die debat oor die mosie gesê hoewel Zuma as voormalige staatshoof geregtig is op ’n pensioen, kwalifiseer hy as “hoofplunderaar van die staatskas” nie daarvoor nie.

Ons kan nie hier staan en ’n man wat so baie van die publiek gesteel het oorsien, eer en besing soos die ANC dit wil doen nie. Hy is nie ons respek werd nie.

Volgens Matiase moet daar nie vergeet word dat Zuma nie vrywillig bedank het nie.

“Ons wou hom in staat van beskuldiging plaas en as dit gebeur het, sou hy al sy voordele verloor.

Zuma is volgens hom ’n man wat in die parlement as “grondwetlike misdadiger”, “korrup en vuil” beskryf is.

“Ons kan nie hier staan en ’n man wat so baie van die publiek gesteel het oorsien, eer en besing soos die ANC dit wil doen nie. Hy is nie ons respek werd nie.”

John Steenhuisen, DA-hoofsweep, het gesê Suid-Afrikaners betaal reeds daagliks deur stygings in BTW, petrolpryse en ander lewenskoste weens Zuma se rampspoedige beleide, sowel as vir die geskatte R100 miljard wat staatskaping die land gekos het.

“Hierdie is ’n grondwetlike misdadiger wat nie net die parlement in gevaar gestel het nie, maar ook die president se kantoor en die Grondwet.

Steenhuisen meen belastingbetalers het reeds genoeg betaal vir Zuma se Nkandla, sowel as regskoste om hom uit die tronk te hou.

Hierdie is ’n grondwetlike misdadiger wat nie net die parlement in gevaar gestel het nie, maar ook die president se kantoor en die Grondwet.

Hy het bygevoeg dat “hierdie grondwetlike slopingsbal (Zuma)” nog nie klaar is nie as die afgelope naweek se berigte oor ’n samesweringskomplot teen pres. Cyril Ramaphosa, geglo kan word.

Dr. Corne Mulder, Vryheidsfront Plus-LP, het gesê Zuma het hom meer as enigiemand anders in Suid-Afrika verryk.

Volgens Mulder gaan die ANC egter volgende jaar by die stembus gestraf word omdat hy Zuma steeds wil beskerm.

Thoko Didiza, ’n senior ANC-LP, het gesê Zuma is herroep en was nie afgedank of in ’n staat van beskuldiging geplaas nie. Hy is as oudpresident daarom geregtig op sy pensioenvoordele.

Meer oor:  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.