Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma skel, sus in parlement
Pres. Jacob Zuma Donderdag in die parlement. Foto: Jaco Marais

’n Dag nadat nóg verdoemende getuienis oor beweerde staatskaping aan die lig gekom het, het pres. Jacob Zuma gesê daar kan nie “gekies en keur” word ten opsigte van die ondersoek na staatskaping nie.

Hy het Donderdag in die Nasionale Vergadering in sy repliek op die debat op sy begrotingsrede herhaal dat hy ’n ondersoek na staatskaping deur die sakegemeenskap steun.

“Staatskaping is ’n groot ding, dit is nie klein nie. Ek dink ons almal stem nou saam dat ons dit (die ondersoek) moet doen. Ons kan nie kies en keur nie, ons moet dit in geheel doen,” het hy onder applous van LP’s gesê.

’n Ondersoek sal volgens Zuma beteken dat daar nie meer staatgemaak sal word op “skinderstories en bewerings” nie, maar op feite.

“Sodat mense nie soos hulle gister gedoen het bewering ná bewering ophaal terwyl hulle geen feite het nie, (maar) net omdat hulle dit in koerante gelees het,” het hy gesê.

Zuma is Woensdag in die debat skerp deur opposisiepartye gekritiseer vir sy beweerde bande met die omstrede Gupta-familie. In die jongste verwikkeling is e-posboodskappe tussen Gupta-sakevennote en enkele ministers en staatsinstellings onthul wat dui op die beweerde sterk invloed wat die Gupta-familie op die regering en staat het.

LP’s van die DA, EFF, UDM en Cope het Zuma se repliek geboikot.

Hy het ingeklim onder die DA en die party daarvan beskuldig dat hy nie kan redeneer nie en slegs “beledigings kan rondswaai”.

Hulle is hier wanneer hulle wil sê wat hulle wil, maar luister nie eens na die reaksie nie. Hulle is vasgevang in hul eie propaganda-wêreld
Pres. Jacob Zuma

“Hulle is hier wanneer hulle wil sê wat hulle wil, maar luister nie eens na die reaksie nie. Hulle is vasgevang in hul eie propaganda-wêreld,” het hy gesê.

Zuma het in reaksie op dr. Pieter Groenewald, leier van die VF+, gesê hy haat nie wit mense nie. Dit kom nadat Groenewald hom gevra het om te sê wat hy van wit mense verwag.

Die ANC het hom geleer om nierassig te wees, maar die foute van die verlede moet herstel word, het Zuma gesê.

Verskeie opposisie partye het Donderdag pres. Jacob Zuma se repliek in die parlement geboikot. Foto: Jaco Marais

’n Situasie kan volgens Zuma byvoorbeeld nie toegelaat word waar mense grond besit en in sommige gevalle “nie weet wat om daarmee te doen nie”, terwyl ander nie ’n enkele hektaar besit nie.

Daar is mense wat arm gelaat is nadat hulle hul besittings aan ander moes afstaan, het hy gesê. “Laat ons dit regstel, nie deur ’n bakleiery nie, maar deur te praat.”

Zuma stem nie daarmee saam dat grond afgevat moet word nie. “Ons gaan dit nie op die Zimbabwe-manier doen nie, maar binne die reg.”

Hy het gesê daar moet aanvaar word dat die land probleme het wat reggestel moet word. “Ons glo ons het instrumente – die Grondwet, wette en die parlement. Ons kan nie sê wanneer mense sê hulle gaan dood van die honger dat ons nie omgee nie.”

Groenewald het opgestaan en Zuma se uitnodiging vir ’n gesprek aanvaar.

Meer oor:  Nasionale Vergadering  |  Zuma  |  Parlement  |  Debat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.