Oudpres. Jacob Zuma sal eerder deur tronkstraf in die gesig gestaar word as om toe te laat dat hy deur die Zondo-kommissie, wat staatskaping ondersoek, “geboelie” word.
So het die Jacob Zuma-stigting gesê nadat die oudpresident Donderdag gedros het op ’n sitting van die Zondo-kommissie, en hy sodoende dalk deur strafregtelike vervolging in die gesig gestaar word.
Dít omdat Zuma gedagvaar is om vandeesweek voor die kommissie te verskyn en hy nie toestemming gekry het om die sitting te verlaat nie.
Zuma was ontevrede met adjunk-hoofregter Raymond Zondo wat ’n aansoek deur Zuma verwerp het om hom weens “partydigheid” as voorsitter van die kommissie te onttrek.
Zondo het beslis die aansoek het nie meriete nie.

Oudpres. Jacob Zuma
Die stigting het Vrydag in ’n verklaring vir Zuma geprys dat hy “alles op die spel geplaas het” om nie geloofwaardigheid aan ’n “onreëlmatige proses, verbloem as ’n kommissie”, te gee nie.
“Ons staan by president Zuma en prys hom vir sy ferm optrede deur weg te loop van die kommissie. Dit is inderdaad ’n belaglike spul wat struikel van een fout na die volgende.
“Ons weet dat Zuma en sy span die heldhaftige standpunt ingeneem het omdat hulle nie bereid was om geboelie te word nie, en het eerder besluit om hul deelname te beëindig, ongeag die risiko van minagting van die verrigtinge,” lui die verklaring.
Die stigting het voorts ’n beroep op Zuma se ondersteuners gedoen om hom by te staan terwyl getuienisleiers van die kommissie “saamsweer” aan die strafregtelike verrigtinge.
Die stigting het ook beweer dat daar ’n derde mag agter die skerms is wat die toutjies van die kommissie trek, en sê hy hoop dat Zondo hiervan bewus is.
“Hulle kan dit wat gebeur het, verdraai nes hulle wil, maar hul bose bedoelinge is gedwarsboom en die bevooroordeling het hulle verblind. Ons staan al die pad agter president Zuma, maak nie saak wie hom wil vernietig nie. Hulle sal misluk.”