Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma 'soos Madiba' sê jeugliga oor Twitter-videos

Die ANC-jeugliga staan bankvas agter oudpres. Jacob Zuma wat deesdae baie uitgesproke op veral sosiale media oor talle kwessies in die land is. Die jeugliga vergelyk Zuma selfs met oudpres. Nelson Mandela na dié se aftrede.

Oudpres. Jacob Zuma Foto: Charné Kemp

Die jeugliga het Donderdag weer vir Zuma in die bresse getree nadat hy hom Woensdag in twee verskillende video’s op Twitter oor onder meer die onteiening van grond sonder vergoedings uitgelaat het.

In die tweede van hierdie video’s voer Zuma onder meer aan dat as die grondkwessie in Suid-Afrika opgelos word, dit ook armoede, ongelykheid en ekonomiese kwessies wat die meerderheid swart Suid-Afrikaners teister, sal oplos.

Zuma sê dan verder dat sy “inligting is dat Europese lande nie grond aan private mense of maatskappye verkoop nie. Dit behoort aan die staat en as jy dit wil gebruik, huur jy dit. Hoekom moet dit verskillend wees in ons geval?

“Ontwikkelde lande het hul grond genasionaliseer. Dit is waarom die gronddebat reguit moet wees sodat ons die kwessie kan oplos. Dit is my gevoel daaroor. Ons bespreek dit te veel, volgens my.”

Mlondi Mkhize, die ANC-jeugliga se woordvoerder, het Donderdag in reaksie gesê Zuma doen volgens die jeugliga niks verkeerd daarmee nie.

“Die ANC se grondwet vereis dat elke ANC-lid verantwoordelikhede en pligte moet hê. Zuma doen daarom niks buitengewoon met sy uitlatings op Twitter nie.

“Ander oud-ANC-presidente het verkies om ná hul uittrede nie aktief te wees nie.

“Maar Mandela het dit ook destyds gedoen. Hy het net nie soos Zuma van deur tot deur gegaan om steun vir die ANC te werf nie, maar hy het ná sy aftrede ook voortgegaan om ’n beter lewe vir alle Suid-Afrikaners te help bou.

“Zuma is met sy uitlatings nou besig om dieselfde as Mandela te doen. Hy doen net wat van elke verantwoordelike ANC-lid verwag word,” sê Mkhize.

James Selfe
James Selfe Foto: Deaan Viviers

* Intussen het James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, Donderdag bevestig dat die DA op dieselfde tyd as wat Zuma sy beoogde aansoek om verlof tot appèl gaan indien teen ’n vroeëre hofbevel dat hy persoonlik alle regskoste moet terugbetaal wat die regering tot dusver aan sy hofsake bestee het, ’n aansoek sal indien wat Zuma moet dwing om hierdie geld terug te betaal, al appelleer hy daarteen.

’n Datum vir Zuma se appèlaansoek moet nog vasgestel word.

“Ons gaan dit doen omdat hierdie kwessie so ’n integrale deel van ons aanvanklike aansoek was. Zuma kan nie net aanhou appelleer en deur dit te doen steeds belastingbetalersgeld in die proses daarvoor gebruik nie.

“Dit is waarom ons die beoogde aansoek ook wil indien sodra sy appèlaansoek verhoor word. Dit is om die hooggeregshofbevel teen hom te laat implementeer terwyl sy appèlaansoek aan die gang is en hom so te keer om verder staatsgeld te gebruik vir sy appèlaansoek.”

Volgens Selfe verwag hulle dat die appèlaansoek binne die volgende paar maande aangehoor sal word.

Meer oor:  Anc-Jeugliga  |  Anc  |  Jacob Zuma  |  James Selfe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.