Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma: Straler gaan belastingbetaler glo R100 m. kos
Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane. Foto: Doreen Mokgolo

Belastingbetalers gaan nagenoeg R100 miljoen in die boekjaar opdok vir die huur van ’n nuwe presidensiële straler vir pres. Jacob Zuma, maar die departement van verdediging weier om enige inligting oor sy huidige straler te verskaf.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, het Maandag in antwoord op ’n parlementêre vraag ook gesê die nuwe presidensiële straler wat nou gehuur word, sal na verwagting teen 1 November vanjaar afgelewer word.

Dít te midde van sprake dat ’n tweede presidensiële straler op die lang termyn teen ’n geraamde R4 miljard aangekoop kan word. Die gehuurde straler is tot dan deel van ’n gebeurlikheidsplan ten opsigte van Zuma se vervoer.

Die DA en ander opposisiepartye het telkens kommer uitgespreek oor kostes en baie het dit as ’n onnodige uitgawe bestempel terwyl meeste Suid-Afrikaners die knyp aan hul beursies voel.

Ministers soos Pravin Gordhan, minister van finansies, is vroeër geloof omdat hy kommersiële lugvaart gebruik vir amptelike reise om kostes te bespaar, maar die departement van verdediging en militêre veterane meen die tegniese probleme van die huidige presidensiële straler stel pres. Zuma se veiligheid glo in gevaar.

Cobus Marais, DA-LP wat die vraag gevra het, het gesê die huur van ‘n straler is absoluut onaanvaarbaar. Hy het ook gesê dit is dalk tyd vir Gordhan om in te gryp.

“Dit is absoluut onaanvaarbaar dat soveel geld gebruik word om die president te beskerm terwyl ons ekonomie dit nie kan bekostig nie. Miljoene mense is werkloos en die regering maak asof pres. Zuma bo alles en almal verhewe is, so die land kan maar in sy kanon gaan.”

Marais het vroeër gevra dat Mapisa-Nqakula aan die parlement se gesamentlike komitee oor verdediging kom verslag doen oor die toestand van die huidige presidensiële straler, Inkwazi.

Tot dusver het Mapisa-Nqakula vrae ontduik en voorgehou dat die inligting nasionale veiligheid in die weegskaal sal stel.

“Die huur en verkryging van ’n nuwe presidensiële straler is ’n baie duur begrotingsitem en dit is belangrik dat die komitee ingelig word oor die redes en vordering met die nuwe straler,” het Marais gesê. 

Volgens hom gaan dit belastingbetalers meer as net R100 miljoen kos, want Inkwasi moet intussen steeds onderhou word. Hy het gesê die afgelope twee jaar is nagenoeg R280 miljoen reeds bestee aan die instandhouding van Inkwazi.

Mapisa-Nqakula het nie een van die sewe ander vrae wat oor Inkwasi gevra is, beantwoord nie.

Daar is onder meer gevra wat bestee is op brandstof vir Inkwasi in die boekjare 2014 -’15 en 2015-’16. Sy het gesê vir veiligheidsredes kan dié inligting slegs in ’n geslote vergadering van die gesamentlike komitee oor verdediging verskaf word.

Daar is ook gevra na die aard van die tegniese probleme wat Inkwazi tydens ’n reis na Katar vroeër vanjaar ondervind het, die opleiding van vlieëniers wat die presidensiële straler vlieg, die koste van spyseniering op die straler asook die koste vir private huurvlugte vir die president.
Al dié vrae het Mapisa-Nqakula omseil deur te veiligheidsredes voor te hou.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Koste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.