Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma swyg oor Zondo-kommissie se hofaansoek
Lede van die studenteorganisasie Cosas was ook van die besoekers aan oudpres. Jacob Zuma by Nkandla. Foto: @DZumaSambudla/Twitter
Andile Mngxitama, leier van Black First Land First, het Saterdag by oudpres. Jacob Zuma gaan kuier. Foto: @DZumaSambudla/Twitter

Dit lyk asof oudpres. Jacob Zuma nie gaan reageer op die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping se hofaansoek teen hom nie.

Die kommissie het twee weke gelede ’n dringende aansoek by die konstitusionele hof ingedien waarin gevra word dat Zuma aan minagting van die hof skuldig bevind en tot twee jaar tronkstraf gevonnis word.

Zuma is veronderstel om, ingevolge die riglyne van dié hof, teen Maandag sy opponerende stukke in te dien.

Sy regspan het teen Vrydag nog nie ’n dooie woord oor die saak gerep nie, het ’n bron na aan die saak Vrydag aan Netwerk24 gesê.

Die verwagting is dat Zuma nie die sperdatum gaan nakom nie. Die aansoek sal na verwagting op 25 Maart aangehoor word.

Eric Mabuza, Zuma se regsverteenwoordiger, weier steeds om oor die saak te praat. Hy het herhaaldelik versoeke om kommentaar van die hand gewys.

Hlaudi Motsoeneng, omstrede voormalige bedryfshoof van die SAUK, het die week besoek gebring aan oudpres. Jacob Zuma. Foto: @DZumaSambudla/Twitter
Lede van die studenteorganisasie Cosas was ook van die besoekers aan oudpres. Jacob Zuma by Nkandla. Foto: @DZumaSambudla/Twitter

Volgens die kommissie het Zuma hom skuldig gemaak aan minagting van die hof deur verskeie dagvaardings om voor die kommissie te verskyn, te ignoreer. Zuma het ook nie ag geslaan op ’n bevel van die konstitusionele hof dat hy moet gaan getuig nie.

’n Uitdagende Zuma het die afgelope week ook steun teen die kommissie gekry van Black First Land First (BLF).

Volgens Zuma se dogter Duduzile het Andile Mngxitama, BLF-leier, die oudpresident by sy Nkandla-woning besoek.

“Dit was ’n duidelike verklaring van steun deur die BLF vir @PresJGZuma om daarmee vol te hou om Die Kommissie teen te staan as Zondo hom nie verskoon nie,” het sy getwiet.

Mngxitama kon nie vir kommentaar oor sy besoek aan Zuma bereik word nie.

Zuma het in Desember verlede jaar ’n hersieningsaansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien nadat adjunkhoofregter Raymond Zondo bevind het daar is geen rede hoekom hy hom aan die kommissie moet onttrek nie.

Uitspraak moet nog gelewer word in die aansoek, waarin Zuma aanvoer Zondo is bevooroordeeld teenoor hom.

Zuma het die afgelope week ook besoek ontvang van Hlaudi Motsoeneng, omstrede voormalige bedryfshoof van die SAUK en leier van die African Content Movement (ACM), asook lede van die studenteorganisasie Cosas.

Duduzile het nie gesê wat tydens hierdie besoeke bespreek is nie.


Olly Mlamleli, uitgestemde uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, het ’n vrag groente by Zuma kom aflewer met haar besoek.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Zuma-Reaksie  |  Hofaansoek  |  Zondo Vs. Zuma  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.