Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma-terugveg het in hotel begin, sê SAKP

Oudpres. Jacob Zuma se vergadering in September 2018 met Ace Magashule, sekretaris-generaal (SG) van die ANC, by ’n Durbanse hotel het die weg gebaan vir die staatskaping-terugvegpoging, sê Solly Mapaila, eerste adjunkhoofsekretaris van die SAKP.

Hy het Donderdag by ’n gesamentlike mediakonferensie van die SAKP en die Ahmed Kathrada-stigting by laasgenoemde se kantore in Johannesburg gesê dié vergadering word verbind met die stryd teen pogings om staatskaping uit te roei.

Van die mense wat die gesamentlike mediakonferensie van die SAKP en die Ahmed Kathrada-stigting bygewoon het. Foto:

“Kort ná Nasrec het die SG . . . in Durban gesê “dat dit net vyf jaar is (waartydens die heersende ANC-leierskap aan die bewind is), ons sal dié kwessies hanteer. Dit is een voorbeeld. Daar was ’n ontmoeting in ’n hotel in Durban wat ’n program uitgerol het. Die inhoud van dié program word nou in werking gestel,” het Mapaila gesê.

“Die terugbaklei deur die bevoordeeldes van korrupsie en staatskaping, so wyd as wat dit is, trek voordeel (uit die terugvegpoging).”

Die stigting het die mediakonferensie gehou om ’n openbare optog aan te kondig uit protes teen dié terugvegpoging teen staatskaping. Die optog word vir Sondag by die Johannesburgse stadsaal beplan.

Van die mense wat die gesamentlike mediakonferensie van die SAKP en die Ahmed Kathrada-stigting bygewoon het. Foto:

Die Sunday Times het verlede jaar berig Zuma, Magashule en Supra Mahumpelo, voormalige premier van Noordwes het in die Maharani-hotel in Durban vergader om ’n terugvegpoging teen pres. Cyril Ramaphosa se leierskap te beplan.

Zuma het die week voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo verskyn en beweer dat die ANC binnegesypel is deur apartheidspioene en dat daar senior partyleiers is wat opdragte van die apartheidspolisie ontvang het.

Mapaila sê egter Zuma se voorlegging voor die kommissie was ’n weerligafleier om nie die beweringe teen hom deur getuies voor die kommissie, wat hom met staatskaping verbind het, te antwoord nie.

“Ons moet geen afwyking van die inhoud van die Zondo-kommissie duld nie. Die kommissie handel met beweringe van korrupsie en ampsoortredings teen sekere individue wat toegelaat het dat die staat misbruik en gekaap word. Dit is waaroor die voormalige president besorgd moes wees,” het Mapaila gesê.

“Hierdie ding (oor spioenasie in die ANC) is opgemaak sodat hy met moord kan wegkom om die aandag van die werklike kwessies af te lei.”

Magashule het vroeër die week gesê Zuma se spioenasiebeweringe moet ernstig opgeneem word.

Die stigting en die SAKP het hulle ook gevoeg by diegene wat wil hê dat die parlement Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, se geskiktheid moet ondersoek om dié amp te beklee.

Dakota Legoete, ’n lid van die ANC se kommunikasiespan, het vrae na Pule Mabe, die party se woordvoerder, verwys. Dié was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Mahumapelo was ook nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Oudpres. Jacob Zuma  |  Sakp  |  Ontmoeting  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.