Oudpres. Jacob Zuma was nie Dinsdag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg vir sy saak saam met die Franse wapenvervaardiger Thales nie.
Die twee party staan tereg op 16 aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery.
Zuma en Thales se verteenwoordiger is met toestemming van die hof van die verrigtinge verskoon.
Luidens die staat het Zuma vooraf gevra om verskoon te word en die verteenwoordiger van Thales kon weens Covid-19-maatreëls nie vanuit Parys, Frankryk, vlieg om die verrigtinge by te woon nie.

Oudpres. Jacob Zuma buite die hooggeregshof in Pietermaritzburg met 'n vorige hofverskyning. Foto: Gallo Images
Die regter het die toestemmingsbevel toegestaan.
Daar word egter van al die partye verwag om tussen 17 Mei en 20 Junie vir die verhoor in die hof te wees.
Daar is gevra dat die hof juis ’n langer tydperk vir die verhoor opsy moet sit, omdat daar minstens 217 getuies is wat getuienis sal aflê.
Van die getuies sal van oorsee kom en die datums kan dalk verander, afhangend van wat die land se Covid-19-maatreëls in daardie stadium toelaat.
Die saak is aanvanklik tot Dinsdag uitgestel hangende die afhandeling van ’n hersieningsaansoek van Thales, waarin hy vra dat hy nie van geldwassery aangekla word nie.
Die saak is egter in Januarie afgehandel en Thales se aansoek is, met koste, van die hand gewys.
Thales het aangedui dat hy nie teen die uitspraak sal appelleer nie en die verhoor kan daarom nou begin.