Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma voor Zondo: ‘Weet nie, kan nie onthou nie’

Die Gupta-familie het niks te doen gehad met die aanstelling van ministers of enigiets anders wat in oudpres. Jacob Zuma se administrasie aangegaan het nie.

Zuma het ook nie opdrag gegee dat Themba Maseko as direkteur-generaal van die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsel (GCIS) afgedank of geskuif word omdat hy nie met die Guptas wou saamwerk nie en het ook nie enige van die goed gedoen waarvan die oud-ANC-LP Vytjie Mentor hom beskuldig nie. Trouens, hy kon haar destyds nie eens onthou nie.

Oudpres. Jacob ZumaFoto: Felix Dlangamandla

Dit was die kern van die oud-staatshoof se tweede dag van dramatiese getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping Dinsdag in Parktown, Johannesburg.

Hy het sy getuienis begin met ’n aankondiging dat hy en sy kinders die vorige aand met die dood gedreig is.

Adv. Paul Pretorius SC, die getuienisleier, het Zuma gevra oor beweringe wat Maseko en Mentor in hul getuienis gemaak het.

Pretorius wou weet of Zuma wyle minister Collins Chabane destyds opdrag gegee het om Maseko uit sy pos te verwyder omdat hy na bewering nie met die Guptas wou saamwerk om staatsgeld aan hul mediabedrywighede te bestee nie.

Zuma het gesê hy weet niks daarvan nie. “In daardie stadium is direkteurs-generaal rondgeskuif. Ek weet nie enigiets van daardie opdrag nie.”

Vytjie Mentor
Themba Maseko

Pretorius het verwys na Mentor se getuienis dat sy afgedank is omdat sy geweier het om Zuma tydens ’n ampsbesoek aan China in 2010 te ontmoet waar die Guptas ook ’n prominente rol gespeel het.

Zuma het gesê hy was op verskeie ampsbesoeke in China en onthou nie die spesifieke besoek waarvan Mentor praat nie.

Hy het ook ontken dat die Guptas ’n prominente rol op so ampsbesoek kon gespeel het.

Mentor het ook beweer dat Ajay Gupta by ’n ander geleentheid vir haar ’n ministerspos in ruil vir kommersiële gunste aan sy familie by hul huis in Saxonwold, Johannesburg, aangebied het waar Zuma ook teenwoordig was.

Ajay het toe glo ook van ’n komende kabinetskommeling geweet. Zuma het gesê Ajay was nie ’n lid van die regering nie. “Hy moes nie daarvan geweet het nie.”

ANC sal spioenasie-beweringe bekyk

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, sê die party gaan “gesprekke” voer oor die bewerings wat Jacob Zuma Maandag gemaak het.

Hy het gister se sitting in die Hill on Empire-gebou in Parktown, Johannesburg, bygewoon. 

Magashule, ’n Zuma-ondersteuner,  het in antwoord op ’n vraag gesê die beweringe oor spioene van intelligensie-agentskappe wat die ANC geïnfiltreer het, word ernstig opgeneem. 

“Mense vra nou dat ’n kommissie gestig word om die bewerings te ondersoek, maar daar sal eers gesprekke moet plaasvind,” sê hy.

“Ek weet ook van die goed (waaroor Zuma getuig het). Hy was lank betrokke by intelligensie en sal daarom waarskynlik meer weet.”

Magashule sê Zuma het Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor, Vrydag besoek en hom ingelig dat sy getuienis voor die kommissie die ANC dalk kan benadeel.

Magashule wou hom nie uitlaat oor die bewerings van Zuma se regspan dat die kommissie bevooroordeeld teen Zuma is nie.
Oor Zuma se bewering dat ’n groot getal ANC-lede bande met die Guptas gehad het, sê Magashule: “Wys my ’n politikus wat nog nie met sakemanne vergader het nie.”

Hy het ook ontken dat Ajay ooit oor die aanstelling van ministers met hom gepraat het.

Zuma het ook ontken dat hy op dieselfde dag as Mentor by die Guptas se huis in Saxonwold was en het gesê hy weet niks van ’n gesprek tussen haar en Ajay nie. Zuma het Maandag getuig dat daar niks verkeerd was met sy verhouding met die Guptas nie. Zuma se advokaat, Thabani Masuku, wou in ’n stadium tydens die ondervraging oor Maseko weet waarom Zuma “gekruisondervra en nie soos ander ministers voor hom deur die kommissie as net nog ’n getuie behandel word nie”.

Masuku het gesê Zuma is nie voorberei vir kruisverhoor nie.

Pretorius het geantwoord hy gee Zuma bloot die geleentheid om te reageer op al die feitelike inligting oor Maseko.

“Dit sal onregverdig wees om Zuma nie die geleentheid te gee om daarop te antwoord nie.”

Zondo en die regspanne het tydens die eerste verdaging ooreengekom oor die manier van ondervraging sodat Zondo nie nodig gehad het om ’n reëling daaroor te maak nie.

Zuma het Maandag groot drama veroorsaak toe hy getuig het hoe hy die slagoffer was van ’n komplot wat oor byna drie dekades gestrek het om van hom ontslae te raak, dat spioene die ANC geïnfiltreer het en dat daar verskeie sluipmoordpogings, onder meer met buitelandse selfmoordbomaanvallers, op sy lewe was.

Dinsdag het hy weer ’n bom gelos toe hy gesê het sy persoonlike assistent is Maandagaand deur iemand gebel wat gedreig het om hom en sy kinders dood te maak.

“Sy het my vanoggend daaroor ingelig. Soos jy sal onthou, voorsitter, het ek baie gepraat oor hoe my lewe in gevaar is.”

Volgens Zuma is daar ook dreigemente teen sy regsverteenwoordiger, adv. Muzi Sikhakhane, gemaak.

“Ek het ’n kind verloor; die dreigement is reeds geïmplementeer. Ek sal later daaroor uitwei, maar vir nou wil ek net op rekord plaas dat my lewe en dié van my kinders in gevaar is.”

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het opdrag gegee dat die betrokke wetstoepassingsagentskappe ver­seker dat alle doodsdreigemente teen Zuma, sy familie en sy regsverteenwoordiger deeglik ondersoek word.

“Ek weet egter nie of die kommissie kan bydra nie, aangesien jy reeds beveilig word,” het hy aan Zuma gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.