Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma wil hof toe oor hofbevel oor regskoste

Oudpres. Jacob Zuma wil appelleer teen ’n bevel van die hooggeregshof vroeër wat hom verplig om die miljoene rande wat die staat die afgelope jare aan sy regskoste in talle hofgedinge bestee het, self terug te betaal.

 Jacob Zuma
Oudpres. Jacob Zuma Foto: Felix Dlangamandla

Die DA belowe egter dat hy hierdie jongste voorgenome appèl van Zuma ten sterkste sal teenstaan omdat hy daarmee ooglopend bogenoemde hofbevel “wil vertraag en ondermyn”.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, het Woensdag gesê dat dié party se prokureurs in kennis gestel is dat Zuma ’n aansoek om verlof tot appèl teen die hooggeregshof in Pretoria se bevel oor sy regskoste wil indien.

Adjunkhoofregter Aubrey Ledwaba het op 13 Desember verlede jaar in sy uitspraak in die hofaansoek van die DA en die EFF – waarin hulle die presidensie se besluit om Zuma se regskoste te betaal, uitgedaag het – gesê dat die staat nie verantwoordelik is vir Zuma se regskoste wat in sy persoonlike strafregtelike vervolgings of siviele gedinge aangegaan is nie.

Die Staatsprokureur is ook opdrag gegee om binne drie maande ’n volledige rekord van al Zuma se regskoste in te dien en verslag te doen oor wat gedoen word om die geld van Zuma te verhaal.

Die EFF skat Zuma se totale regskoste op R32 miljoen, maar die DA meen dit is aansienlik meer.

Selfe het Woensdag in ’n verklaring gesê dat die DA binnekort nog ’n hofaansoek sal indien om bogenoemde hofbevel onmiddellik te laat implementeer.

“Die DA is van mening dat die hooggeregshofbevel in werking moet bly ongeag die appèl wat Zuma wil indien.

James Selfe
James Selfe Foto: Deaan Viviers

“Die aansoek vir verlof tot appèl is duidelik om die hofbevel te vertraag en te ondermyn sodat die staat weer Zuma se regskoste moet betaal.

“Dit moet nie toegelaat word nie. Terwyl Zuma vry is om aansoek om verlof tot appèl te doen, kan hy dit nie doen deur staatsgeld daarvoor te gebruik nie,” het Selfe bygevoeg.

Vukile Mathabela, Zuma se woordvoerder, kon nie Woensdag vir kommentaar hieroor bereik word nie.

* Intussen het Nicole Graham, DA-hoofsweep in die eThekwini-metro, hierdie metroraad se planne vir ’n vollengte musiekalbum van struggle-liedjies deur Zuma as niks anders nie as ’n blatante politieke stap beskryf om ’n voortdurende inkomste vir Zuma te verseker én om belastingbetalersgeld vir politieke gewin aan te wend.

Sy het belowe dat die DA dié planne van die metro met alle mag sal teenstaan.

Dit volg nadat Thembinkosi Ngcobo, die metro se hoof van parke, ontspanning en kultuur, Maandag luidens News24 bevestig het dat Zuma die musiekalbum teen April 2019 sal opneem.

Volgens hom gaan die projek oor die bewaring van historiese liedjies en het Zuma “talent en verstaan hy die geskiedenis en emosies agter die liedjies”.

Graham het bygevoeg die DA sal alles moontlik doen om te verhoed dat belastingbetalersgeld gebruik word om die ANC se politieke binnegevegte te finansier.

* Intussen het Zuma Woensdag in ’n video op sy amptelike Twitter-rekening ook sy “mening” oor die gronddebat in Suid-Afrika gelug.

Hy het onder meer gesê dat hy nie weet waarom daar tans só ’n lang debat oor onteiening van grond sonder vergoeding in Suid-Afrika woed nie, omdat “dit ’n eenvoudige kwessie is”.

Volgens hom is bogenoemde ’n ANC-resolusie, terwyl dit ook ’n geskiedkundige feit is dat “wit mense in veral Suid-Afrika ná die Berlyn-konferensie gekom en die grond gevat het”.

Meer oor:  James Selfe  |  Jacob Zuma  |  Regskoste  |  Hofbevel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.