Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma word anders voor Zondo behandel, sê regsman

Hoekom word oudpres. Jacob Zuma voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gekruisondervra en nie soos ander ministers voor hom as net nog ’n getuie behandel nie?

Oudpres. Jacob Zuma by Dinsdag se verrigtinge van die Zondo-kommissie in Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Dié vraag deur Zuma se regsverteenwoordiger Dinsdagoggend aan die kommissie onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo het daartoe gelei dat Zuma se tweede dag van getuienis voor die kommissie vir ’n ruk vertraag is.

Dit is omdat Zondo vir Zuma én die kommissie se regspanne versoek het om hom tydens die verdaging toe te spreek oor hoe die verrigtinge in die lig van die kapsie oor Zuma se ondervraging voortgesit kan word.

Die vertraging het gekom nadat adv. Thabani Masuku SC., Zuma se regsverteenwoordiger, kapsie gemaak het oor die manier waarop adv. Paul Pretorius SC., die getuienisleier, Zuma ondervra.

Dit was midde-in Pretorius se ondervraging van Zuma oor Themba Maseko, voormalige GCIS-hoof, wat vroeër voor die kommissie getuig het hoe hy uit sy pos verwyder is omdat hy nie met die Guptas wou saamwerk nie, en dat wyle minister Collins Chabane, wat toe sy politieke hoof was, hom destyds ingelig het dat Zuma daarvoor opdrag gegee het.

Masuku het hiertydens gesê indien iemand geïmpliseer word, moet hy of sy die geleentheid gegun word om hul weergawe van die gebeure te stel.

“As die Guptas nie hier gaan wees om te getuig nie, is dit onregverdig om van die president te verwag om te sê watter rol hy sou kon speel in die verwydering van Maseko.

“As dit Maseko se bewering is dat daar korrupsie was, moet hy dit duidelik stel. Zuma is nie voorbereid vir kruisverhoor nie. Waarvoor ons voorberei het, is vir Zuma om kwessies duidelik te stel, nie om deur paragrawe te lees nie en ook nie om betrokke te raak by Maseko se aantygings nie. As Maseko glo hy is deur die president verwyder, moet hy dit sê,” het Masuku gesê.

Wat ons wel doen, is om Zuma die geleentheid te gun om te handel met al die feitlike inligting rakende Maseko.

Pretorius het hierop gesê daar is geen aanklagte-staat wat hy deur sy ondervraging wil bewys nie.

“Wat ons wel doen, is om Zuma die geleentheid te gun om te handel met al die feitlike inligting rakende Maseko. Dit sal onregverdig wees om Zuma nie die geleentheid te gee om daarop te antwoord nie.”

Masuku het daarop gesê dat Zuma nie soos ander ministers behandel word wat reeds voor die kommissie getuig het nie.

“Hierdie kommissie is begin weens die werk wat Zuma gedoen het. Ons het nog geen versoek van die kommissie gekry om ’n onderhoud met Zuma te voer nie. Ander het wel die geleentheid gekry.

“Pretorius weet wat hier gesê word is van belang vir die wetstoepassingsowerhede. Hierdie is nie reg nie. Ander getuies sou anders hanteer word. Dit is nie in die gees van die kommissie nie. Daar is geloofwaardigheidskwessies hier ter sprake.”

Volgens Masuku moet Zuma se getuienis soos die ander ministers voor hom gelei word, en dat hy nie gekruisondervra kan word om inligting te bekom nie.

* Die sitting duur voort.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Zuma-Getuienis  |  Zondo  |  Kommissie Van Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.