Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma word groot las vir ANC-takke

Die lede van die NUK gaan ANC-takke, streek- en provinsiale strukture oor die land heen besoek om voorleggings oor die Nkandla-uitspraak te doen sodat daar op provinsiale vlak standpunte geformuleer kan word.

Die 80 NUK-lede word in die verskillende provinsies ontplooi om te verduidelik wat die uitspraak van die konstitusionele hof vir die organisasie beteken en waarom die ANC teen die mosie gestem het om pres. Jacob Zuma in ’n staat van beskuldiging te plaas omdat hy die Grondwet geskend en sy ampseed verbreek het.

Intussen beplan die EFF om die konstitusionele hof weer te nader om ’n bevel te vra oor die afdwing van die Nkandla-uitspraak.

“Ons het ’n brief aan die speaker gestuur waarin ons voorstel dat ’n paneel van drie afgetrede regters aangewys word om ’n tugverhoor teen Zuma te hou oor die voorstel dat hy die Grondwet geskend het.

“Ons voorstel is dat die regters ’n verslag met bevindinge aan die parlement voorlê en dat ons daarna stem of hy langer president moet wees,” sê Mbuyiseni Ndlozi, nasionale woordvoerder van die EFF.

Bronne in die party sê as Baleka Mbete, speaker, die versoek weier, kan dit die weg baan vir ’n tweede hofaansoek oor Nkandla.

Die ANC se tak- en streekstrukture is onder kwaai druk weens die uitspraak omdat hulle nou moet mobiliseer vir die komende plaaslike verkiesing terwyl die uitspraak van die konstitusionele hof soos ’n swaard bo hul koppe hang.

“Takke moet maandeliks vergader ingevolge die ANC se grondwet. Die April-vergaderings is om te mobiliseer vir die verkiesingsveldtogte. Die veldtog wat deur burgerlike organisasies aangekondig is om Zuma se bedanking te eis, verhoog die druk,” sê ’n bron in die Gautengse provinsiale struktuur.

“Die plaaslike en streekstrukture van die ANC sal eenvoudig die ruimte moet vul wat die burgerlike organisasies nou probeer betree, maar hoe gaan hulle dit regkry terwyl daar soveel onmin oor die hofuitspraak en die Guptas is? Dis eenvoudig onafwendbaar dat daar nog takke en streekstrukture is wat hulle teen Zuma gaan uitspreek – binne en buite die amptelike kanale,” sê die bron.

Khaya Magaxa, waarnemende voorsitter van die ANC in die Wes-Kaap, sê die vergaderings kan uitloop op provinsiale hoofraadsvergaderings wat weer tot ’n spesiale nasionale hoofraadsvergadering kan lei om die bevindinge van die land se hoogste hof te bespreek.

’n Nasionale hoofraadsvergadering kan Zuma as ANC-president ontsetel en ’n nuwe president verkies.

“Dis geen geheim nie dat sommige strukture baie ontevrede is met Zuma se voortgesette presidentskap, maar die vergaderings in die volgende twee weke is net inligtingsvergaderings waarheen takke genooi is.

“Dis nog nie gemagtigde vergaderings met die oog daarop om ’n nasionale hoofraadsvergadering te hou nie,” sê Khusela Sangoni, woordvoerder van die ANC-hoofkantoor in Luthuli-Huis.

Zuma word vurig beskerm deur ’n groep in die NUK wat die afgelope weke aansienlik kleiner geword het sedert die inmenging van die Guptas in die aanwys van kabinetslede ontbloot is deur Mcebisi Jonas, adjunk-minister van finansies.

Twee groeperinge in die ANC is teen Zuma gekant:

  • Eerstens ’n groep wat wil hê hy moet bedank omdat hy die party se verkiesingsveldtog skaad. Dis veral in provinsies soos Gauteng, Noordwes en Oos-Kaap waar die ANC gevaar loop om beheer te verloor oor metrorade in Pretoria en Nelson Mandelabaai.
  • ’n Tweede groep meen egter daar is geen haas om nou van hom ontslae te raak nie.

“Ek hou nie van Zuma en die dinge wat hy aanvang nie, maar daar is belangriker sake wat moet aandag kry soos werkloosheid en armoede en die invloed wat wit kapitaal op ANC-beleid uitoefen. Die ANC sal op die regte tyd met Zuma afreken, soos met die nasionale kongres einde 2017,” sê ’n leidende figuur in een van die party se provinsiale strukture.

“Daar is op die oomblik geen opwelling van steun op voetsoolvlak vir ’n veldtog om hom as president te ontsetel nie,” sê die bron.

Meer oor:  Zuma  |  Mbuyiseni Ndlozi  |  President
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.