Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma wou glo hê SAL moet na oorlogsone vlieg

Oudpres. Jacob Zuma wou gehad het die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) moet kommersiële vlugte na die oorloggeteisterde Suid-Soedan instel, hoewel die lugruim bo dié land weens die erge gevaar vir kommersiële vlugte gesluit was.

Mathulwane Mpshe, voorheen hoofbestuurder van mensehulpbronne van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), getuig voor die Zondo-kommissie. Sy het ook van Augustus tot November 2015 as uitvoerende hoof waargeneem. Foto: Skermgreep

Dít was Maandag van die getuienis wat Mathulwane Mpshe voor die Zondo-kommissie na staatskaping gelewer het. Sy was voorheen die hoofbestuurder van mensehulpbronne van die SAL en sy het ook van Augustus tot November 2015 as uitvoerende hoof waargeneem.

Dudu Myeni, in daardie stadium voorsitter van die direksie, het beveel dat so ’n roete ingestel word en gesê dit is ’n opdrag van die president. Die opdrag is aan Sylvain Bosc, voormalige kommersiële hoof van die SAL, gegee.

Bosc het probeer verduidelik dat so ’n roete nie moontlik is nie omdat kommersiële vlugte bo die Suid-Soedanese lugruim verbied is weens die gevaar daaraan verbonde.

Indien die SAL ’n roete oor Suid-Soedan sou hê, sou hy nie versekering vir dié vliegtuie kon kry nie. Myeni het glo hierop geantwoord dit is nie ’n probleem nie omdat die regering bereid is om te betaal.

Mpshe het getuig Myeni het ook opdrag gegee dat die SAL vlugte tussen Kaapstad en Durban moes instel, want politici wat op dié roete vlieg is nie tevrede met wat die laekostelugdiens Mango aan sy passasiers bied nie. Hulle wou sakeklas-luukses hê, nie die gewone sitplekke van Mango nie.

Myeni het Bosc beveel om die roete in te stel, maar Bosc het sy huiswerk gedoen en gesê dit is nie ekonomies haalbaar nie. Bosc het hom hiermee Myeni se gramskap op die hals gehaal.

Hy is kort hierna eers geskors en toe op spesiale verlof geplaas. Hy het uiteindelik 16 maande by die huis gebly waartydens hy probeer het om sy werk terug te kry. Uiteindelik het hy met die SAL ooreengekom hy sal bedank solank die SAL die regskoste dra van sy hofaansoeke om sy werk terug te kry.

Haar taak was om die SAL se strategie in werking te stel, maar dit was nie wat die direksie wou doen nie.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het Mpshe gevra wat haar mening was oor dit alles wat in haar termyn as waarnemende hoof so voor haar ontvou het.

“Dit was ’n nagmerrie,” het Mpshe gesê.

Haar taak was om die SAL se strategie in werking te stel, maar dit was nie wat die direksie wou doen nie.

Zondo het gevra wat die impak van die opdragte oor onder meer hoe tenders toegeken moes word op die SAL-leierskap was.

Mpshe het geantwoord die bestuur was negatief en hul moreel was laag. Dit is nie wat hulle as uitvoerende bestuurslede veronderstel was om te doen nie. Hulle wou nie die heeltyd teen onwettige besluite moes terugbaklei nie.

Die uitvoerende bestuur moes die helfte van die tyd teen die direksie terugveg, het Mpshe getuig.

Sy het ook getuig die SAL-direksie het van haar magte as uitvoerende hoof weggeneem en toenemend self by die dag-tot-dag-bestuur van die lugdiens betrokke geraak.

Die uitvoerende hoof van die SAL het vantevore die mag gehad om betalings van tot R100 miljoen goed te keur. Die SAL-direksie het dit tot R50 miljoen verminder en besluit dat alle bedrae bo R50 miljoen deur die direksie self goedgekeur moes word.

Die sitting duur Dinsdag voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.