Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma: ‘Zondo kan nie vir 2 j. tronkstraf vra nie, misbruik sy mag’

Adjunkhoofregter Raymond Zondo “misbruik” sy mag as die tweede mees senior regter in Suid-Afrika teen oudpres. Jacob Zuma.

Zuma se Jacob G. Zuma-stigting het Maandag weer eens só na Zondo gekap in ’n sterk bewoorde verklaring waarin die oudstaatshoof sy volgehoue aanval op Zondo, die kommissie en die regbank oor die algemeen, voortgesit het.

Dít kom nadat die kommissie die konstitusionele hof verlede week in ’n aansoek gevra het om Zuma aan minagting van ’n konstitusionele hofbevel skuldig te bevind en hom twee jaar direkte tronkstraf daarvoor op te lê.

Dis gedoen omdat Zuma tans ondanks die konstitusionele hofbevel, sowel as verskeie dagvaardings van die kommissie, volstrek weier om te getuig voor die kommissie oor sy beweerde aandeel in staatskaping, waarby sowat 40 getuies hom tot dusver al geïmpliseer het.

Oudpres. Jacob Zuma op 19 November verlede jaar by die sitting van die Zondo-kommissie in Johannesburg. Foto: Melinda Stuurman

Die Jacob G. Zuma-stigting, waarvan Zuma die stigter en beskermheer is, het Maandag verder in sy verklaring gesê die “desperaatheid” van Zondo, “wat sy pos as die tweede mees senior regter in die konstitusionele hof misbruik deur sy afgevaardigdes opdrag te gee om die landswette te verbreek, is ongekend.

“Hy ignoreer prosesse en jurisdiksies soos voorgeskryf deur die wet net om te verseker dat die ‘Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping’ oudpres. Zuma skuldig bevind en hom deur alles moontlik aan sy versteekte meesters te lewer.”

Die stigting voer verder aan die 1947-wet skryf tronkstraf van ses maande voor vir minagting van die hof of ’n boete van “55 pond” en “nie die twee jaar tronkstraf wat die eerbare regter, wat alleen die voorsitter van die kommissie is, voorstel nie.

“Die Meester het egter opdrag gegee. Dit is duidelik dat wette verander word om oudpres. Zuma te straf, soos wat die apartheidsregering die Sobukwe-wette geskep het om (Robert) Sobukwe (anti-apartheidstrydros en PAC-stigter destyds) te straf. Dit klink inderdaad soos ’n ou apartheidsregime in die hande van die swart leiers in die demokratiese Suid-Afrika.” 

Zuma se “ongegronde” aanvalle op Zondo en die regsbank is die afgelope ruk egter sterk veroordeel deur pres. Cyril Ramaphosa, sowel as Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste.

*Volg Netwerk24 vir meer oor die berig.

Meer oor:  Staatskaping  |  Politiek  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.