Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zwane dreig hoë amptenaar glo met armoede, hoor Zondo

Mosebenzi Zwane het in sy tyd as LUR vir menslike nedersettings in die Vrystaat die hoof van dié departement na bewering gedreig dat hy sal moet bedank en dat hy dan ’n arm man gaan wees wie se kinders nie sal kan skoolgaan nie, indien hy nie met Zwane oor sy planne saamstem nie.

Mpho Moses Mokoena, wat van Julie 2009 tot Desember 2011 hoof van die departement van menslike nedersettings in die Vrystaat was, het Dinsdagmiddag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping aangevoer Zwane het hom op dié manier gedreig.

Mpho Moses Mokoena getuig Dinsdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Volgens Mokoena het hy nie saamgestem met ’n plan van Zwane dat hulle aan die einde van die 2010-’11-boekjaar honderdmiljoene rand binne minder as vyf maande aan kontrakteurs en verskaffers vir behuisingsprojekte moet bestee nie. Agt maande van die boekjaar was reeds verby en die departement het skaars 10% van sy begroting bestee – met nie ’n enkele huis wat voltooi is nie.

Tokyo Sexwale, in daardie stadium nasionale minister van menslike nedersettings, het gedreig dat provinsies wat nie hul begrotings vir behuising behoorlik bestee nie, die nasionale toedeling daarvoor sal verloor en dit dan aan provinsies gegee sal word wat wel sukses het met hul behuisingsplanne.

Volgens Mokoena het hy op ’n spesiale vergadering wat Zwane in November 2010 gehou het om sy plan bekend te stel, gewaarsku die plan is onwettig. Mokoena het ná die vergadering gevra of hy privaat met Zwane kan praat en hy het herhaal die plan is onwettig.

“Hy het gesê dit is sy plan, ons gaan dit deurvoer. As jy nie saamstem nie, kan jy bedank. Jy sal op straat wees. Jy sal arm wees en jou kinders sal nie skoolgaan nie. Jy sal soos stof wees. Jy sal nie skoene hê om mee te loop nie,” het Mokoena getuig.

’n Dokument is op 25 November 2010 na Mokoena in sy kantoor gebring en hy moes dit onderteken. Hy het geweier en het kort daarna ’n oproep gekry dat hy na Zwane se kantoor ontbied is. Daar het Zwane herhaal dat Mokoena moet bedank as hy nie met die plan saamstem nie. Hy het toe die dokument onderteken, volgens Mokoena.

Hy het gesê dit is sy plan, ons gaan dit deurvoer. As jy nie saamstem nie, kan jy bedank. Jy sal op straat wees. Jy sal arm wees en jou kinders sal nie skoolgaan nie. Jy sal soos stof wees. Jy sal nie skoene hê om mee te loop nie.

Adv. Paul Pretorius SC, hoofgetuienisleier van die kommissie, het aan Mokoena uitgewys daar was ’n bouersvakansie wat op 15 Desember sou begin. Slegs vier maande was oor om die huise te bou, waarvan drie weke sou wees wanneer bouers hul jaarlikse verlof sou neem. En in daardie stadium is daar steeds geen huise gebou nie.

Mokoena het geantwoord dit is korrek.

’n Week later het Zwane ’n lys met 106 name van kontrakteurs aan Mokoena gegee. Die aantal huise wat elke kontrakteur sou moes bou, was ook reeds aangedui. Mokoena het sowat 40 van die name nie herken as kontrakteurs wat reeds werk vir die provinsie gedoen het nie. Hy het die lys bevraagteken en Zwane het geantwoord dit is sy lys. Daar is ook druk op hom uitgeoefen om betalings aan sekere van die kontrakteurs deurgevoer te kry, volgens Mokoena.

Uiteindelik is daar R500 miljoen tussen November 2010 en Februarie 2011 aan die kontrakteurs en verskaffers betaal.

Hoewel hierdie soort betaling volgens tesourie-regulasies eers gedoen mag word nadat huise klaar gebou is, was daar in dié stadium nie ’n enkele huis voltooi nie.

Mokoena getuig Woensdag verder.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Mosebenzi Zwane  |  Dreig  |  Getuienis  |  Amptenare
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.