Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zwane 'toevallig' saam met ‘Gupta-koor’ op vlug na Indië

’n Vrystaatse koor waarvan Mosebenzi Zwane, oudminister van minerale bronne, ’n stigterslid was, was toevallig op dieselfde vlug as hy na Indië en het sonder sy wete ’n middagete by Tony Gupta se huis in dié land gehad.

Dit is ook toevallig dat Zwane se rekenaar en gmail-adres gebruik is om die reëlings te tref vir die koor se besoek aan Indië.

En die feit dat die Guptas deur hul Sahara-maatskappy die koste van die 24 koorlede se besoek aan Indië betaal het, het niks met Zwane of die Estina-suiwelprojek te doen nie.

Mosebenzi Zwane, oudminister van minerale bronne en voormalige LUR vir landbou in die Vrystaat, getuig Donderdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

So het Zwane Donderdag in sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping op vrae geantwoord oor die bewering dat die Guptas die koor se besoek aan Indië as ’n geskenk geborg het nadat die Estina-projek goedgekeur is.

Die kommissie het reeds getuienis aangehoor dat die Estina-projek geskep is met slegs een doel – om dit as ’n werktuig te gebruik vir die Guptas se grootskaalse internasionale geldwassery van honderdmiljoene rande.

Zwane het Donderdag ’n nuwe beëdigde verklaring by die kommissie ingedien waarin hy erken dat hy sedert sy vorige getuienis voor die kommissie besef het hy was op dieselfde vlug as die koor, hoewel hy in ’n vorige verklaring gesê het hy was reeds in Indië toe die koor daar aankom.

Zwane se besoek aan Indië in Oktober 2012, in die tyd toe hy die LUR vir landbou in die Vrystaat was, is deur die kantoor van Ace Magashule, destydse premier van die Vrystaat, goedgekeur.

Wanneer ’n mens in ’n vliegtuig na Indië of China vlieg, is daar ander mense op die vliegtuig. Daar is mense wat van Suid-Afrika is.

Volgens Zwane het hy afsprake gehad in Indië en sy besoek is deur die Vrystaatse regering betaal. Terwyl sy besoek gereël is, het hy besef die koor, Umsingizane, gaan ook in dié tyd in Indië wees. Dit was buite sy beheer dat hulle op dieselfde vlug na Indië was, het hy getuig.

Hy ontken dat dit “sy koor” is en hou vol dat hy slegs by die stigting daarvan betrokke was.

“Wanneer ’n mens in ’n vliegtuig na Indië of China vlieg, is daar ander mense op die vliegtuig. Daar is mense wat van Suid-Afrika is,” volgens Zwane.

Vir hom is die kern van die saak dat sy besoek aan Indië nié deur die Guptas betaal is nie.

Dit blyk uit die omvang van die getuienis dat jy die skakel is tussen die koor, mnr. Tony Gupta en/of Sahara-rekenaars.

Adv. Pule Seleka SC, getuienisleier van die kommissie, het dit aan Zwane gestel dat hy die Guptas reeds sedert 2010 geken het. Hy het aan Zwane gevra indien die koor ’n middagete by die Gupta-huis in Indië gehad het, hoe het hulle geweet van Tony Gupta en hoe het dit gekom dat hulle by hom aan huis gaan eet het?

Daar is van Zwane se rekenaar en van sy e-posadres af inligting deurgegee oor die koorlede se verblyfreëlings in Indië. “Dit blyk uit die omvang van die getuienis dat jy die skakel is tussen die koor, mnr. Tony Gupta en/of Sahara-rekenaars,” het Seleka dit aan Zwane gestel.

Zwane het hierop geantwoord hy het reeds voorheen getuig dat hy sy rekenaar geleen het aan ’n lid van die koor wat ’n e-pos wou stuur. Hy was nie bewus van die inhoud van die e-pos nie. Hy ontken dat hy die skakel was wat die koor se reëlings getref het. Hy sê die koor tref sy eie reëlings.

Zondo het aan Zwane gevra of hy sê dit is net toeval dat die besonderhede van hul besoek aan Indië ooreenstem, of sê hy dit is beplan dat hulle saam sou gaan, maar dat Zwane se koste deur die Vrystaatse regering betaal is en hy weet nie wie vir die koor betaal het nie?

Zwane het geantwoord hy het in die middel van die proses om die reëlings te tref vir sy besoek, uitgevind die koor gaan in dieselfde tydperk na Indië. Hy het aangedui dat hy dalk een of twee van die koor se uitvoerings daar sou bywoon.

Zondo het dit hierop aan Zwane gestel dit beantwoord nie sy vraag nie. Is dit toevallig of beplan dat hulle op dieselfde vlug sou wees? Hierop het Zwane geantwoord dit was nie van sy kant af (beplan) nie.

Zondo: “So aan jou kant was dit toevallig?”

Zwane: “Ek sal so sê.”

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Mosebenzi Zwane  |  Indië  |  Koor  |  Vlug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.