Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zwane se ‘private mag val mense aan’, hoor Zondo

’n “Private mag” van oudminister Mosebenzi Zwane op Vrede in die Vrystaat het glo verskeie teenstanders en fluitjieblasers van die omstrede Estina-suiwelprojek daar fisiek aangerand.

Doctor Radebe, gewese DA-raadslid en glo self ’n slagoffer, het Donderdag die bestaan van dié beweerde aanvalsbende in sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping onthul.

Mosebenzi Zwane
Mosebenzi Zwane Foto: Daily Sun

Radebe het ook aan adjunkhoofregter Raymond Zondo, kommissie-voorsitter, gesê dat hy en ander fluitjieblasers van dié Gupta-verwante suiwelprojek beskerm moet word omdat hulle steeds geteister word en vir hul lewe vrees.

Hy het getuig drie mense is al weens hul bande met die projek vermoor.

Zondo is Woensdag ingelig dat kennisgewings reeds aan Zwane, sowel as aan Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal en oudpremier van die Vrystaat, en ander geïmpliseerdes gestuur is om oor hul weergawe van die projek voor die kommissie te getuig.

Radebe, ’n opkomende boer van Vrede, het getuig hoe Zwane, toe Vrystaatse LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, en ’n groep mense op 19 Junie 2012 ’n gewone raadsvergadering van die Phumelele-munisipaliteit op Vrede “gekaap” het en hoe Zwane daartydens voorgestel het dat die munisipaliteit die 4 400 hektaar grond vir die suiwelprojek aan die provinsiale regering verhuur.

Peter Thabete, destyds die departementshoof van landbou in die Vrystaat, het ’n mondelingse voorlegging voor raadslede, van wie Radebe een was, gedoen. Dít het meer gehandel oor hoe die departement glo R400 miljoen oor drie jaar in die projek sou pomp, en Estina en die Indiese melkreus Paras R500 miljoen, het Radebe getuig.

“Dit het vir my egter soos ’n bedrogspul geklink omdat hulle geen studie oor lewensvatbaarheid, ’n sakeplan of begroting ter ondersteuning daarvan aangebied het nie. Hulle het net syfers rondgegooi.”

Volgens Radebe het sy waarskuwings daarteen egter op dowe ore geval omdat die ANC-raadslede onder leiding van die burgemeester, wat “soos Zwane se broer was”, die voorstel op die volgende raadsvergadering goedgekeur het.

Willie Basson, ’n sakeman van Vrede wat destyds konstruksiewerk vir die suiwelprojek gedoen het, se getuienis word Vrydag voor die kommissie voortgesit. Sy getuienis is Donderdag uitgestel ná kommer oor die akkuraatheid van ’n tolk se vertolking van sy getuienis van Afrikaans na Engels.

Radebe het getuig dit was hy wat in 2014 die media en regering ingelig het van 45 melkkoeie wat “soos vlieë weens hongerte” op die melkplaas gevrek het, en hul karkasse wat langs ’n drinkwaterstroom vir inwoners van Vrede op die plaas gestort is. Hy meen talle ander koeie het daarna ook gevrek.

“Nadat die mediadekking selfs die parlement se aandag getrek het, het die mense van Vrede gewelddadig en woedend teenoor my geword.

“ ’n Groep mense het my aangeval wat ek glo Zwane se private mag was.”

Volgens hom was sy aanvallers deel van vyf “vriende” wat “onregmatig” in die provinsiale departement van landbou se Vrede-kantoor aangestel is nadat Zwane destyds LUR geword het.

Radebe sê hy is in die aanval ook met pepersproei in die gesig gespuit.

“Hulle het daartydens gesê ek verhinder die ANC om sy werk te doen en dat die ANC groter as ek is.

“Ek is doodseker ek is oor Estina aangeval.”

Radebe sê drie ander fluitjieblasers is ook deur dieselfde groep aangeval. Dit is alles destyds by die polisie aangemeld, maar niks het daarvan gekom nie.

Hy het ook getuig hoe die polisie later in 2014 vyf keer op sy motor in Vrede geskiet het.

Zondo het opdrag gegee dat ondersoek ingestel moet word waarom die polisie nooit bogenoemde bewerings ondersoek het nie.

Willie Basson, ’n sakeman van Vrede wat destyds konstruksiewerk vir die suiwelprojek gedoen het, se getuienis word Vrydag voor die kommissie voortgesit. Sy getuienis is Donderdag uitgestel ná kommer oor die akkuraatheid van ’n tolk se vertolking van sy getuienis van Afrikaans na Engels.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.