Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zwane ‘strategies deur Ace geplaas’
Mosebenzi Zwane toe hy nasionale minister van minerale bronne was. Foto: Argiewe

Mosebenzi Zwane, voormalige Vrystaatse LUR vir behuising, is vermoedelik strategies deur Ace Magashule, voormalige premier, by staatskapingsprojekte geplaas.

So sê prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom.

Dit volg nadat Zwane Vrydag voor die Zondo-kommissie getuig het dat Magashule opdrag gegee het dat tenderprosesse aangepas moet word in ’n behuisingsprojek ter waarde van R1,4 miljard.

Wouter Wessels, VF Plus-LP. Foto: Mlungisi Louw

Duvenhage sê dit blyk ook uit Zwane se destydse pos as minister van minerale bronne, dat hy deel was van die web van oudpres. Jacob Zuma en dié met Gupta-konneksies.

In sy getuienis Vrydag het Zwane die meeste van die blaam vir die mislukte behuisingsprojek voor die deur gelê van Mpho Mokoena, destydse hoof van die behuisingsdepartement, en ander amptenare.

Zwane het getuig dat Mokoena, as hoof van die departement, en Seipati Dlamini, die finansiële hoof, instrumenteel was in die opstel van ’n databasis vanwaar werk toegeken is sonder dat die normale tenderprosesse gevolg sou word. Hy het self nie iets daarmee verkeerd gesien nie omdat hulle glo vir hom gesê het dat werk in die verlede ook só toegeken is.

“Mokoena het vir my gesê dat ander voormalige LUR’e van die departement ook bewus is van die prosesse. Dat dit geen probleem sou wees nie.

“Ek het ook die premier en sy kabinet hieroor ingelig en hulle het geen probleem hiermee gehad nie.”

Regter Zondo het die bepalings van die Behuisingswet aan Zwane voorgelees. Zwane het getuig dat hy nie vertroud was met die inhoud van die wet nie.

Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier en nou sekretaris-generaal (SG) van die ANC. Foto: Argiewe
Zwane se getuienis is ook ’n bewys dat Magashule LUR’e aangestel het wat glad nie bevoeg was om hul werk te verrig nie en dat hulle self nou erken dat hulle geen kennis gedra het van basiese prosedures wat gevolg moes word nie.

Duvenhage sê dat die behuisingsprojek in Gangster State, die boek van die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh, uitgelig word as die grootste beweerde staatskapingsprojek in die Vrystaat.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê ’n eienskap van die Vrystaatse politici is dat waar daar bewerings van korrupsie of misdaad is, hulle weier om verantwoordelikheid te aanvaar en die amptenare al die skuld gee.

“Zwane se getuienis is ook ’n bewys dat Magashule LUR’e aangestel het wat glad nie bevoeg was om hul werk te verrig nie en dat hulle self nou erken dat hulle geen kennis gedra het van basiese prosedures wat gevolg moes word nie.”

Dr. Roy Jankielsohn, DA-wetgewerlid en leier van die amptelike opposisie. Foto: Argiewe

Jankielsohn sê Sisi Ntombela, die huidige Vrystaatse premier, moet ook verantwoordelikheid aanvaar aangesien sy al geruime tyd die premier is en ook voorheen ’n LUR van die departement behuising.

“Ntombela was LUR van die departement onder die Magashule-administrasie en het niks gedoen om die bewerings te ondersoek nie.”

Jankielsohn sê die grootskaalse staatskaping in die Vrystaat is ook ’n gevolg daarvan dat Magashule sy ANC-kaders in die wetgewer geplaas het om hul meerderheidstem te verkry gedurende wetgewer- en komiteesittings sodat die wetgewer bloot net ’n verlengstuk kon word van dit wat die uitvoerende gesag gemaak het.

“Dit maak ons as Vrystaters skaam om te sien hoe ons provinsiale senior amptenare en politici van ons regering ’n groot deel van die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping uitmaak.”

Wouter Wessels, LP van die VF Plus, sê uit die getuienis voor die Zondo-kommissie is dit duidelik dat die beweerde korrupsie en staatskaping buite beheer in die Vrystaat was en steeds is.

“Wat vir my uitstaan, is dat Zwane nie geweet het watter wet sy portefeulje beheer nie en steeds nog nooit daardie wet gelees het nie. Dit is uiters onaanvaarbaar.

“Dit wys dat politieke leiers van die ANC nie aanspreeklikheid aanvaar vir hul portefeuljes nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.