Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Prasa betaal glo R40 m. te veel
Lucky Montana Foto: Alet Pretorius

PRETORIA. – Die departement van vervoer verwag antwoorde van Prasa nadat dit aan die lig gekom het hy het blykbaar R40 miljoen meer as die voorgeskrewe bedrag aan die bemagtigingsmaatskappy Swifambo Rail Leasing betaal.

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) het in 2013 ’n kontrak aan Swifambo, ’n plaaslike maatskappy, toegeken om 70 lokomotiewe by Vossloh España aan te koop.

Lees ook: 6 Prasa-hoës beky​k oor tenders

Soos in die kontrak gestipuleer word, het Prasa 15% van die kontrakprys in 2013 in twee paaiemente aan Swifambo betaal.

Daarna moes twee opvolgbetalings van 10% elk binne die volgende 12 maande gemaak word.

Business Day berig egter die eerste van dié betalings was 11,2% – dus sowat R40 miljoen meer as die gestipuleerde prys.

Volgens Business Day het Tholo Dikobe, Prasa se waarnemende tegniese hoofbestuurder, in ’n brief aan Lucky Montana, Prasa se uitvoerende groephoof, gesê die betaling gaan 11,2% beloop.

Dikobe het nie in sy brief ’n verduideliking verskaf nie.

Tiyani Rikhotso, woordvoeder van die departement van vervoer, het aan Die Burger gesê hulle wag vir Prasa se raad om “groter duidelikheid” oor die ekstra betaling te verskaf. Behalwe vir dié “optelfout” het Prasa hom klaarblyklik ook misgis met die skerp daling in die rand se waarde sedert 2013. Dus moet hy in plaas van R3,5 miljard nou meer as R4,8 miljard aan Swifambo opdok.

Lees ook:

Rapport-ekskl​usief: Só wou Prasa treine krimp

Op Prasa se ​spoor ...

Prasa se ​neus word ál langer

Die ouditeur-generaal het verlede jaar bevind Prasa het sy eie tenderregulasies oortree toe hy die kontrak aan Swifambo toegeken het. Swifambo het sy prestasieverband eers vier maande nadat die kontrak onderteken is, betaal. Volgens Prasa se eie beleid moet dié verband betaal word voor die kontrak geteken word. Teen die tyd dat Swifambo die verband betaal het, het Prasa reeds die deposito vir die lokomotiewe betaal. Rapport het berig Prasa is gewaarsku die Afro 4000-lokomotiewe is nie geskik vir plaaslike spoorlyne nie omdat hulle te hoog is.

Moffet Mofokeng, Prasa se woordvoerder, het nie op navrae om kommentaar gereageer nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.