Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Presidensie vereer lede van San-gemeenskap
Wyle Dawid Kruiper
Ouma Katrigwa (Katrina) Esau

UPINGTON. – Twee lede van die !Khomani-san-gemeenskap, Dawid Kruiper en Katrigwa (Katrina) Esau, sal op Vryheidsdag 27 April deur die presidensie met die hoogste orde vereer word.

Die nasionale ordes is die hoogste eer waarmee die land sy burgers – en vooraanstaande buitelandse burgers – vereer, wat bygedra het tot die bevordering van demokrasie en wat ook ’n beduidende impak op die verbetering van die lewe van Suid-Afrikaners gemaak het.

Die nasionale ordes erken die bydraes wat deur individue gemaak is tot die bou van ’n nie-rassige, nie-seksistiese, demokratiese en welvarende Suid-Afrika.

Vanjaar is die 20ste inhuldigingseremonie sedert die aanvang van die nuwe nasionale orde-stelsel.

Dawid Kruiper, ontslape leier van die !Khomani-san wat in Junie 2012 oorlede is, ontvang die Orde van die Kremetart (silwer) vir sy “uitstekende bydrae om bewustheid vir moeilike omstandighede wat deur die Khoisan-gemeenskap beleef word te bewerkstellig en dat hy ’n suksesvolle grondeis vir sy mense van stapel gestuur het”.

Katrigwa (Katrina) Esau van Upington ontvang ook die Orde van die Kremetart (silwer) vir haar werk om die N/u-taal van uitsterwing te probeer red. “Haar doelgerigtheid om die projek suksesvol te maak het jonger generasies gedryf om weer te leer,” lui ’n verklaring deur die presidensie.

Die Orde van die Kremetart erken Suid-Afrikaanse burgers wat met gemeenskapsdiens, besigheid en ekonomie, wetenskap, medies en tegnologiese innovasie bydraes gelewer het.

Ou Let Kruiper, die oudste dogter van Dawid Kruiper, het gister uit Askham gesê sy en Oupa Jan Pietersen sal die geleentheid bywoon om die orde in ontvangs te neem.

“Dit was nogals ’n groot blydskap gewees toe ons hoor. Ons is vol glimlagte vandag,” sê sy.

“Hy word nou uiteindelik erken vir al die werk wat hy gedoen het vir ons. Uiteindelik kry hy nou die erkenning waarvoor hy gewag het, die erkenning van onse mense en dis ’n groot eer.”

• Die veteraan-aktrise Sandra Prinsloo tel vanjaar onder die benoemdes vir die nasionale ordes.

Prinsloo kry saam met die Olimpiese swemmer Cameron van der Burgh en die Paralimpiese atleet Fanie van der Merwe die orde van Ikhamanga (silwer) vir hul uitmuntende bydraes in die kunste en sport.

Prinsloo word ook vereer dat sy ’n standpunt teen rassisme ingeneem het.

Caster Semenya ontvang die brons vir dieselfde orde.

Raymond Ackerman, hoof van Pick n Pay, sal vereer word vir sy bydrae om die lewe van Suid-Afrikaners te verbeter deur beurse aan jong mense te bied en die handelaar se maatskaplike verantwoordelikheidsprogramme. Hy sal die orde van die Kremetart (silwer) ontvang.

Frances Baard en so ook Ruth First kry die orde van Luthuli (goud), postuum.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.