Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Promosie
Dwaalster geanker in ware gebeure
Hoe kleiner die dorpie, hoe vreemder en meer eksentriek is die karakters wat daar bly. Dis presies só in Maanhaarsdrif, ’n piepklein dorpie in die Karoo waar die plaaslike dramareeks Dwaalster afspeel.
Dwaalster

Maanhaarsdrif is die soort plek waardeur jy ry wanneer jy saam met jou gesin met vakansie is en julle móét deur die Klein Karoo om by jul bestemming uit te kom. Daar is gewoonlik ’n padstal wat gedroogte vrugte, volstruisveerprodukte en “die beste wildsbiltong in die distrik” verkoop. Dis ook die soort dorpie waar jy omtrent ál die inwoners op ’n Vrydagmiddag in die plaaslike kroeg sal vind, want dit is dié plek om te wees.

So hoekom is mense eintlik op dié plekkie? Want daar is ’n reusagtige sterrewag en ’n ruimteteleskoop op die buitewyke van die dorp wat toeriste uit alle oorde lok. Dwaalster is in die waarheid geanker, vertel die skepper van dié reeks, Nicola Hanekom. “Die idee vir Dwaalster het omtrent 15 jaar gelede ontstaan toe ek deur die Hoeko-valley in Ladismith aan die verre westelike gedeelte van die Klein Karoo gereis het. Stories vol towerkrag en misterie is deel van die omgewing en ek het gedink dit kan ’n aangrypende tema wees vir ’n dramareeks.”

Vinnige feit: die MeerKAT-radioteleskoop met sy 64 antennas in die Karoo is een van die wêreld se grootste en belangrikste teleskope en sal na verwagting gebruik word in grondverskuiwende navorsing oor die heelal. 

Dwaalster

Die karakters is die hárt van dié reeks. Hulle is almal op een of ander manier gegrond op iemand wat Hanekom ken en kykers sal self mense wat hulle ken in die reeks herken. Die temas wat in die storielyn vervleg is, is bekend – selfs vir stadsjapies – maar alles gebeur in die oortreffende trap en lyk snaakser omdat dit in ’n klein dorpie tussen lewensgetroue karakters afspeel.

Onderliggende temas sluit in sosiale integrasie, homoseksualiteit en verbode liefde, verhoudings oor die kleurgrens en selfs die omstrede hidroliese brekingsbedryf waarin daar gesoek word na skaliegas, wat tot onlangs in die nuus was. En moenie die spoke uit die verlede vergeet wat verskeie mense in Maanhaarsdrif treiter nie. Hier is ’n paar karakters uit die reeks:

Frans Loots (Albert Maritz)

Hy is ’n wewenaar en afgetrede skoolhoof wat lief is daarvoor om minigholf te speel en rugby te kyk. Hy dra omtrent altyd sy Blou Bul-rugbytrui en sy hoed met Blou Bul-horings. Maar moet vir geen oomblik dink hy is macho nie – hy sing ook opera, hoewel hy eers ’n paar biere voor die tyd moet drink om moed te skep. Sy beste vriend is ook sy grootste rugbyvyand: Ivy, burgemeester van Maanhaarsdrif en toegewyde Stormers-ondersteuner.Jy sal Maritz herken vir sy rol as die eksentrieke Bertho Lopez in die dramareeks Vallei van die sluiers. (Kyk hier daarna op Showmax.)

Ivy van Graan (June van Merch)

Burgemeester Ivy regeer Maanhaarsdrif met ’n ysterhand, maar sy het ’n goeie hart en is superlojaal. Moet haar egter nie verkeerd opvryf nie – jy gaan tweede kom, nes Frans wat gereeld sy sorge moet verdrink wanneer Ivy die Stormers se jongste oorwinning vier. Ivy het ook haar geheime en raak af en toe ontstem wanneer sy haar toekoms in teeblare laat lees.Van Merch is die bekendste vir haar spel as die sterk hoofkarakter Sara in die dramareeks Sara se geheim. (Stroom seisoen 1 en 2 hier op Showmax.)

Annabel Loots (Tinarie Van Wyk Loots)

Annabel is Frans se dogter: ’n gedrewe en hardwerkende ondersoekende joernalis wat huis toe kom nadat sy ’n gróót storie in die stad gebreek het. Sy is ook nie die enigste een wat terugkeer huis toe nie. Haar voormalige kêrel, Stian (Jacques Bessinger) is ook terug op Maanhaarsdrif. Hy is ’n dokter wat sy oorlede pa se praktyk op die dorp oorgeneem het. Terwyl sy haar hartsake moet uitsorteer en in Maanhaarsdrif se verlede grawe, moet Annabel ook vir Lettie (Joanie Combrink) in die oë leer kyk. Lettie blameer vir Annabel vir haar seun se dood. Dis moeilik! Jy sal Loots ook as die taai regsgeleerde Lara Kruger herken in die gewilde regsdrama Fynskrif. (Dis hier op Showmax.)

Ragel-Lee Loots (Erica Wessels)

Die lang arm van die gereg op die dorp is ’n vrou en sy hou ’n oog op sake . . . letterlik. Ragel-Lee met haar oogklap hou die misdadigers in die tronk en die verkeer kalm. Sy is Annabel se suster en is nougeset in die uitvoering van haar take. Sy is die dorp se morele kompas en ’n steunpilaar vir haar pa, Frans. En tog is sy sosiaal effens ongemaklik – dink aan Big Bang Theory se Sheldon, maar net met ’n oogklap en in ’n rok. Wessels het ’n ellelange CV en is ’n veteraan in die bedryf. Sy was onder meer te sien as agent Hoop Beneke in die polisiereeks Vloeksteen. (Stroom seisoen 1 hier op Showmax.)

Gina Devine (Tarryn Wyngaard)

Gina is die dowe kelnerin op die rolskaatse in Maanhaarsdrif se plaaslike hotelrestaurant, Die Piering. Sy is ’n voormalige motorfietsmeisie wat haar ysterperdbende verlaat het toe hulle op ‘n dag in Maanhaarsdrif gestop het. Sy het net daar besluit om agter te bly, ondanks haar voormalige kêrel, Charles (Albert Pretorius) se gereelde besoeke. Charles is gek oor astrologie en probeer kliphard om Gina se hart terug te wen. Wyngaard is ’n nuweling op die toneel en het spesiaal vir die rol van Gina geleer om gebaretaal te bemeester. Sy is ook te sien as Ilke Bastiaan in die gewilde reeks Arendsvlei, waarvan episodes hier van kykNET af verkry word. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier