Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Promosie
Grondhonger vs. grondvrees
Wat keer dat Suid-Afrika dieselfde paadjie as Zimbabwe stap, sou grondonteiening sonder vergoeding ook hier gedoen word?

Laurika Rauch sing oor “Blouberg se strand”, Koos Kombuis raak meegevoer deur “Lente in die Boland” en Emo Adams sê: “Welcome to Cape Town.” Grond en plek is onlosmaaklik verweef met identiteit, dié dat die kwessie van grondonteiening al jare lank vuurwarm debatte afgee.

Dit lyk of dinge by kookpunt kan draai nadat ’n parlementêre komitee vroeër vanjaar aangestel is om aanbevelings oor die moontlike wysiging van die Grondwet te maak wat die weg vir onteiening sonder vergoeding sal baan.

“Dis beslis ’n emosionele en politiek gelaaide debat,” sê Annelize Crosby, hoof van grondsake by Agri SA. Maar daar is ook talle vooraanstaande regsgeleerdes en hooggeplaaste politici wat die storie rasioneel en van alle kante bekyk, meen sy.

Loop stadig oor dié kole, maan prof. Ruth Hall van die Instituut vir armoede-, grond- en landboustudies (Plaas). “Dit gaan nog ’n lang proses wees. Ons kan in die volgende jaar of selfs langer verskeie hofsake en debatte verwag en alles sal binne die beperkings van die Handves vir Menseregte moet geskied. Grondonteiening, en die wette daaroor, is beslis nie iets wat oornag kan of sal verander nie.

“Intussen is dit belangrik dat mense hulself inlig, die saak van alle kante bekyk en nie oorhaastige gevolgtrekkings maak of besluite neem nie.”

Die storie tot dusver

Die oorspronklike tyd om grondeise in te dien het in 1998 verstryk, maar die ANC het dit in 2014 heropen omdat sy berekeninge gewys het meer grond is destyds “afgevat” as waarvoor geëis is. Sedertdien het verskeie hofsake, maar ook wanbesteding en korrupsie die proses vertraag – in so ’n mate dat daar al byna 20 jaar ’n agterstand van tienduisende onafgehandelde grondeise is, toon Plaas se navorsing.

Dis dié dat onteiening die laaste ruk weer in die kollig is en daar is ’n behoefte om dit te vergemaklik en te bespoedig. Dit het tot die aanstelling van die hersieningskomitee gelei.

Ruth sê die Grondwet maak al sedert 1996 voorsiening vir onteiening sonder vergoeding – mits dit as regverdig en billik bewys kan word. Dit word nie as sulks omskryf nie, maar grond kan in buitengewone gevalle “sonder vergoeding” afgeneem word.

Annelize sê “regverdige en billike vergoeding”, soos dit in die Grondwet staan, is afhanklik van ’n rits faktore. Dit sluit in markwaarde, die doel van die onteiening, die geskiedenis van die verkryging van die grond en enige staatsubsidies wat gebruik is in die koop en ontwikkeling van die eiendom. Die grond word waardeer en ’n aanbod deur die staat gemaak. Die eienaar kan ’n teenaanbod maak. As daar ’n dispuut is, moet die howe oor die regverdige en billike vergoeding besluit.

“Slegs in ekstreme gevalle, waar ander relevante faktore swaarder as markwaarde weeg, is ’n nulvergoeding dus moontlik,” voeg Annelize by. “Daar is ook ’n verskil tussen onteiening en ontneming. Ontneming gaan oor die regulering van die gebruik van jou eiendom in die openbare belang. Daar is nie noodwendig vergoeding betaalbaar wanneer jou eiendomsgebruik op billike wyse gereguleer en beperk word nie.”

Wat gebeur nou?

Dr. John Purchase, uitvoerende direkteur van die landbousakekamer Agbiz, sê sedert die aanstelling van die hersieningskomitee is daar baie onsekerheid oor of die Grondwet gewysig sal word, hoe onteiening sonder vergoeding sal werk en presies wat die wetlike prosesse sal behels. 

Daar is beslis ’n kans dat die Grondwet verander kan word,” voeg hy by, “maar dit sal waarskynlik onderhewig wees aan ’n reeks voorwaardes. Daar is ook die moontlikheid dat die Grondwet nie sal verander nie, maar eerder die Onteieningswet wat nou in die parlement dien, maar weer onderhewig aan ’n klomp voorwaardes

“Daar is beslis ’n kans dat die Grondwet verander kan word,” voeg hy by, “maar dit sal waarskynlik onderhewig wees aan ’n reeks voorwaardes. Daar is ook die moontlikheid dat die Grondwet nie sal verander nie, maar eerder die Onteieningswet wat nou in die parlement dien, maar weer onderhewig aan ’n klomp voorwaardes”.

In albei gevalle, sê hy, mag grond nie sonder meer by private eienaars afgeneem word nie – selfs al word die Grondwet gewysig. “Dit sal steeds deur ’n regsproses en volgens voorwaardes moet geskied.”

Annelize sê enige wetsontwerp sal die gewone parlementêre proses moet volg. “Administratiewe geregtigheid sal dus steeds geld – ministers kan byvoorbeeld nie wild en wakker onteien nie, maar slegs ingevolge magtigende wetgewing.”

Inderdaad, ’n mens kan verwag dat onteiening verder vertraag sal word weens al die geregtelike prosesse wat gevolg moet word, sê Ruth. 

“Uiteindelik kan die nuwe wetgewing dit bespoedig, maar dit gaan lank vat om by dié punt uit te kom. En wat die uiteinde ook is, onteiening sal steeds volgens wet gedoen moet word.”

Grondeise en kospryse

Voedselsekerheid is ’n ernstige saak in ’n land soos Suid-Afrika, waar een uit drie mense honger ly en groot stukke grond nie maklik bewerkbaar is nie. Daar is gereeld nuusstories oor die onderwerp en dit dra by tot die kommer en onsekerheid oor moontlike onteiening. 

Athol Trollip, DA-lid en burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metropool, het vroeër vanjaar in ’n onderhoud met Rapport gesê 4 000 plase wat vir grondoordrag gekoop is, lê braak omdat dié nuwe boere nie bystand kry nie. ’n Storie in Landbouweekblad lui onteiening sonder vergoeding kan kospryse die hoogte laat inskiet omdat die vier grootste banke en die Landbank R170 miljard se plaasskuld hou.

Maar Annelize, Ruth én John is dit eens kossekerheid kry die nodige aandag in die proses van wetlike hersiening. “Die grootste behoefte na grond is om dorpe en stede [nie plase nie] en die ANC het in sy mosie aan die parlement voorbehoude ten opsigte van voedselsekerheid ingeskryf,” sê Annelize. Pres. Cyril Ramaphosa het in ’n toespraak verklaar landbougrond is nie in die regering se visier nie, maar eerder onbenutte grond nader aan stede en dorpe. 

Die EFF se standpunt is meer drasties en behels dat alle grond, landelik én stedelik, sowel as myne en banke, sonder vergoeding onteien word. “Dit is bloot algehele nasionalisering van eiendom en sal die ekonomie in duie laat stort,” sê John. “Maar die kans op hierdie soort onteiening is baie skraal, hoewel ’n mens seker nooit ‘nooit’ kan sê nie.”

Dis wel om dié rede dat baie kenners ’n nuwe wetsontwerp verwelkom. Onteiening kan juis kossekerheid bevorder – mits dit reg gedoen en landbougrond sover moontlik vir landboudoeleindes behou word, terwyl landbougrond-begunstigdes opgelei en gesteun word.

Laasgenoemde is veral belangrik. “Onder die grondherverspreidings-program soos dit nou werk, koop die staat die plaas aan en hou die titelakte,” verduidelik John. “Die plaas word aan ’n begunstigde vir ’n termyn van 20 of 30 jaar verhuur. Die staat ondersoek dan die moontlikheid om ná ’n tydperk die titelakte aan die begunstigde oor te dra, mits daar volhoubaar geboer word. “Maar dit is baie moeilik vir ’n begunstigde om finansiering te bekom sonder ’n titelakte en dié dat die meerderheid van plase wat oorgedra word nie naastenby optimaal produseer nie.”

Wat lê voor?

Enige nuwe wetgewing sal duidelik moet aandui hoe die proses van onteiening werk. Wie mag begunstigdes wees? Hoe werk die stappe vir grondverkryging en -toekenning? Waar mag die grond wees en aan wie sal dit behoort? Hoe of waarvoor mag dit gebruik word? Daar is nie so ’n wet nie en dit los die deur oop vir korrupsie en wanbestuur.
Die “elite-kaping” van grond onder die vaandel van hervorming is eintlik die ernstiger probleem, sê Ruth. “Elite-kaping sluit gevalle in waar middelklasmense eiendom deur hul politieke konneksies bekom of waar groot landbou-ondernemings toegang tot subsidies verkry deur werkers as begunstigdes aan te dui.

“Baie kenners, ek inkluis, meen dis nie nodig om die Grondwet te verander nie, want dit laat reeds onteiening sonder vergoeding toe. Maar daar moet besluit word wanneer dít geregverdig sal wees. Van die voorstelle is om dit byvoorbeeld toe te laat vir onbenutte grond, grond waarvan die eienaar afwesig is, informele nedersettings, geboue met afwesige verhuurders [wat nie vir dienslewering betaal nie] en vir arbeidshuurders. Daar moet ook besluit word of alle eise op meriete aangehoor sal word en of daar ’n kombersbenadering sal wees.”

Maar verandering kom, sê John. “Ek glo nie ons sal dieselfde pad as Zimbabwe loop nie, maar daar sal groot wysigings wees – óf binne die Grondwet óf in relevante wette.”

Daar sal waarskynlik ook vanjaar nog ’n paar toetssake in die howe wees, sê Ruth. “Dit kan ’n grondeis wees, gevolg deur appèlsake, wat uiteindelik voor die konstitusionele hof sal kom. Dié hof het nog nooit ’n uitspraak gemaak oor wat presies regverdige en billike vergoeding behels nie en só ’n uitspraak sal die pas aangee.”

Wanneer dié proses gevolg word, kan nuwe wetgewing die land goed doen. 

“Toegang tot eiendom en eiendomsreg moet juis aansienlik uitgebrei en verbreed word,” sê John. “Veral in kommunale gebiede en in munisipaliteite is die potensiaal hiervoor hoog en prakties uitvoerbaar. In baie gevalle is die grondhonger ook eerder ’n blyplekbehoefte, met krag en water, as ’n boerderybehoefte.”

Onthou ook, sê Annelize, Suid-Afrika se Grondwet is gegrond op regstellende geregtigheid en nie op wraak nie – al laat sommige voorstanders van ’n wetswysiging dit dalk so klink. Daarom moet, en sal, die land se voorste regskenners en howe die proses in die volgende paar maande oorsien. 

* Die hersieningskomitee sal sy aanbevelings na verwagting op 30 Augustus vanjaar bekend maak.

Hierdie artikel het in die winteruitgawe van Taalgenoot verskyn. Taalgenoot is die amptelike kwartaallikse kultuurtydskrif van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Klik hier om in te teken of skakel 011 919 9112.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier