Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Promosie
Kerk se fokus op seks as sonde lei tot trauma
Binne Christelike huwelike lê die kerk se regulasies soos ’n waghond voor die huweliksbed en die viering van seksualiteit word selde openhartig in ons kerke bespreek.

Trou is nie perdekoop nie. In 2015 het meer as 25 000 Suid-Afrikaanse huweliksbootjies skipbreuk gely. Meer as 45% van hierdie paartjies het nog nie hul tiende huweliksherdenking gevier nie. Volgens Statistiek SA het die egskeidingsyfer van 2011 tot 2014 met meer as 20% toegeneem. 

Daarmee saam kies al hoe minder paartjies om die knoop deur te hak. Ongeveer 30% van ongetroude Suid-Afrikaanse vroue sê hulle wil nie in die eg verbind wees nie. Moderne, Afrikaanse paartjies is gemaklik daarmee om saam huis op te sit – sonder om die jawoord te vra. 
Wêreldwyd word kerke deur die werklikheid van ’n postmodernistiese wêreld gekonfronteer. Die volgehoue debat oor seksuele oriëntasie, voorhuwelikse seks en saamwoon is een voorbeeld – en moontlik boaan die lys van netelige kwessies. Binne Christelike huwelike lê die kerk se regulasies soos ’n waghond voor die huweliksbed. 

Die viering van seksualiteit word selde openhartig in ons kerke bespreek. Die gevare van seks, veral buite die huwelik, is die prominentste diskoers. Binne die huwelik is voortplanting die hoofrede vir seksuele omgang. Genot en erotiek speel tweede viool, indien dit enigsins tussen die lakens toegelaat word.

Wat sê die kerke?

“Afrikaanse hoofstroomkerke plaas soveel klem op seksuele voorskrifte dat dit byna die mantra van die Christelike huwelik geword het,” sê dr. Nicki Spies, ’n praktiese teoloog en narratiewe en pastorale praktisyn in private praktyk. In haar doktorale tesis fokus sy op die ondervindings van Christelike vroue in seksueel ongelukkige huwelike. Sy is ook die outeur van Seks – Nou wat is die eintlike storie?

Die Christelike geloof het meer wettisisme oor seksuele moraliteit as amper enige ander arena van menslike gedrag

“Die Christelike geloof het meer wettisisme oor seksuele moraliteit as amper enige ander arena van menslike gedrag,” sê Nicki. “Die seksuele dreig om die morele fokus oor te neem. Alles om seks word gemeet aan ‘moreel’ of ‘immoreel’, soveel so dat moraliteit en seks outomaties as ’n samevoeging gesien word. Met dié dat seksuele uitlewing eksklusief vir die huwelik gereserveer word, word die klem op seks as definisie van die huwelik byna kunsmatig tot uiterste vlakke gedwing.”

Vir ds. Cassie Aucamp, ’n predikant van die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika, is die kerk se standpunt oor seksualiteit duidelik. “Die huwelik is nie ingestel om ’n meulsteen om die nek te wees nie,” sê hy. “Dit is geskep as ’n positiewe, heilige spasie. Daarom moet álle aspekte van die seksuele tot die huwelik beperk word.” Cassie meen seksspeelgoed het geen plek in die slaapkamer nie omdat dit die fokus van jou huweliksmaat wegneem. “Sogenaamde seksuele hulpmiddels plaas die klem op die kommersiële en moedig as ’t ware selfbevrediging aan, wat onbybels is. Die seksuele is bedoel om net saam met jou huweliksmaat geniet te word. Seksspeelgoed is ’n derde wiel aan die wa.”

Prof. Riaan Rheeder, subprogramleier: morele hernuwing van die samelewing, is ’n senior dosent by die fakulteit teologie aan die Noordwes-Universiteit (NWU). Hy sê ook God het die seksuele eksklusief tot die huwelik verbind. “Seks vind plaas binne ’n bepaalde ruimte, in privaatheid en met ’n bepaalde doel. Eerstens gee dit uitdrukking aan God se skeppingsvermoë via die mens. Verbondskinders word uit die huwelik gebore. Tweedens beskerm seks binne die huwelik ’n persoon se menswaardigheid en voorkom uitbuiting en objektivering. Derdens is dit bedoel vir genot, wat ook erotiek en seksuele hulpmiddels kan insluit, sou albei huweliksmaats dit verkies.”

Volgens Riaan is die kerk se waarskuwings oor seksualiteit nie gemik op seks binne die huwelik nie, maar eerder op ’n vrye, buitehuwelikse seksuele benadering. “Seks is nie ’n neutrale daad nie en is beslis nie net vir rekreasie bedoel nie. Dit dra bepaalde gevolge; dit verbind mense aan mekaar. Dit is ’n daad van respek met goddelike eienskappe. As jou klem bloot op die plesier of genot is, bring dit ongewenste gevolge.”

Verwarrende boodskap

Maar ’n stuk wors het twee punte, sê Nicki. “Ons eerste boodskappe oor seks aan tieners en jongmense is dat die seksuele gevrees en vermy moet word. Dan, ná die troudag, word seks skielik die norm, maar steeds nie met die klem op Eros (erotiese aantrekking) nie. Agape, of Goddelike liefde, word as die mikpunt gestel.

“Seksuele aantrekking, begeerte en drif word sáám as ‘wellus’ gesien. Wellus en erotiek word weer as sinonieme gebruik. Wellus, binne watter konteks ook, is ontoelaatbaar. Tog vind ons erotiek in die Bybel en kan dit huwelike geweldig verryk. Die kerk se voorskrif van Agape as ‘suiwer’ – met die implisiete diskoers wat die erotiese uitsluit – het geen raakpunte met die realiteit nie. Ook kerkgangers is geskep as erotiese, seksuele wesens.”

Nicki sê huwelike staan ’n beter kans op sukses as die seksuele onttroon word as die definiërende faktor van ’n Christen-huwelik. “As seksualiteit gesien word as ’n normale en gesonde deel van menslikheid, eerder as ’n versperring tot ’n suiwer Christelike lewe, word dit soveel meer as net die vermyding van die bose; gehul in skuldgevoelens, skaamte, voorskrifte en taboes.

Dit wil natuurlik nié sê dat ek seksuele promiskuïteit goedpraat nie; eerder dat die mens as ’n seksuele wese geskape is en dat hy of sy dit nie hoef te ignoreer tot die dag dat hulle voor die kansel staan nie.” Sy keur seksuele selfverkenning nie net goed nie, maar moedig dit ook aan

“Dit wil natuurlik nié sê dat ek seksuele promiskuïteit goedpraat nie; eerder dat die mens as ’n seksuele wese geskape is en dat hy of sy dit nie hoef te ignoreer tot die dag dat hulle voor die kansel staan nie.” Sy keur seksuele selfverkenning nie net goed nie, maar moedig dit ook aan. “Mense gaan dikwels baie naïef die huwelik binne omdat hulle geen kennis van hul eie, of die teenoorgestelde geslag, se seksuele funksionering het nie.”

Dualisme

Sommige dele van die Bybel is ’n reaksie op die Grieks-Romeinse tyd en Plato se invloed, sê Riaan. Plato se dualisme was ’n prominente filosofie van daardie tyd. “Die liggaam is gebrandmerk as die swakker en dierlike gedeelte van die mens. Die siel is opgehef as die goddelike, geestelike gedeelte. Dit wat met die liggaam te doen gehad het, is as dierlik en onaanvaarbaar gesien.” 

Maar, sê Riaan, dit is nie die boodskap wat meer deur die kerk uitgedra word nie. “Ek ervaar ’n groter openheid oor die seksuele as ooit, wat ek heeltemal steun.”

Nicki meen egter Plato se dualisme eggo steeds in die kerkgange. Die destydse dominante diskoers van spirituele dualisme het Eros as wellus uitgebeeld, wat weer seksuele begeerte – selfs vir jou huweliksmaat – gebrandmerk het as iets waaroor ’n mens nie praat nie, sê sy. “As ’n resultaat is stilte oor Eros en erotiese begeerte die mees prominente diskoers wat as nalatenskap in kerke agtergebly het.

“Hierdie stilte impliseer dat die seksuele sinoniem is met skaamte, skande, skuldgevoelens en onbehoorlikheid. Om nie te mag praat daaroor nie transformeer seks in ’n taboe-onderwerp. Selfs binne die konteks van die tradisionele huwelik handel preekboodskappe nie sommer oor die genot, plesier en pret van ’n seksuele verhouding nie.”

Verwondering versus waarskuwing

Daar is beslis plek vir erotiek binne die huwelik, benadruk ds. Emil Haarhoff vanuit die NG geledere.  “Lees gerus Hooglied – nogal in die Ou Testament! – en sien net hoeveel erotiek daar in die Bybel is!” Emil, leraar van die NG kerk Rooihuiskraal in Centurion, is beslis: “Vanuit my perspektief: ja. Die kerk vier wel erotiek. Dit gebeur gereeld in pastorale gesprekke en huweliksopleiding. Die kerk doen baie deur middel van, onder meer, kursusse en huweliksverryking, wat beslis erotiek en sensualiteit insluit.”  

Hy stop tog ’n oomblik en erken dat die kerk soms sukkel om by die waarheid uit te kom. Die nalatenskap van Calvinisme is ’n sondebok, sowel as  “die verskillende strominge en generasies in die kerk, wat dit soms baie moeilik maak”. Hy onderstreep egter ’n kernpunt van sy posisie: “Weet dat die kerk opreg is in wat hy doen – ook in die soeke na gesonde seksualiteit. Die kerk en die Bybel is nie ’n pretbederwer nie, maar veg vir die waarheid, in ’n samelewing wat dit soms onmoontlik maak.

“Ons verwonder ons oor die misterie van seks as ’n gawe van God. Seksualiteit is deel van ons wese en ons bestaan. Die kerk en die Bybel is nie daarteen nie, ons moet versigtig wees om nie mense te veroordeel nie. Dit gesê, ons kan nie verwondering preek sonder om dit met waarskuwing te balanseer nie.”

Hy sien nie ’n probleem met erotiese hulpmiddels soos seksuele speelgoed nie, mits dit deur albei maats as positief ervaar word. 

“As die een party in die huwelik byvoorbeeld wil eksperimenteer met seksuele hulpmiddels, en die ander een wil nie, kan respek in die ergste graad aangetas word, sou die maat wat wil eksperimenteer daarop aandring of dit afdwing. Dan word selfsug tot die norm verhef. Die eenheid word dan tot ‘ekheid’ verbreek. Seks is nie ’n selfsugtige daad nie; die ander is altyd eerste.”

Uiteindelik, som ds. Emil dit op, kan ’n paartjie hul benadering tot erotiek meet aan ’n eenvoudige duimreël: Neem dit die verhouding vorentoe?  

Moenie dink dat satynboeie en rolspel die antwoord is vir ’n huweliksverhouding wat nie gesond is nie. Maar ás huweliksmaats begrip, respek, getrouheid, openhartigheid, omgee en vriendskap openbaar, kan erotiek hul seksuele verbintenis bevorder

“Moenie dink dat satynboeie en rolspel die antwoord is vir ’n huweliksverhouding wat nie gesond is nie. Maar ás huweliksmaats begrip, respek, getrouheid, openhartigheid, omgee en vriendskap openbaar, kan erotiek hul seksuele verbintenis bevorder.

“Seksuele uitlewing tussen huweliksmaats is ’n verlenging van kommunikasie. Dink na oor presies wát jy aan jou lewensmaat wil oordra met hoe jy hom of haar seksueel benader.”

Sosiale taboe

Carien du Toit-Joubert is ’n voorligtingsielkundige in private praktyk wat in verhoudingsberading uit ’n Christelike perspektief spesialiseer. Sy het ’n meestersgraad in klinies-pastorale sorg. “Een van die grootste probleme wat ek keer op keer in my praktyk teëkom, is dat mense nie die woordeskat het om oor seks te praat nie,” sê sy. “Paartjies wéét nie hoe om daaroor te kommunikeer nie; hoe om hul voor- en afkeur met mekaar te deel nie.  

“Ons word gesosialiseer om stil te bly oor seks. Jongmense word nie bemagtig om hul seksualiteit te own nie en word bangmaakstories vertel. Swangerskap, seksueel oordraagbare infeksies, skuldgevoelens en skaamte word die hoofpunte van die diskoers. Uiteindelik tree daardie mense in die huwelik en leef voort met die idee in hul agterkop dat seks iets is om oor skaam te wees.”

Sy sê menige jongmens het al in die stoel oorkant haar beland omdat seks “net met my gebeur het”. “Seksuele ontwaking en opwekking is normaal en gesond, en tieners moet hul eie lyf en seksuele reaksie verstaan. Niemand sê jy moet rondslaap nie, maar dit is ongesond om géén seksuele opflikkerings te verken nie. Tieners moet hande vashou en ook kan vry. Hoe anders gaan hulle weet hoe hul liggaam op opwekking sal reageer?

“Ek werk met kliënte wat jare lank skuldgevoelens saamdra oor masturbasie of omdat hulle seks gehad het voor die huwelik – selfs al was hulle verloof en toegewyd aan mekaar. ’n Huwelik begin nié die dag dat jy in die paadjie afstap nie; die definisie van die huwelik is ’n verantwoordelike en toegewyde verhouding. Om te trou is ’n sosiale konstruk, ’n wetlike papier. Om die huweliksregister te teken beteken nie veel as jy nie in jou hart die keuse gemaak het om jou maat se seksuele vertroueling te wees nie.”

Dr. Manitza Kotze, ’n senior dosent in dogmatologie by die fakulteit teologie aan die NWU, sê die huwelik bied die ideale ruimte om seksualiteit ten volle te ervaar. Maar sy stem saam dat die kerk in die verlede baie skade aangerig het deur op seks as sonde te fokus. “Solank albei huweliksmaats getrou is, monogaam en gemaklik is met wat tussen die lakens gebeur, hoef hulle beslis nie skuldig oor hul sekslewe te voel nie. 

Seksualiteit is in elk geval baie meer as die seksdaad: hande vashou, soen, saam uitgaan en saam lag maak ook deel daarvan uit. Jul seksuele lewe lê ook in die gewone dinge wat julle elke dag saam doen

“Seksualiteit is in elk geval baie meer as die seksdaad: hande vashou, soen, saam uitgaan en saam lag maak ook deel daarvan uit. Jul seksuele lewe lê ook in die gewone dinge wat julle elke dag saam doen.”

Huwelike ly skade

Die spilpunt van Nicki se navorsing draai om bewusmaking oor die deurslaggewende rol wat mense se seksuele belewing en inlewing vir hulself en hul liefdesmaats speel. “Die realiteit is dat seksueel ongelukkige Christelike huwelike glad nie ongewoon is nie. Om die waarheid te sê, dit is meer algemeen as wat die meeste van ons sou verwag.”

Carien se spreekkamermuur sou dieselfde storie kon vertel. “As ’n terapeut in hierdie veld is dit vir my hartseer om te sien hoe seks mense se huwelike vernietig,” sê sy. 

Die stilte oor erotiese seksualiteit in Christelike huwelike skryf Nicki toe aan trauma. “ ’n Boodskap van trauma word deur die stilte gekommunikeer. Dit is opgesluit in die essensie van die transgenerasie-traumateorie: Stilte is ’n meganisme waardeur trauma van een generasie tot die volgende gekommunikeer word.”

Manitza en Nicki benadruk daar is wel sommige predikante en kerke wat baie moeite doen om die negatiewe seksstorie te herskryf.

Die stilte moet verbreek word en Afrikaanse hoofstroomkerke moet die volle seksualiteit van die mens vier, sê Manitza, “maar baie leraars in die Afrikaanse hoofstroomkerke het nie ’n idee hoe om dit aan te pak nie”.

“Ons weet gewoon nie hóé om die erotiese sy van die Christelike huwelik in die kerk te vier nie, selfs al sou ons wou.”

Hierdie artikel het in die herfsuitgawe van Taalgenoot verskyn. Taalgenoot is die amptelike kwartaallikse kultuurtydskrif van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Klik hier om in te teken.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier