Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Promosie
My nooi is in ’n resepteboek
Een boek troon uit in die Afrikaanse kombuis, maar waardige opvolgers is daar gewis...

“Hierdie kookboek is so kop en skouers bo boeke in sy soort dat dit ’n moet sal wees op die verlanglysie van elke huisvrou, jong dogter of verloofde nooi.”

Dit was Die Transvaler se kommentaar op die stofomslag van die eerste uitgawe van Kook en geniet wat in 1951 gepubliseer is. Enige deugsame Afrikaanse bruid het in haar trouskat ’n eksemplaar van “tannie SJA” se boek. 

Stoffelina Johanna Adriana de Villiers kon aanvanklik nie ’n uitgewer kry nie en het die boek self gepubliseer. Sy is in 2010 oorlede, net maande nadat die ATKV haar met ’n Afrikoonprys vereer het. Sedert die eerste uitgawe en tot haar dood was die boek nooit uit druk nie. 

Marga Stoffer, uitgewersbestuurder van NB-Uitgewers, sê dié kookboek is in sy 16de uitgawe en spog met ’n totale verkoopsyfer van 1 168 514! Sy beskryf dit as ’n nalatenskap wat van generasie tot generasie oorgedra word.

Maar is Kook en geniet – in ’n stadium deur die onderwysdepartement voorgeskryf vir kookkuns – nog relevant? “Wel, net die feit dat ek dit gister weer gebruik het [vir die hoenderpastei met sago], beteken dis nog relevant,” sê Vickie de Beer, kosredakteur van rooi rose. Vir haar is dit “meer soos ’n verwysingsboek waarin ek gereeld oplees en waaruit ek sporadies kook”.

Dís nou ’n wenresep!

Huisgenoot se Wenresepte-reeks is die ander staatmaker in Afrikaanse kombuise. Carmen Niehaus, kosredakteur van Huisgenoot, sê daar was destyds min Afrikaanse resepteboeke beskikbaar; “nie veel meer as Kook en geniet nie”. Mense moes hulle verlaat op Engelse kookboeke “wat nie ons manier van eet verstaan het nie”, meen sy. Wenresepte is ’n sukses, want “die resepte is getoets en almal het geweet die resep gaan werk”.

Aanvanklik het Huisgenoot-lesers resepte ingestuur, maar in die 1990’s het Carmen deur die land begin reis “en wonderlike resepte op daardie manier bymekaar gemaak”. “Deesdae bring ons die meeste van die tyd in die toetskombuis deur en ontwikkel ons eie resepte.” 

Volgens Marga is daar meer as 15 uitgawes in die Wenresepte-reeks en dis kookboeke wat gewild is in Afrikaans én Engels. 

Die basiese riglyne waaraan ’n resep moet voldoen om goed genoeg te wees vir Wenresepte is nog dieselfde, vertel Carmen. “Dit moet vinnig berei kan word, die bestanddele moet maklik verkrygbaar wees en nie te duur nie. Ons verkies om met vars groente en kruie te werk; dit moet byderwets aangebied word volgens die jongste kosneigings; en uiteraard moet dit lekker wees.

“Ons kyk ook deesdae baie na gesonder eet en wys vir mense alternatiewe eetwyses soos vegetaries of vegan, wat al hoe gewilder word,” sê sy. “Ons Suid-Afrikaners hou van eet en dis hoe ons kuier, mekaar leer ken en wys dat ons omgee – ons bederf ons geliefdes met kos.”

Illustrasies deur Louis van den Heever

Resepte vir ’n nuwe generasie

Volgens Carmen is mense deesdae meer bereid om te eksperimenteer. Haar ma het haar uit Kook en geniet onder meer geleer om ’n witsous te maak. “Kook en geniet beskryf die basiese kooktegnieke baie goed, so dis ’n goeie wegspringplek,” meen sy. “Omdat die meeste ma’s werk, kan hulle nie hul kinders aan die hand leer kook nie, daarom is dit ’n nuttige boek om te gee.”

Sy gebruik Kook en geniet nie eintlik meer nie, want haar fokus het verskuif na hoe mense deesdae kook: met vars kruie, minder suiker en vegetaries. Vickie beaam dié neigings. Sy sê resepteboeke is meer gerig op ’n gesondheidsbewuste mark; met “minder suiker, meer vars bestanddele en ’n groter verskeidenheid vars en eksotiese bestanddele”.

Carmen vertel die algemene kookbenadering het “dramaties” verander. “Voor 1994 was ons meestal net bekend met dit wat ons hier gekook het; toe gaan die wêreld vir ons oop en ons ontdek die kosse van ander kulture en lande. Bestanddele en produkte het ook dramaties verander. Waar mense in die tagtigs nog meestal met geblikte goed, droë kruie en soppoeiers gekook het, ontdek ons toe in die negentigs dat ’n mens inderdaad baie lekker kan kook – sonder ’n blikkie of pakkie in die nabyheid. 

“Nou is die fokus beslis ‘vars’, met ’n verskeidenheid geurprofiele – van Oosters tot Mediterreens en Midde-Oosters. Omdat die produkte oral beskikbaar is, word daar gemaklik daarmee gekook.”

Storiekosboeke

Die styl van resepteboeke is gaandeweg aangepas. In die 1992-uitgawe van Kook en geniet word byvoorbeeld die eerste keer voorsiening vir die gebruik van “moderne kombuistoerusting, soos mikrogolfoonde en voedselverwerkers” gemaak.

Waar resepteboeke nog tot so onlangs as drie of vier jaar gelede slegs resepte hoef te bevat het, is mense nou baie ingestel op die storie agter die resep en die skrywer,” vertel Carmen. Resepteboeke het volwaardige storieboeke geword. Sy sê as jy net na ’n resep soek “is dit baie makliker om gou-gou vir Google te vra

“Waar resepteboeke nog tot so onlangs as drie of vier jaar gelede slegs resepte hoef te bevat het, is mense nou baie ingestel op die storie agter die resep en die skrywer,” vertel Carmen. Resepteboeke het volwaardige storieboeke geword. Sy sê as jy net na ’n resep soek “is dit baie makliker om gou-gou vir Google te vra”. 

“Kookboeke wat nou gewild is, vertel ’n hele storie van die persoon: hoe hy leef; wat vir hom belangrik is; hoe hy ontspan – en eet as hy ontspan; as hy reis, waarheen en watter geregte hy probeer en hoe hy dit in sy eie kombuis toepas,” verduidelik sy.

Een so ’n storiekosboek is die erfeniskosskrywer Niël Stemmet se verhaal van Mietha Klaasste. In bitter + soet – ’n erfenisboek ontvou Klaasste se hartroerende storie tussen “oumies se koekstruif” en “boerbrood”: “Ek het begin werk by mies Susan en kleinbaas Johan op dieselle plaas waar myse ma gewerk het en my pa die voorman was. Dit was die reël op die plase, jy kan bly maar jy betaal met jou kinders en hulle kinders se hande. Soos my ma gewerk het, het ek begin werk en net soos my ma se ma gewerk het en haar ma voor haar en haar ma voor haar. Ons almal kombuismeide, diensknegte, skoonmakers, binnemeide, strykmeide, vloerlappe, kindermeide.” 

NB-Uitgewers publiseer jaarliks tien tot 12 kookboeke. Volgens Marga hou die boeke tred met die nuutste kosneigings “soos plantgebaseerde kos, banting en goeie boerekos met ’n nostalgiese element”.

’n Mens eet eerstens met die oog en dit is ook te sien in resepteboeke, wat as ’t ware vir die leser ’n visuele feesmaal voorberei. Dink aan die weelderige Feestelike Frankryk van Louis Janse van Rensburg, Hardy Olivier en Anet Vosloo-Pienaar. Of die pragboek Jan – My Franse kosverhaal van Jan-Hendrik van der Westhuizen, die eerste Suid-Afrikaanse sjef wat ’n Michelin-ster ontvang het.

Die kunstige kosfoto’s staan in skrille kontras met Kos vir die kenner – ’n kookboek met meer as duisend goeie resepte van C. Louis Leipoldt – meer as 460 bladsye, maar sonder ’n enkele foto of illustrasie! Leipoldt was veelsydig en talentvol en meen as dokter was hy bekwaam om ’n kookboek te skryf: “As geneesheer het ek ondervinding genoeg van die gevolge van sleg klaargemaakte kos.”

Sy instruksies is kort en op die man af, soos dié een vir flamink: “Die borsvlees is veral lekker. Die voël kan net soos ’n kalkoen behandel word, maar is nie besonder geskik om gekook te word nie.” 

Of dit nou die vertroudheid van Kook en geniet is, die staatmakers in Wenresepte of ’n kulinêre kosreis soos Jan – My Franse kosverhaal, resepteboeke is hier om te bly. Vickie, wat al vyf resepteboeke gepubliseer het, skryf die gewildheid van kookboeke daaraan toe dat kos as tema baie gewild is. Dit blyk ook uit die verskeidenheid kosprogramme op TV.

Sy het nie ’n gunstelingresepteboek nie, maar het Annatjie Melck se Koljander, koljander so deur die Bosch baie geniet. Sy sonder ook Van der Westhuizen se boek uit “spesifiek oor die stilering van die kosfoto’s”.

Carmen kies nie ’n spesifieke boek nie, maar het wel kosskrywers wat haar inspireer. “Vickie de Beer, Herman Lensing, Mari-Louis Guy, Arina du Plessis en Errieda du Toit. Maar daar is ’n hele klomp opkomende kosmense, wat nog nie self gepubliseer het nie, wat ek grootoog dophou!”

Is daar ’n wenresep vir die perfekte kookboek?

Leipoldt skryf: “Dit is glad onmoontlik om ’n perfekte kookboek te skryf. Nie alleen omdat daar ontelbare resepte bestaan nie, maar omdat die kookkuns, net soos elke ander kuns, nie stilstaan nie; dit ontwikkel elke dag, en daar is mode in, net soos daar is in enige ander kuns waarin die mensdom belangstel.” 

Hierdie artikel het in die winteruitgawe van Taalgenoot verskyn. Taalgenoot is die amptelike kwartaallikse kultuurtydskrif van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Klik hier om in te teken of skakel 011 919 9112.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier