Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Promosie
‘Net swart mense werk op plase’

Hulle het in 2010 ’n suksesvolle grondeis vir ’n plaas ingedien, maar is nooit vergoed nie, het ’n gesin van Kutlwanong buite Odendaalsrus Dinsdag op die openbare vergadering oor onteiening in Welkom gesê.

Tshepile Sempe van Welkom praat gister op die openbare vergadering. Foto: Alet van der Walt

Masebata Ramatsoele het gesê hul ouers se grond by Maranta in die Odendaalsrus-omgewing is in die 1930’s vir goudmynbou onteien en dat hul grondeis in 2010 geslaag het. Net sekere gemeenskapslede is egter vergoed.

“Ons wil weet wat van ons vergoeding geword het. Ons steun onteiening sonder vergoeding, want ons wil die plaas wat aan ons familie behoort het, terughê.”

Tshepile Sempe van Welkom het gesê dat die debat baie verdelend is. Die waarheid is egter dat net swart mense op plase werk.

“ ’n Mens kry nie wit plaaswerkers nie. Dit is swart mense wat die grond bewerk. Wit mense is projekbestuurders.”

Honderde mense het Dinsdag nie sitplek in die Ferdi Meyer-saal in Welkom gekry nie en het buite na die toesprake geluister.

Mampo Ntsala, Dieketseng Nchoba, Selloane Matlabe en Masabata Ramatsoele van Odendaalsrus. Hulle sê hulle het die vergadering bygewoon omdat hul grootouers se grond onteien is en hulle geen vergoeding ná ’n suksesvolle grondeis ontvang het nie. Foto: Alet van der Walt

Sprekers ten gunste van ’n verandering aan art. 25 van die Grondwet is toegejuig terwyl mense wat daarteen gewaarsku het, uitgejou is.

Daar was ook groot ontevredenheid omdat ’n boer van die Tokologo-gebied, Willie Buys, sy toespraak in Afrikaans gelewer het.

Daar was nie ’n tolk beskikbaar om Buys se toespraak te vertaal nie en die gehoor het oproerig geraak.

Buys het hierna om verskoning gevra en gesê sy Engels is baie swak. Hy het dit wat hy gesê het, in gebroke Engels herhaal en gevra of die grond wat onteien word produktief sal bly.

Die beginsel van vrywillige koper en verkoper is die hoofrede waarom grondhervorming in Suid-Afrika misluk het, het Vicky Morris, ’n ANC-raadslid van Welkom, gesê.

Nog ’n spreker het gesê grondhervorming het misluk omdat wit grondeienaars te gierig is en te veel geld vir grond wil hê, wat dit vir die regering moeilik maak om plase te koop. “Daarom moet die regering nou plase onteien.”

’n Mens kry nie wit plaaswerkers nie. Dit is swart mense wat die grond bewerk. Wit mense is projekbestuurders.

Morris en Nkosijane Speelman, burgemeester van die Matjhabeng-munisipaliteit, is toegejuig toe hulle gepraat het.

Speelman het gesê alle eiendom, ook dié van myne en ander privaat eiendom, moet sonder vergoeding onteien word.

“As dit nie gegee word nie, sal ons dit vat,” het Speelman onder toejuiging gesê.

Boelie Bothma, ’n boer van Bothaville, het gesê die regering het sedert 1994 al 4 000 plase gekoop, maar die titelaktes word nie aan swart mense oorgedra nie.

“Hoekom wil die regering grond steel as hy reeds miljoene hektaar besit?”

“Ons is nie teen grondhervorming nie, maar teen onteiening sonder vergoeding.” het David Ross, DA-LP, gesê.

Van die mense het ook gesê hulle voel dat die vergaderings op weekdae gehou word wanneer meestal net werkloses dit kan bywoon.

“Die mense wat iets het om te verloor is nou by die werk en kan nie hul mening lug nie,” het ’n vrou buite die saal gesê.

Meer oor:  Odendaalsrus  |  Plaas  |  Grondonteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.