Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Promosie
Ons het almal 'n bydrae te lewer - Thuli
Thuli Madonsela het by ‘n Salga-byeenkoms wat op leierskap fokus as spreker opgetree. (Foto's: Phelokazi Mbude)

Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, sê Suid-Afrikaners kan aktiewe burgers van die land wees, of passiewe gebruikers van demokrasie.

Madonsela was in Julie die hoofspeker by ‘n leierskapsgespreksgeleentheid van die Suid-Afrikaanse vereniging vir plaaslike regerings (Salga). By dié geleentheid, wat in Johannesburg by die Universiteit van die Witwatersrand gehou is, is hulde gebring aan oudpres. Nelson Mandela.

Daar is ‘n Mandela in elkeen van ons.
Thuli Madonsela

Sy het gesê daar is drie lesse wat ‘n mens kan leer by die leiers van Mandela se generasie.

“Terwyl ons besig is met die halfeeuviering van ons geliefde voormalige president, moet ons onsself daaraan herinner dat dit ‘n hele dorpie neem om die epiese hoogtepunte te bereik wat ons so maklik aan een mens toeskryf.”

Sy het verwys na Albertina Sisulu – wat ook vanjaar ‘n 100 jaar oud sou wees – Olivier Tambo en Mandela as sommige van die noemenswaardige leiers by wie Suid-Afrikaners kan leer, omdat hul leierskapsrolle deurslaggewend was om Suid-Afrika in ‘n demokrasie in te lei.

“Ons plaas dikwels al ons hoop op één leier. Ons dink die res van ons kan bloot verbruikers van demokrasie wees en nie burgers binne ‘n demokrasie nie,” het Madonsela gesê.

“Die verskil tussen ‘n verbruiker van demokrasie en ‘n burger in ‘n demokrasie is dat ‘n verbruiker sy hande vou en betaal vir die dienste wat gelewer word. As daardie dienste nie bevredigend gelewer word nie, word hulle kwaai, hulle toi-toi en doen allerlei dinge – en verkwalik almal vir die situasie. ‘n Burger, daarenteen, is betrokke en neem verantwoordelikheid.”

Volgens Madonsela was Suid-Afrika met Mandela se uittrede nog ‘n land vol hoop. Tans staan die land voor talle uitdagings.

Sy het verwys na die toenemende vlakke van ongelykheid, die werkloosheidsyfer wat raak-raak aan 30% en miljoene Suid-Afrikaners – meer as 50% van die land se mense – wat in armoede bly.

“Ons beleef ‘n tyd waar ons demokrasie ingevaar is. Die vlam van demokrasie word bedreig namate burgers meer onbetrokke raak en verbruikers word wat alternatiewe soek,” het sy gesê.

Volgens Mandonsela is dit in almal se beste belang om seker te maak Suid-Afrika se demokrasie is nié in gevaar nie. Sy het gesê daar bestaan nie net een soort demokrasie nie en dit is binne die magte van Suid-Afrikaners om seker te maak óns demokrasie is suksesvol in óns tyd. 

“As ons lesse uit Mandela se nalatenskap gaan leer – en by die leiers van sy generasie wat ons met hoop gevul het –  wat sal daardie nalatenskap wees?

“Ek dink sy beste eienskap was integriteit. Dit het hom toegelaat om onselfsugtig te wees, om eties te bly en om doelgerig te lei. Dit het hom ook gehelp om bewus te wees van die gevolge van sy besluite en van die besluite wat hy nié geneem het nie.” 

Waarop dit neerkom, het Madonsela verduidelik, is om die regte ding te dóén, omdat dit die regte ding is óm te doen. 

Madonsela het gesê ‘n verenigde en vreedsame land word nie in een dag gebou nie. “As ons lewendige, suksesvolle gemeenskappe wil hê, moet ons álmal aan boord kry. Ons het álmal nodig – of jy nou voorheen benadeeld was of nie, mans, vroue, kinders, bejaardes. As ons verenig kan ons wen. As ons verdeeld bly gaan ons misluk.”

Madonsela het die plaaslike regeringsamptenare wat die geleentheid bygewoon het aangemoedig om etiese leiers met integriteit te wees, doelgedrewe en daartoe verbind om te dien. 

Sy het hulle aangepor om oomblikke aan te gryp om te dien, pleks van oomblikke uit te soek om stemme te werf. Sy het gesê pogings om nét stemme te werf “het die etiek van ons mense aangetas”. 

Sy het vir amptenare gesê hul blote teenwoordigheid by ‘n geleentheid wat gehou is om hulde te bring aan Mandela, wys hulle het gekies om Mandela se voorbeeld te volg. “Dit wys ons kies om vorentoe te tree en te sê ons is reg om vooruitstrewende en inklusiewe gemeenskappe te bou. En ons kies om ‘n land te bou wat geanker is in ekonomiese groei en ‘n demokrasie wat vir ons almal werk. Dit kán gedoen word. Daar is ‘n Mandela in elkeen van ons,” het Madonsela gesê, voor sy luid toegejuig is.

Meer oor:  Promosie  |  Thuli Madonsela
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.