Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Promosie
“Organiser”-skoolhoof draai bankrot skool om
Chris Sealie, skoolhoof van die Laerskool Genl. Nicolaas Smit in Pretoria, kry gereeld oproepe van mense wat vra om hulp. ‘Meneer, hulle het my uit die huis gegooi ...’; ‘Meneer, ons het niks om te eet nie ...’
Een van die leerlinge aan die Laerskool Genl. Nicolaas Smit smul aan sy ete. Foto's: André Badenhorst

“Elke oggend kan ek nie wag om by die skool te kom nie en te kan weet ek het die lekkerste broodjies by die skool en dan 1ste pouse kry ek ook nog ’n lekker bord kos. Dit gaan nie altyd so lekker by die huis nie. Maar ek weet ek word darm (sic) versorg elke dag en nag.”

Een van die kinders van die Laerskool Genl. Nicolaas Smit in Pretoria wat geduldig in ’n ry staan en wag vir ’n bord kos – wat waarskynlik haar enigste vir die dag sal wees – het dié briefie geskryf.

Sy is een van 360 kinders wat by die skool eet, want haar ouers het geen inkomste nie.

“Tannie, tannie, dit voel of ek by ’n restaurant eet,” kom spog ’n klein graad 4-meisietjie oor haar bord kerrie-en-rys. Sy maak haarself sit net neffens my en begin met groot genoegdoening eet.

Van die ander kinders storm baldadig op die Taalgenoot-fotograaf af. “Neem my af, oom. Neem my af!” Dit lyk nie of die feit dat daar nie kos by die huis is nie, hulle vreugde demp nie.

’n Skeppie kerrie-en-rys stil die hongerpyne.

“My hart breek elke dag as ek sien in watse omstandighede van die kinders leef,” sê mnr. Chris Sealie wat al 20 jaar skoolhoof van hierdie skool in Claremont is. 

Mnr. Sealie se pa het hom ’n “organiser” genoem en dit is hy beslis. En dis waarskynlik danksy hierdie vaardighede dat die vennootskap met die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) begin is en dat albei skole nou met die titel van ATKV-Handevatwenners vir 2017 kan spog.

Dit was in 2014 toe mnr. Sealie vir dr. Pierre Edwards, skoolhoof van Affies, na die skool genooi het om die behoefte aan ’n voedingskema te bespreek. Daar was net te veel kinders wat honger deur die skooldag moes kom. “Die kinders kon nie konsentreer nie, was permanent moeg en dikwels afwesig,” vertel mnr. Sealie.

Sedertdien gee Affies elke dag tydens eerste pouse ’n gebalanseerde bord kos. Dit het egter nie net hierby gebly nie. Aanvanklik het Affies se koshuispersoneel die kos gemaak en dan afgelewer. Gerrie Kriel, voedseldiensbestuurder van Affies se skoolkoshuis, het egter begin om werklose mammas in die gemeenskap op te lei om kos keurig voor te berei en dan pouses uit te deel. Affies se Kombuis is in 2016 op die terrein van die skool geopen en spog nou met drie permanente personeellede. 

Dit kos sowat R7 000 per week om die voedingskema aan die gang te hou. Kospakkies word ook elke maand aan 120 gesinne uitgedeel.

Mnr. Chris Sealie saam met van die kinders in sy skool.

“Ek wil vir Pierre Edwards alle eer gee dat hy gehoorsaam was aan God se stem. En dan natuurlik ook vir die kinders en ouers van Affies,” sê ’n opgewonde mnr. Sealie.

Terwyl ons by die skool kuier, lui mnr. Sealie se telefoon konstant. Jy kan sommer aan sy gesprekke hoor dat hy ’n ware steunpilaar in die gemeenskap is. Die skool het ’n spilpunt van hoop geword.

“Toe ek op 34 hoof van my skool geword het, het ek ’n bankrot skool geërf. Ons inkomste ’n maand was ongeveer R8 000 en die water-en-elektrisiteitsrekening R12 000. My suster en skoonsuster het daardie rekening vereffen.”

Oom Thys, een van die inwoners in die gemeenskap, ontvang ook ’n kospakkie van die skool.

Vir mnr. Sealie het die keerpunt by die skool gekom toe hy verskriklik met een van sy leerders gesukkel het. Die seun was onhebbelik en dit het broekskeur gegaan om hom te dissiplineer en hom te probeer “verander”.

“Toe ek sy huislike omstandighede sien, het ek besef dis ek wat moet verander.

“Kom ek gaan wys julle waar bly die kinders van my skool,” nooi mnr. Sealie.

Ons eerste stop is by die Bethlehem-oord, oorkant die Zandfontein-begraafplaas. Houthuisies en ou woonwaens staan op die erf rond. Oral waar jy kyk, word jy met armoede gekonfronteer.

Mense wat in die groentetuin werk, wuif vriendelik. Arnold, die eienaar van die grond, het enkele jare gelede ’n bejaarde vrou, tannie Kotie, raakgesien wat op straat gewoon het. Hy kon nie slaap totdat hy aan haar huisvesting verskaf het nie. Nou is Bethlehem ’n toevlugsoord vir baie.

Die vloer waarop die 15-jarige meisie elke aand slaap.

“Ek kry gereeld oproepe van mense wat vra om hulp. ‘Meneer, hulle het my uit die huis gegooi ...’; ‘Meneer, ons het niks om te eet nie ...’

“Mense moet ophou sê dat arm mense te sleg is om te werk. Dit is die verkeerde siening en dikwels omdat die bevoorregtes nie bereid is om die pad oor te steek en self te gaan hoor nie.

“Baie van my ouers kry nie werk nie en regstellende aksie kniehalter hulle om elke hoek en draai.”

Ons stop by nog ’n plek wat heenkome bied vir dié wat deur die lewe gepootjie is. ’n Paar kombi’s wat draairoomys verkoop, staan ook op die erf en verskaf ’n bietjie kleur aan omstandighede wat bra kleurloos daar uitsien. Ons ontmoet ’n man en ’n vrou. Hulle bly saam met hul 15-jarige dogter in ’n kamer. Daar is net een bed waarop die ouers en die hond slaap. Die dogter slaap op die vloer.

Mnr. Sealie het iewers geld gekry om nog ’n kamer, aangrensend tot haar ouers se kamer, te huur waar die meisie kan bly. Die kamer word nou uitgeverf en meubels bymekaar gemaak. 

Die trane loop oor die vrou se wange. Swaarkry duidelik op haar gesig afgeëts.

“Ek wil net die beste vir my dogter doen. Gelukkig help mnr. Sealie ons nou.”

Ons klim in die kar. Die vrou loop agterna. “Dankie, meneer, die Here sal vir jou seën,” sê sy duidelik bewoë voordat sy wegloop.

Jy weet, nè, die een ding wat ek hier kom leer het, is dat mense hoe behoeftig kan wees, hulle sal altyd deel. Armes deel meer as die rykes

“Jy weet, nè, die een ding wat ek hier kom leer het, is dat mense hoe behoeftig kan wees, hulle sal altyd deel. Armes deel meer as die rykes,” merk mnr. Sealie terloops op.

Terug by die skool val die netheid van die skoolterrein jou dadelik op. Ons gaan loer in by van die klasse en word entoesiasties gegroet.

Sedert die voedingskema by die skool begin is, is die kinders nie meer so baie afwesig nie. “Hulle kom skool toe vir kos.” 

Die skool se sielkundige, Jacqui van Staden, het ook die verskil raakgesien wat Affies se Kombuis maak. “Dit maak ’n groot verskil aan die kinders se vermoë om te leer. Dit maak ook ’n verskil in die onderwysers se lewe, want hulle hoef nie meer hulpeloos toe te kyk hoe hongerte en armoede sy tol eis nie.”

Dis egter nie net die Laerskool Genl. Nicolaas Smit wat by die vennootskap baat nie.

Dr. Edwards glo dat hy deur Affies se betrokkenheid by dié skool die seuns kan laat ervaar wat dit is om ’n verskil in iemand anders se lewe te maak. 

’n Nuwe inwoner in een van die houthuisies.

“Die kinders van Genl. Nicolaas Smit het aan die einde van 2016 briefies geskryf wat ons hier by die skool opgeplak en sommige geraam het sodat die seuns dit elke dag kan sien.”

Een van die briefies lui:
 “Al is daar nie altyd geldjies by die huis nie bly ek lief vir die kossies by die skool. Dankie tannies dat julle vir ons almal by die skool elke dag kos maak en vir ons sorg. As ek by die huis kom vertel ek vir my ma en pa wat ek by die skool geëet het.”

Volgens JJ van Niekerk, een van die beoordelaars van die ATKV-Handevatkompetisie, word die projek puik deur mnr. Sealie en sy personeel gekoördineer en dit is hulle hooffokus om ’n verskil in die lewe van kinders teweeg te bring.

“Ek wil jul aanmoedig om jul sukses te verpak en met buurskole te deel sodat dit soos ’n veldbrand kan versprei om ons mooi land spoedig te verander.”

Laerskool Genl. Nicolaas Smit en Affies ontvang as wenners van ATKV-Handevat elkeen R30 000. Dr. Edwards het reeds gesê dat sy skool se prysgeld net so in die voedingskema teruggeploeg sal word.

Ons maak aanstaltes, maar mnr. Sealie hou aan gesels.

Ek spreek lewe oor die kinders in my skool. Hulle soek net aandag en liefde. Inspirerende leierskap is van die uiterste belang hier by ons skool. Die kind kom klaar uit ’n gebroke huis en het nie sy ouers gekies nie – ons moet die verskil maak

“Ek spreek lewe oor die kinders in my skool. Hulle soek net aandag en liefde. Inspirerende leierskap is van die uiterste belang hier by ons skool. Die kind kom klaar uit ’n gebroke huis en het nie sy ouers gekies nie – ons moet die verskil maak.

“Dit was ’n moeilike jaar. Die swak ekonomie het ook sy kloue ingeslaan in die ander borge wat ons help.

“Maar die Here is goed vir ons. Ons is baie geseënd. Hy sal nie ophou sorg nie.”

Hierdie artikel het in die herfsuitgawe van Taalgenoot verskyn. Taalgenoot is die amptelike kwartaallikse kultuurtydskrif van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Klik hier om in te teken.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier