Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Promosie
Tot siens, 9-tot-5!
Gereed of nie, die geleentheidsekonomie gaan jou werkwêreld transformeer ...

Binne die volgende vyf tot tien jaar gaan die tradisionele kantoordag en heeltydse poste dalk baie anders lyk. Prof. Lené Jorgensen sê “dit gaan revolusionêr wees”. Sy is die adjunkdirekteur van die Skool vir Bedryfsielkunde en Mensehulpbronbestuur, wat deel is van die fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe, aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

“Die arbeidsmag is besig om dramaties te omvorm,” sê Lené. “Die geleentheidsekonomie het reeds vastrapplek in verskeie lande oorsee gekry. Dis net ’n kwessie van tyd voordat Suid-Afrika skouer aan skouer met die wêreld hardloop. En dit is ’n krag waarmee rekening gehou moet word. As die arbeidsmag op plaaslike bodem eers die gevoel begin kry, gaan werknemers baie vinnig daarop begin reageer.”

In die sogenaamde gig economy, of geleentheidsekonomie, is onvoorspelbaarheid, veerkragtigheid en nonkonformiteit die nuwe normaal in die wêrelddorp van werk. Dis ’n arbeidsmark wat gekenmerk word deur vryskutwerk op projekbasis, aanpasbare kriteria, pasmaak-opdragte en werk-op-aanvraag. 

Die gig-ekonomie verwys na ’n arbeidsmark waarin mense veelvuldige en deurlopende korttermynkontrakte of vryskutwerk in plaas van heeltydse werk opneem

“Die gig-ekonomie verwys na ’n arbeidsmark waarin mense veelvuldige en deurlopende korttermynkontrakte of vryskutwerk in plaas van heeltydse werk opneem,” verduidelik Alan Hosking, uitgewer van HR Future Magazine, ’n digitale en aanlyn mensehulpbrontydskrif. 

“Moenie aan gig dink in terme van gigagreep nie. Dink eerder aan die musiekwêreld. Musikante gebruik dié term in ’n geselstrant om te verwys na ’n eenmalige optrede. Oor die laaste paar jaar is die term uitgebrei om korttermyn- of eenmalige werkgeleenthede in die sakewêreld in te sluit.”

Tegnologie die katalisator 

Die konsep van vryskutwerk is so oud soos klipgereedskap; waarom nou die skielike ophef? Of is die geleentheids-ekonomie net ’n sinoniem vir ad hoc- of stukwerk? 

Die verskil tussen die geleentheidsekonomie en die meer tradisionele vryskutmark is beslis meer as blote semantiek,

“Die verskil tussen die geleentheidsekonomie en die meer tradisionele vryskutmark is beslis meer as blote semantiek,” meen Lené. “Die belangrikste verskil is tegnologie. Die internet was die katalisator vir alles waarvoor die geleentheidsekonomie staan. Die gebruik van aanlyn platforms en toepassings (apps) is wat dié arbeidsmarkverdeling definieer.”

Die Internasionale Arbeidsorganisasie het in Maart vanjaar via sy werkomstandighede-en-indiensnemingsreeks ’n verslag bekendgestel wat op die geleentheidsekonomie fokus. Onafhanklike diensverskaffers (ODV’s), die dinamo agter die geleentheidsekonomie, word in twee groepe verdeel: skarewerkers (crowdworkers) en werk-op-aanvraag via aanlyn toepassings.

Skarewerkers verrig hul take aanlyn via platforms wat groot aantal kliënte, organisasies en besighede verbind, dikwels oor landsgrense heen. ’n Voorbeeld is fiverr.com, ’n aanlyn markplein wat ’n platform bied vir diensverskaffers om hul vryskutdienste wêreldwyd aan kliënte te lewer. 

Werk-op-aanvraag via aanlyn toepassings is platformgefasiliteerde, maar plekgebaseerde en geografies beperkte werk. Dit sluit onder meer aflewering, vervoer, huiswerk, verblyf en herstelwerk in – dienste wat ’n direkte koppelvlak tussen ODV’s en kliënte benodig. Uber en Airbnb is voorbeelde.

Taalgenoot
Illustrasiefoto



‘Almal sal toetree’

“In die verlede was vryskutwerk die norm vir sommige sektore, soos byvoorbeeld media, bemarking en die advertensiewese,” sê Lené. “Ons sien egter al hoe meer sektore van die arbeidsmarkverdeling in die rigting van die geleentheidsekonomie beweeg.” 

Sy voorspel dat, veral aanvanklik, sekere industrieë vinniger tot die geleentheidsekonomie gaan toetree. “Kunsmatige intelligensie, inligtingstegnologie, finansiële bestuur, diepleer, robotika en kriptogeld is industrieë wat veral besonder vinnig in die geleentheidsekonomie inbeweeg. Meer tradisionele beroepe sal kort op hul hakke wees.”

Hoogs gereguleerde sektore sal nie noodwendig uitgesluit word nie. Selfs die gesondheidsorgsektor, wat ’n hoë vlak van kundigheid, kwalifikasies en registrasie verg, is in ’n mate reeds deel van die gig-ekonomie in die vorm van dokters en aptekers wat as locums werk.

Met verloop van tyd sal die hindernisse om deel te neem aan die gig-ekonomie verminder en uiteindelik verdwyn, glo Alan. “Hoogs gereguleerde sektore sal nie noodwendig uitgesluit word nie. Selfs die gesondheidsorgsektor, wat ’n hoë vlak van kundigheid, kwalifikasies en registrasie verg, is in ’n mate reeds deel van die gig-ekonomie in die vorm van dokters en aptekers wat as locums werk.”

Prof. Ingrid Woolard, dekaan van die fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, sê in die volgende 20 jaar gaan werkgeleenthede geskep word wat nog nie eens op ons radarskerms is nie. Die geleentheidsekonomie gaan ’n deurslaggewende rol daarin speel. Daar gaan ’n groot vraag na skaars vaardighede – op projekbasis – wees, terwyl ongeskoolde arbeid uiteindelik byna heeltemal deur meganisasie oorgeneem sal word, meen sy.  

“Tradisionele werkgeleenthede sal bykans verdwyn,” voeg Ingrid by. “Maar sommige beroepe, wat nie sommer gemeganiseer kan word nie, sal floreer. Mense sal toenemend meer in die dienssektor inbeweeg: ’n robot sal nie maklik ’n goeie haarkapper wees nie! Dink aan beroepe soos sielkundiges, sjefs, arbeidsterapeute en tandartse. Desnieteenstaande sal mense in hierdie beroepe steeds vertroud moet wees met die beginsels van die geleentheidsekonomie. Alle sektore sal toenemend meer aktief wees op ’n aanlyn basis, selfs al is dit net om dienslewering te verkoop en hul dienste op ’n interpersoonlike vlak te bemark.”

Dinamiese ekosisteem 

Deloitte se 2018-studie oor globale mensekapitaalneigings het vroeër hierdie jaar die lig gesien. Luidens dié toonaangewende peiling word organisasies gekonfronteer deur radikale verandering in eens gevestigde velde soos werkmag, werkplek en werkregulasies. 

Meer as 11 000 besigheidsleiers en mensehulpbronbestuurders in 124 lande is betrek. Slegs 42% van die respondente het aangedui dat hul organisasies hoofsaaklik uit salaristrekkers bestaan. Omtrent 50% het ’n “beduidende getal” kontrakteurs in hul werkmag gerapporteer, 23% het ’n beduidende getal vryskutwerkers aangedui en 13% het ’n noemenswaardige getal gig-werkers gerapporteer. 

Gevra om hul personeelsamestelling in 2020 te voorspel het 37% van die respondente aangedui hulle gaan selfs meer lang- en korttermynkontrakteurs aanstel. Ongeveer 33% gaan die tempo verhoog waarin vryskutwerkers ingeroep word en meer as 28% verwag om ’n merkwaardige groei in gig-werkers te sien.  

Die tradisionele werkgewer-werknemer-verhouding word stadig maar seker vervang deur die vorming van ’n uiteenlopende arbeidsmag-ekosisteem. ’n Diverse portefeulje van werknemers, vaardigheidsnetwerke, onafhanklike diensverskaffers en gig-werkers sal verskillende ekonomiese modelle van mensehulpbronbestuur vereis.

Die Deloitte-peiling toon daar is wêreldwyd ongeveer 77 miljoen vryskutwerkers. In die VSA is meer as 40% van alle werknemers in diens geneem op voorwaarde van alternatiewe werkreëlings, hetsy deeltydse of geleentheids-werk, aanpasbare ure, vastetermynkontrakte, uitkoms-gebaseerde projekte of ’n kombinasie van hierdie opsies. 

Die persentasie diensleweraars in die geleentheidsekonomie het die afgelope vyf jaar wêreldwyd met 36% gestyg. Dit sluit werkers van alle ouderdomme en vaardigheidsvlakke in. 

Die globale ekonomiese krisis het veral bygedra tot die ontwikkeling van die gig-ekonomie,

“Die globale ekonomiese krisis het veral bygedra tot die ontwikkeling van die gig-ekonomie,” sê Alan. “Groot maatskappye moes hul sente omdraai. Klein ondernemings, wat bestuur word deur slim, ervare mense, kan dieselfde hoëkwaliteitdienste van groter korporatiewe diensverskaffers lewer sonder om hoë fooie te hef om groot geboue, groot spanne en infrastruktuur in stand te hou. Hulle bied dus ’n aantreklike opsie aan maatskappye wat hul uitgawes moet verlaag.”  

En plaaslik?

Op eie bodem is ons net ’n paar tree agter ontwikkelde lande, meen Lené. Dis ondanks die feit dat daar nie volledige statistieke vir Suid-Afrika is nie. Meneesha Govender, voorsitter van die Suider-Afrikaanse Vryskutvereniging, sê hoewel hulle nie ’n getal kan gee nie, toon ’n onlangse peiling al hoe meer Suid-Afrikaners betree die gig-ekonomie.

Alan meen die internasionale aard van die geleentheidsekonomie beteken dat talle Suid-Afrikaners reeds deel is van dié arbeidsmarkverdeling. “Onthou jy die dae voor tegnologie toe daar gemeen is, ‘As jy nie by jou lessenaar is nie, werk jy nie’? Nou kan mense miljardêrs word deur in hul pajamas en in hul bed op hul skootrekenaar te werk – of in die plaaslike koffiewinkel!

Voor die internet, e-posse en webwerwe was dit duur en tydrowend om bekend te raak, vertroud te raak en besigheid te kry. Klein besighede het nie die hulpbronne gehad om hulself te bemark nie. Tegnologie het dit makliker gemaak om ’n klein onderneming goedkoop via e-pos en sosialemediaplatforms te bevorder. Tegnologie het ook ‘enige tyd, enige plek’-werk geaktiveer.

“Voor die internet, e-posse en webwerwe was dit duur en tydrowend om bekend te raak, vertroud te raak en besigheid te kry. Klein besighede het nie die hulpbronne gehad om hulself te bemark nie. Tegnologie het dit makliker gemaak om ’n klein onderneming goedkoop via e-pos en sosialemediaplatforms te bevorder. Tegnologie het ook ‘enige tyd, enige plek’-werk geaktiveer.”

Strawwe kompetisie 

Die onbeperktheid van die digitale sfeer is een van die voordele van die geleentheidsekonomie. Dit beteken ook dat ODV’s teen die allerbeste meeding. 

“Jy gaan met die res van die wêreld meeding,” waarsku Ingrid. “Werksekerheid soos ons dit ken, sal totaal op sy kop gekeer word. Inkomste sal nie verseker wees nie; die portefeulje van jou projekte sal jou rekord van prestasies wees. Lewenslange leer sal ononderhandelbaar wees.”

Lené sê ODV’s sal nooit op hul louere kan rus nie en sal deurentyd hul vaardighede skerp moet hou om relevant te bly. “Jy sal selfgemotiveerd moet wees, geanker wees en ten minste ’n matige aptyt vir risiko ontwikkel. Jy sal strategies én skeppend moet dink. Dit sal heeltemal moontlik wees om ’n bestaan te maak, maar gapings tussen projekte sal nie sonder finansiële en persoonlike stres wees nie. Ek dink ook die ‘eensaamheidsepidemie’ sal toeneem en die gesigloosheid van die digitale wêreld kan mense ontwortel en geïsoleer laat voel.”

Elke ODV sal ’n unieke benadering moet onwikkel om bo sy mededingers uit te staan, sê Alan. Vir dié wat uitstyg en deurentyd uitnemend is in hul werk, sal daar oorgenoeg geleenthede wees.

“Onafhanklike verskaffers moet beslis hul besighede registreer om vertroue te bou met kliënte,” voeg hy by. “Dit dui op permanensie en gee die kliënt gemoedsrus dat die verskaffer nie ’n lieplapper is nie. Nog ’n rede is dat gevestigde maatskappye streng vereistes vir die registrasie van verskaffers het. Indien jy as diensverskaffer nie aan die vereistes kan voldoen nie, sal jy nie vir besigheid oorweeg word nie. Dit is ook raadsaam om ’n gepaste domeinnaam te registreer sodat hulle ’n aanlyn teenwoordigheid kan bou.”

Vandag word maatskappye nie meer beïndruk met ingewikkelde handelsmerke en titels nie,” meen Alan. “Hulle is op soek na verskaffers wat ’n pasmaakdiens teen ’n goeie prys kan lewer.

Dit gaan ook oor die bou van verhoudings met sleutelpersone in groot organisasies. “Vandag word maatskappye nie meer beïndruk met ingewikkelde handelsmerke en titels nie,” meen Alan. “Hulle is op soek na verskaffers wat ’n pasmaakdiens teen ’n goeie prys kan lewer.”

Alan sê inkomstepotensiaal kan onbeperk wees – ’n voordeel wat heeltydse werknemers nie geniet nie. “Jy sal projekte kan kies waarin jy werklik belangstel, wat dan lei tot meer werkbevrediging, wat lei tot ’n suksesvolle portefeulje, wat dan uiteindelik ’n opwaartse spiraal vorm tot ’n welvarende beroep. 

“Jy sal ook nie onderworpe wees aan die interne politiek van ’n kantooropset nie en sal ook nie elke dag in ’n onvriendelike baas se gesig hoef vas te kyk nie. Dit is juis deel van die redes hoekom millennials nie die korporatiewe wêreld as ’n aantreklike loopbaanopsie sien nie. Hulle glo ook dat dit te lank neem om die beroepsleer te klim.

Met hul mentaliteit vir onmiddellike bevrediging wil hulle gewoonlik die uitvoerende hoof in die tweede maand ná aanstelling wees!

“Met hul mentaliteit vir onmiddellike bevrediging wil hulle gewoonlik die uitvoerende hoof in die tweede maand ná aanstelling wees!” spot Alan. “Hulle begin dus eerder hul eie besigheid en is dan uit die staanspoor die hoof van hul eie ondernemings.”

Tussengenerasie-wisselwerking is nog ’n belangrike rede vir die vorming van die geleentheidsekonomie, meen hy. “ ’n Groot groep Baby Boomers wat in permanente diens was en gedwing is om af te tree, maar voel hulle is nog jonk genoeg om te werk, het hul eie besighede as konsultante begin. 

“Baie Generasie X’ers, wat gesien het wat met hul ouers en grootouers gebeur het toe hulle in hul laat vyftigs afgelê is, is huiwerig om hul lojaliteit aan maatskappye te gee en kies eerder om die seile van hul eie skip te span.”

Is ons gereed?

Vir ’n revolusie wat al polsende op die horison wag, is daar nog talle onbeantwoorde vrae. Ongeag die verwagte arbeidsmag-ekosisteem het slegs 16% van die Deloitte-respondente ’n gevestigde beleid en praktyke ingestel om die verskeidenheid van werkers te kan bestuur.

Brittanje het die status van werkers – gesteun deur die beginsels van die geleentheidsekonomie – hersien om spesifiek die regte van heeltydse en vryskutkontrakteurs te beskerm. Die arbeidswetgewing in Suid-Afrika sal ook hersien moet word.

“Waar presies pas dié arbeidsmarkverdeling in die arbeidswetgewing in?” vra Lené. “Brittanje het die status van werkers – gesteun deur die beginsels van die geleentheidsekonomie – hersien om spesifiek die regte van heeltydse en vryskutkontrakteurs te beskerm. Die arbeidswetgewing in Suid-Afrika sal ook hersien moet word.”

Nog ’n vraagstuk is aanspreeklikheid. “Gestel die regering maak gebruik van ’n ODV om die land se sekuriteit te bestuur en daar is ’n massa-insident en ’n tragiese verlies van lewe, sal die regering aanspreeklik wees of eerder die ODV?”

Soos wyd in die werkwêreld die geval is, sal die gig-ekonomie ook grootskaalse ontwrigting in Suid-Afrika veroorsaak. “Foute sal beslis gemaak word – van die kant van die ODV’s, die regering en ook indiensnemers,” voorspel Alan, “maar dié wat bereid is om vinnig daaruit te leer, sal ryp vrugte pluk. Die geleentheidsekonomie sal altyd ’n aptyt hê vir innoveerders en ontwrigters”. 

* Hierdie artikel het in die lenteuitgawe van Taalgenoot verskyn. Taalgenoot is die amptelike kwartaallikse kultuurtydskrif van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Skakel 011 919 9112 om in te teken of laai ’n intekenvorm hier af.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier