Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Publiek hardste getref deur Sapa-sluiting’

Die publiek is eindelik die verloorder wanneer ’n nuusagentskap soos Sapa sluit.

Só het prof. Guy Berger, ’n mediakenner by die VN se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco), gister gereageer op die nuus dat Sapa vanjaar gaan sluit.

Dié nuusagentskap het byna 77 jaar lank nuus ingesamel en aan plaaslike en internasionale media uitgestuur. Hy het gistermiddag bekend gemaak dat sy laaste storie om middernag op 31 Maart gepubliseer sal word.

Prof. Lizette Rabe, hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement joernalistiek, het benadruk dat ’n “veelheid van mediastemme” in ’n demokrasie nodig is. Daarom is “ ’n onafhanklike nuus-sindikasiediens” ook belangrik. “Die rol van ’n vrye media in Suid-Afrika – wat nie politieke of kommersiële belange dien nie – word al hoe belangriker, en dis in die publiek se belang dat hy sulke media ondersteun.”

Sapa word sedert 1938 as ’n spesiale instelling sonder winsbejag bedryf en kan daarom nie verkoop word nie. Die land se mediagroepe het as belanghebbers en kliënte gedien, maar het in die laaste jare hul lidmaatskap onttrek.

Die besluit om Sapa se bedrywighede te staak is verlede jaar op ’n jaarvergadering geneem.

In 2013 het die uitgewers Times Media Group en Caxton aan Sapa onttrek en later het Independent Newspapers ook bekend gemaak dat hy dié pad sou volg.

Verskeie maatskappye het al ’n bod ingedien om Sapa oor te neem en in ’n kommersiële nuusdiens te omskep. Dit word oorweeg.

Berger, direkteur van spraakvryheid en media-ontwikkeling by Unesco, het gesê die sluiting is “veral betreurenswaardig” omdat Sapa lank dit moontlik gemaak het om nuus van dwarsoor die land in te samel en te deel. Dit was veral waardevol vir kleiner koerante en radiostasies.

Volgens Rabe is die onus op mediagroepe om gebalanseerde, onafhanklike inligting te verskaf “nou selfs groter”.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.