Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
R600 m.-optelfout: Ingevoerde treine te hoog vir SA spoorlyne
Vier van Prasa se nuwe Afro 4000-lokomotiewe staan by sy treindepot in Braamfontein, Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Suid-Afrikaanse spoorwegamptenare het nuwe lokomotiewe ter waarde van honderde miljoene rand na die land ingevoer – ondanks uitdruklike waarskuwings dat die lokomotiewe nie geskik is vir plaaslike spoorlyne nie.

Rapport berig vandag eksklusief oor bes moontlik die land se grootste en duurste onlangse tenderblaps.

Dit kan tot gevolg hê dat belastingbetalers minstens R600 miljoen sal moet opdok vir lokomotiewe wat te hoog is vir die spoorlyne waarvoor hulle bestem is.

Transnet en die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) is aan mekaar se kele sedert Prasa se nuwe diesellokomotiewe in Desember uit Spanje in die Kaapstadse hawe begin aankom het.

■ Lees ook: Rapport sê: Die gaping tussen plan en praktyk

Transnet het Prasa glo uitdruklik gewaarsku dat die nuwe Afro 4000­lokomotiewe van die vervaardiger Vossloh España te hoog is vir die Shosholoza Meyl-langafstand-passasiersdiens waarvoor Prasa die lokomotiewe wou inspan.

Die Afro 4000’s is 4 264 mm hoog, terwyl diesellokomotiewe op plaaslike langafstandlyne nie hoër as 3 965 mm mag wees nie.

Prasa het in 2013 ’n kontrak van R3,5 miljard aan die plaaslike bemagtigingsmaatskappy Swifambo Rail ­Leasing toegeken vir altesame 70 nuwe lokomotiewe.

Swifambo het besluit om die lokomotiewe by Vossloh España aan te skaf.

Die ouditeur-generaal het verlede jaar bevind Prasa het sy eie tenderregulasies oortree toe hy die kontrak aan Swifambo toegeken het.

Dít was egter maar net die begin van Prasa se probleme.

Senior ingenieurs van Transnet en ander bronne met insae in die sage sê Transnet wou aanvanklik nie eens hê die eerste Afro 4000 wat in Desember by die hawe afgelaai is, moes die kort afstand van die hawe tot by die Prasa-depot in Soutrivier aflê nie vanweë die lokomotiewe se hoogte.

Transnet is verantwoordelik vir die bestuur van die langafstandroetes wat sy vragtreine met Prasa se Shosoloza Meyl-treine deel.

Dertien Afro 4000’s ter waarde van sowat R600 miljoen is tot dusver na Suid-Afrika ingevoer.

Die lokomotiewe staan tans by verskeie Prasa-depots in Kaapstad, Johannesburg, Bloemfontein en Port Elizabeth.

“Die Afro 4000 oorskry die hoogtebeperking met omtrent die lengte van ’n liniaal.

“Prasa is al hieroor gewaarsku nog voordat die lokomotiewe in die land aangekom het, maar hulle het nogtans met die kontrak voortgeneuk,” sê een ingenieur van Transnet.

Nog ’n ingenieur van Transnet verduidelik dat die lokomotief skade aan spoorlyne se oorhoofse hoogspanning-kragdrade kan aanrig.

Die lokomotiewe kan fisiek kontak maak met die kabels, terwyl die uitlaatpype van hul dieselenjins gasse teen die kabels blaas en gevolglik kragkortsluitings veroorsaak, verduidelik hy.

“ ’n Mens benodig breathing space tussen ’n diesellokomotief en die kragdrade. Met hierdie lokomotiewe is daar nie sprake van sulke spasie nie,” sê die ingenieur.

“Die ouens spot onder mekaar dat Prasa maar kleiner wiele aan die lokomotiewe moet sit,” sê ’n derde bron in Transnet.

Die bronne is dit eens dat Prasa die lokomotiewe “van die rak af” gekoop het sonder om die groottebeperkings vir plaaslike spoorlyne in ag te neem.

Toe Prasa en Dipuo Peters, minister van vervoer, die lokomotiewe in Januarie in Kaapstad aan die publiek bekend gestel het, het hulle gesê die Afro 4000’s sou drie maande lank getoets word en in April op die Shosholoza Meyl-diens begin gebruik word.

Die spoorweg-veiligheidsreguleerder (RSR), wat uiteindelik sal moet besluit of die lokomotiewe in Suid-Afrika gebruik mag word, het egter die afgelope week gesê Prasa het ’n toetstydperk van ses maande aangevra.

Die RSR sê Prasa moet einde Augustus aan hom verslag doen oor dié toetse.

Maar Rapport verneem daar word nou agter die skerms gespook om ­oplossings vir die lokomotiewe se “hoogteprobleem” te vind en sodoende Prasa van ’n reuse-vernedering te red.

Stan Bridgens, ’n ingenieur en direkteur van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Elektriese Ingenieurs (SAIEE), het bevestig sy organisasie help met die soektog na oplossings.

“Ons belang in die kwessie is om te kyk of daar nie ’n tegniese oplossing (vir die probleme) gevind kan word nie,” sê Bridgens.

Prasa se blaps is eintlik ’n oop geheim in spoorwegkringe, het besoekers aan die Africa Rail-konferensie in Sandton, Johannesburg, die afgelope week aan Rapport gesê.

Dr. Daniel Mthimkhulu, Prasa se ingenieurshoof, sou die afgelope Woensdag ’n aanbieding oor die nuwe lokomotiewe by die konferensie doen, maar hy het nie vir sy praatjie opgedaag nie.

Daar is nie ’n rede vir sy afwesigheid gegee nie.

Rapport het navrae aan Transnet gestuur oor die geskil oor die lokomotiewe, maar Sandile Simelane, ’n Transnet-woordvoerder, sê sy maatskappy kan nie “deur die media” met Prasa kommunikeer nie.

Moffet Mofokeng, Prasa se woordvoerder, wou nie Rapport se navrae beantwoord nie.

“Jy kan maar skryf wat jy wil,” het hy in ’n e-pos gesê.

Vossloh España se maatskappybeleid verbied hom om oor sy kontrakte met kliënte te praat, het Juan José Sanchís, die maatskappy se woordvoerder in Spanje, in ’n e-pos laat weet.

Auswell Mashaba, ’n direkteur en aandeelhouer van Swifambo Rail ­Leasing, sê sprake oor probleme met die Afro 4000’s se hoogte is op “hoorsê” gegrond

“Ons kliënt (Prasa) is gelukkig met die produk,” sê Mashaba.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.