Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Raaisel oor toegetakelde vuurwa
Die beskadigde motor staan sedert verlede jaar by ’n skrootwerf. Foto's: ­Emile Hendricks
Die motor se bande is ook in repe gesny. Foto: emile hendricks
Die motor se bakwerk is vol gate en beledigings op die bakwerk is met ’n spuitkan geverf.
Die motor se voorruite en ligte is stukkend gekap.

Dit gons in Kimberley oor ’n duur Duitse motor wat glo deur ’n woedende vrou met ’n pik en ’n kan spuitverf onherstelbaar beskadig is.

Die wit Mercedes SLK 350, 2005-model staan reeds maande lank skynbaar eienaarloos by ’n skrootwerf in die stad.

Die vrou het glo haar man op heterdaad met ’n ander vrou in die motor betrap. Hulle was nie net besig om oor die weer te gesels nie. ’n Ander gerug is dat ’n man die motor beskadig het oor ’n ontroue vrou.

Intussen hoop die huurgeld vir die staanplek op.

Die paartjie is glo ná die voorval verlede jaar in Kimberley geskei.

Die siedende vrou (of man) het glo die woorde h**rjaer op die bestuurder se deur met die spuitkan geverf. Op die passasiersdeur staan h**rvervoer. Op die bagasiebak staan die woord e**er.

Die motor is reg rondom vol gate gekap, vermoedelik met ’n pik. Die voorste en agterste ruite is met ’n swaar voorwerp gekap. Die gebreekte voorruit het twee diep duike. Die band is gesny en die voor- en agterligte is erg beskadig.

Mense wat bekend is met die voorval is lugtig om te praat.

Volgens een inwoner was die motor ’n geskenk van die man aan sy vrou.

Die geskeide paartjie se selfoonnommers werk ook nie meer nie. Daar is na bewering ook prokureurs op hul spoor oor agterstallige huurgeld.

Versekeringsmaatskappye sal ook nie betaal vir skade aan ’n motor wat opsetlik veroorsaak is nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.