Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ons skat jou ma se waarde
Rand en sent: Hiér is die bydrae van tuisblyma’s en huisvroue
Merichien Erasmus (28) van Pretoria en haar dogtertjie, Milay (2). Erasmus is ’n tuisblyma en ’n trotse huisvrou. Foto: Herman Verwey
Kinders grootmaak, kosmaak en skoonmaak word in die algemeen nié as regte werk beskou nie.

As jy teen heersende tariewe moes betaal vir die werk wat ’n huisvrou in Suid-Afrika doen, sal dit jou lag-lag meer as ’n halfmiljoen rand ’n jaar uit die sak jaag.

Dít het Rapport die afgelope week bereken nadat ’n Amerikaner ’n soortgelyke som gedoen het en ontdek het hy kan sy tuisblyvrou glad nie bekostig nie.

Steve Nelms van Dallas, Texas, het besluit om presies uit te werk hoeveel dit sou kos as hy professionele diensverskaffers moes betaal om sy vrou, ’n tuisblyma en huisvrou, se huistake te verrig.

Nelms se berekeninge (wat insluit naweekwerk asook bykomende betaling omdat sy vrou ook boekhoudingswerk vir hom doen), beloop meer as $73 960 (R890 980) per jaar. Dis meer as dubbel Nelms se eie salaris.

“Die probleem is: Die take van ’n voltydse huisvrou wat kinders grootmaak, kosmaak en skoonmaak, word in die algemeen nié as ’n regte werk beskou nie, want haar werk word eerder in liefde gemeet as in geld,” sê Nelms.

Rapport het ’n soortgelyke som gaan doen met die pryse wat plaaslike diensverskaffers vra. Die algehele koste (naweke uitgesluit) beloop sowat R54 770 per maand (of R657 240 ’n jaar).

Merichien Erasmus (28) van Pretoria is glad nie verbaas dat haar take as tuisblyma en huisvrou soveel werd is nie.

“ ’n Mens is bevoorreg om by die huis te kan bly om jou eie kind groot te maak, maar dit is beslis lekkerder om eerder te kan werk toe gaan,” sê sy.

“ ’n Mens kry in die algemeen nie hierdie soort geleentheid nie, maar glo my as ek sê dit is nie net pêrels en maanskyn nie. Dit is maar ’n eensame storie.”

Dís wat dit sou kos om ’n huisvrou se dienste te huur:

1. Spyseniersdienste: Servdfresh is ’n Johannesburgse kosdiens wat nie net drie maaltye ’n dag by jou huis kom aflewer nie, maar hulle werk ook diëte uit wat verseker jy eet gesond. ’n Maand se kos met verskillende spyskaarte (van Maandag tot Vrydag) kos van R3 800 tot R4 200.

2. Conciergedienste: As jy iemand wil huur om jou inkopies vir jou te doen, familiereëlings te tref (van fliekkaartjies tot kinderpartytjies) en selfs nou en dan met die hond te gaan stap, kan dit jou sak baie erg ruk. Volgens Cape Concierge gaan ’n assistent wat dié takies vir jou verrig, jou minstens R25 000 ’n maand kos. Nog ’n Kaapse conciergediens, Black Tie Affair, doen dit teen R250 per uur.

3. Vervoerdienste: Vir twee ritte ’n dag (skool toe en terug) gaan jy betaal vir tyd, afstand en diensgeld by ’n diens soos Soccermom Family, wat kinders rondry in Johannesburg, Kaapstad en Pretoria. Twee ritte ’n dag (vier weke lank) kos R3 700 per maand as jy 5 km van die skool af bly en R4 200 per maand vir 8 km. Die webwerf het sy eie “sakrekenaar” wat pryse per kilometer aanpas.

4. Skoonmaakdienste: ’n Professionele diens (wat skoonmaakspanne na jou huis stuur) soos KE Maids in Randburg vra R230 per dag, maar as die span Saterdae moet inkom, kos dit R250 en R330 op Sondae. Sou jy hul diens ses dae ’n week gebruik, sou dit jou R6 050 ’n maand kos. ­Ander agentskappe soos Sweepsouth.co.za verhuur een huishulp uit teen ­tariewe van R38 per uur of R190 per dag.

5. Was- en strykdienste: Fresh Laundry, ’n landwye wasserygroep, vra R65 vir ’n 5 kg-bondel wasgoed (’n normale weeklikse bondel klere vir een persoon). Dit kos R125 per bondel as hulle dit ook moet stryk. ’n Klein huishouding (’n paartjie met een kind) was minstens vier sulke bondels ’n week, wat R2 000 by dié wassery sal kos.

6. Kindersorgdienste: Volgens ChildcareSA beloop hul dagtarief rondom R65 per uur vir Johannesburg, R60 vir Kaapstad en R55 vir die res van die land. ’n Negeuurdag kos dus sowat R11 000 per maand. Vir ’n kinderoppasser naweke en nauurs vra Sitters4U R950 (wat ’n R500 dienstarief insluit) as jy drie aande ’n maand wil uitgaan. Tien aande per maand kos R1 500.

7. Huiswerkhulpdienste: Homework Helper in Kaapstad vra R170 per uur om kinders met hul huiswerk te help. In gevalle waar ouers glad nie tyd kry om ’n handjie by te sit nie, het ’n kind vier uur ’n week by so ’n klas nodig. Dit kos dan R2 720 per maand.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.