Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Reus van letterkunde, WP-ondersteuner, Sestiger: André P. Brink sterf
André P. Brink tydens 'n onderhoud met Media24. Foto: Taryn Carr
Die skrywer André P. Brink by die Noorweegse skrywer Bjørnstjerne Martinius Bjørnson se skryftafel. Foto: Karina Szczurek
André P. Brink tydens 'n onderhoud met Media24. Foto: Taryn Carr
André P. Brink in gesprek met Sonja Loots oor sy boek Voor dat ek Vergeet. Foto: Antoine Ras
André P. Brink en sy vrou, Karina Szczurek. Foto: Michael Hammond

Die veelbekroonde skrywer André P. Brink (79) is Vrydagaand oorlede aan boord van ’n KLM-vlug vanaf Amsterdam na Kaapstad.

Alta Brink, die skrywer se gewese vrou, het bevestig Brink oorlede.

“Ek kan net sê die familie is almal baie hartseer,” het sy Saterdag aan Netwerk24 gesê.

’n Woordvoerder van KLM het bevestig een van sy passasiers is Vrydagaand oorlede op ’n vlug wat na Kaapstad onderweg was.

Brink en sy vrou, Karina Szczurek, was van Amsterdam onderweg na hul huis in Kaapstad nadat Brink vroeër die week ’n eredoktorsgraad van die Franssprekende Katolieke Uni­versiteit in Louvain-la-Neuve ontvang het.

Brink, wie se gesondheid die afgelope paar jaar nie goed was nie, het die afgelope paar maande gesukkel om te loop en het die eredoktorsgraad in ’n rolstoel ontvang.

Die literêre wêreld het Saterdag met skok van sy heengaan verneem.

Hy was ’n reus. Een van daai skrywers wat ’n mens net een maal in jou lewe ontmoet.
Kerneels Breytenbach

“Hy was ’n reus. Een van daai skrywers wat ’n mens net een maal in jou lewe ontmoet,” het sy jarelange vriend, die uitgewer Kerneels Breytenbach, Saterdagoggend gesê. “Dis ’n massiewe skok. Dis nie ’n lekker ding nie.”

Breytenbach sê Brink was nie net een van Afrikaans se groot skrywers nie, hy het ook as literêre kritikus ’n groot merk gemaak – veral in die 1970’s toe hy die boekeblaaie van die Sondagkoerant Rapport hanteer het.

“Daardie was loshande die beste era wat literêre kritiek in die land tot nog toe beleef het,” sê hy.

Brink was ook aan die voorpunt in die geveg teen politieke sensuur.

“Nie net het hy sensuur aan eie bas gevoel nie, met die verbod op verskeie van sy boeke, maar saam met mense soos Breyten Breytenbach het hy ook namens ander skrywers daarteen geveg.”

Breytenbach sê hy sal Brink ook veral as rugbyvriend onthou.

“André was ’n groot Stormers- en WP-ondersteuner en ons het gereeld saam Nuweland toe gegaan.”

André Philippus Brink is op 29 Mei 1935 in Vrede in die Vrystaat gebore waar sy pa ’n magistraat was.

Hy het aan die Universiteit van Potchefstroom gestudeer en het, saam met Breyten Breytenbach en Etienne Leroux, die kern gevorm van ’n groep skrywers wat later bekend sou word as “die Sestigers” en ’n belangrike vernuwende invloed op die Afrikaanse letterkunde was.

Sy roman Kennis van die aand (1973) was die eerste Afrikaanse boek wat deur die destydse sensuurraad verbied is.

Hy het daarna die roman in Engels vertaal en dit is internasionaal gepubliseer as Looking on Darkness.

Van toe af het Brink amper al sy romans gelyktydig in Afrikaans en Engels geskryf.

Hy was ook bekend as letterkundige en vertaler en het onder meer Don Quixote en Alice in Wonderland in Afrikaans vertaal.

Hy was een van Afrikaans se produktiefste skrywers en het onder meer 26 romans en 14 dramas op sy kerfstok asook verskeie bundels reisverhale, boeke oor wyn en brandewyn en meer as 50 vertalings.

Danksy Brink kan ’n mens vandag klassieke werke soos Die Vindingryke Ridder Don Quijote de la Mancha van Cervantes, Alice in Wonderland deur Lewis Carroll, Die klein prinsie van Antoine de Saint-Exupéry en werke van Shakespeare, Camus Henrik Ibsen en Graham Greene in Afrikaans lees.

Sy werk is verskeie kere bekroon en hy het die Hertzogprys vir sowel drama (Die jogger in 2000) as prosa (Donkermaan in 2001) gewen.

Sy romans An Instant in the Wind en Rumours of Rain was albei op die kortlys vir die prestigeryke Bookerprys.

Leer meer:

■ ​Belgiese universiteit vereer André P. Brink

■ André P. Brink deur ACT vir lewenswerk vereer

■ ​André P. Brink gesels oor vroue van vlees en op papier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.