Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Rolene Strauss se verlowing al weke ’n geheim
Rolene het die foto van haar en D’Niel Strauss maande gelede op Instagram gedeel.
Rolene Strauss en D’Niel Strauss tydens ’n geleentheid by ’n gholfklub.
Rolene het die foto van haar en D’Niel Strauss ’n paar jaar gelede op Instagram gedeel. Die paartjie is verloof en beoog om volgende jaar te trou. Foto: INSTAGRAM

Rolene Strauss, die huidige Mej. Wêreld, het die afgelope paar weke met ’n groot geheim rondgeloop.

Haar verlowing aan die sakeman D’Niel Strauss.

Sy het egter Vrydagoggend die nuus openbaar gemaak deur ’n foto van haar verloofring op die sosiale netwerk Instagram te deel.

“Ek is so opgewonde oor die toekoms en dankbaar dat ek die spesiale tyd met Suid-Afrika kan deel,” het Rolene aan Netwerk24 gesê.

Lees ook: Rolene Strauss gaan trou​

Rolene het ook aan #TopStories gesê dat sy vasbeslote is om haar mediese studie te voltooi.

“Dit is eerste op my prioriteitslys,” het sy gesê. “Dit is vir my wonderlik om te weet die Mej. Wêreld-organisasie glo in liefde en dit is vir hulle belangrik dat mense moet weet dat terwyl jy professioneel hard kan werk, jy ook jou persoonlike lewe kan handhaaf.”

“Ons is almal verskriklik bly,” het Rolene se vriend en stilis Werner Wessels gesê.

“Ek het so ’n paar weke gelede uitgevind, net nadat haar familie uitgevind het,” het Wessels gesê. “Ek ken hulle albei al vir omtrent drie jaar. Hulle is twee besonderse mense.”

Lees ook: Kyk: Rolene Strauss kry​ haar eie pop

Volgens Wessels sal hy definitief op ’n manier saam met die ontwerper Casper Bosman betrokke wees by hoe Rolene op haar troudag gaan lyk.

“Anders gaan Rolene nie weet wat om met haar hare te doen nie!” het hy grappig gesê. “Ek sien baie daarna uit om saam met haar te werk.”

Rolene se ma, Theresa, het haar verlowing bevestig.

“Ons is baie opgewonde! Jy kan mos net dink,” het sy gesê.

Sy het gesê Rolene en D’Niel, haar vriend van die afgelope drie en ’n half jaar, gaan volgende jaar trou.

“Ons was bewus daarvan dat hulle verloof gaan raak. Ons is maar tradisionele Afrikaanse mense,” het Theresa gesê.

Sy sê hy het voor die tyd “ouers gevra”.

Rolene was onlangs in Mexiko waar sy haar verpligtinge as Mej. Wêreld nagekom het.

“Rolene het ons gister (Donderdag) gebel en gesê sy gaan trou,” het Ruche van Heerden, die modeontwerper Casper Bosman se assistent, gesê.

“Ons het nog nie baie besonderhede nie, maar ons gaan haar trourok maak,” het Van Heerden gesê. “Ons is baie bly!”

Volgens Van Heerden het Bosman reeds ’n paar idees vir die trourok.

“Sy verhouding met Rolene is meer as net ’n gewone verhouding met ’n kliënt,” het Van Heerden gesê oor Bosman en Rolene se vriendskap.

Suané Erweë, Rolene se beste vriendin wat saam met haar in Volksrust op skool was, het gesê sy is baie opgewonde oor die nuus.

“Sy het my gisteraand (Donderdagaand) laat weet dat sy die nuus vandag bekend gaan maak,” het Erweë gesê. “Sy is vreeslik opgewonde.”

Volgens Erweë het Rolene en D’Niel mekaar ’n paar jaar gelede een Desember-vakansie by Hartenbos ontmoet. Omdat Rolene tydens haar jaar as Mej. Suid-Afrika nie ’n openbare verhouding kon hê nie, is die paartjie nie dikwels saam gesien nie.

Rolene het die foto van haar en D’Niel Strauss ’n paar jaar gelede op Instagram gedeel. Die paartjie is verloof en beoog om volgende jaar te trou.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.