Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Rolene kry net n drukkie, en toe n lyfwag (video van kroningsplegtigheid)
Suid-Afrika het vir die eerste keer in 40 jaar weer ’n Mej. Wêreld. Rolene Strauss (22), ’n vierdejaar- mediese student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), is Sondagaand in Londen as die mooiste vrou in die wêreld gekroon.
1974: Anneline Kriel

Suid-Afrika het vir die eerste keer in 40 jaar weer ’n Mej. Wêreld.

Rolene Strauss (22), ’n vierdejaar- mediese student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), is Sondagaand in Londen as die mooiste vrou in die wêreld gekroon.

Edina Kulcsar van Hongarye is as naaswenner gekroon met Elizabeth Safritis van Amerika in die derde plek.

Dit is derde keer dat ’n Suid-Afrikaanse skoonheid die titel wen ná Penny Coelen in 1958 en Anneline Kriel in 1974.

“Dis onbeskryflik! Jy droom van kleins af hierdie droom saam met jou kind en noudat dit gebeur het . . . dit voel soos ’n droom!” het Theresa, Rolene se ma, Sondagaand net ná die aankondiging gesê.

“Die oomblik toe sy gekroon is, kon ons haar net vinnig ’n stywe druk gee. Sy het dadelik ’n lyfwag gekry. So ons het nou eintlik nie eens meer vrye toegang tot haar nie!”

Theresa, haar man, Hennie, en seun, Johan, was daar om Suid-Afrika se skoonheid te ondersteun.

Strauss was vandat sy haar voete in die Engelse hoofstad gesit het, verskeie webwerwe en beroepswedders se gunsteling om met die kroon weg te stap.

Sy het haar deur die kompetisie uitstekend van haar taak gekwyt en onder meer die fiksheidstoets gewen en derde in die sportafdeling geëindig. Haar projek “Skoonheid met ’n doel” was onder die top-tien, en sy was ook onder die topdeelnemers in die loopplankafdeling.

Die wyse waarop sy Sondagaand as een van die topvyf ’n algemene vraag beantwoord het, het waarskynlik die deurslag gegee.

Elkeen van die vyf moes antwoord op die vraag waarom sy Mej. Wêreld wil wees. Terwyl van die ander deelnemers gefokus het op wat dit vir hulle sou beteken, het sy gewys op die waardes wat sy sou wou uitdra.

Volgens Rolene is waardes soos eenheid, vergifnis en versoening ’n belangrike deel van Suid-Afrika, en staan die Mej. Wêreldkompetisie ook daarvoor. Dus sou sy haar graag wou beywer om dit verder te bevorder.

“Vandat ek Rolene die eerste keer as ’n nuwe eerstejaarstudent ontmoet het, het haar selfvertroue en grasie my opgeval,” het prof. Jonathan Jansen, rektor van die UV, Sondagaand ná die kroning gesê.

Al kom sy van ’n klein dorpie (Volksrust in Mpumalanga) toon haar ideale om akademies te presteer en haar deernis vir mense wie sy regtig is, het hy gesê.

“Daarom verdien sy dit uit en uit om te wen.”

Casper Bosman, haar Bloemfonteinse ontwerper, het seker gemaak dat Rolene met elke tree van haar Mej. Wêreld-reis deur ’n ring getrek kon word.

“Ek is heeltemal oorweldig!

“Ons het maar baie gestres voor die tyd, maar dit is net stunning!”

Hy het gesê die feit dat Ro­lene gewen het, sit Bloemfontein “definitief op die map”.

“Dit wys net dat ons nie net met mense in Suid-Afrika hoef te kompeteer nie. Ons kan met mense wêreldwyd kompeteer en wys ons het talent hiér ook.”

Bosman het gesê hy het reeds oproepe van die Londense media ontvang wat ook graag met hom wou praat.

“Ek en my span is regtig baie geseën.”

Noudat sy die groot blou kroon in haar besit het, sal sy vir ’n jaar ná haar kroning in Londen woon, oor die wêreld heen reis en die Mej. Wêreld-organisasie en die sake waarvoor hy hom beywer, verteenwoordig.

‘Toe staan ek alleen’

Penny Coelen-Rey (Argieffoto)

“Ek kon op Rolene se gesig al dieselfde emosies lees as wat ek destyds ervaar het,” het Penny Coelen aan Marga Ley gesê.

Coelen-Rey (74) het amper Strauss se kroning misgeloop. “Ek leef in ’n huishouding vol mans en hulle wou die sewesrugby sien. Skielik toe hoor ek my selfoon in die kamer lui. Dit is toe ’n vriendin wat sê ek moet dadelik oorskakel na die Mej. Wêreld-uitsending.

“Ek moes rondhardloop om ’n TV te kry wat nie rugby op het nie! Rolene is baie, baie pragtig! Ek is skoon vies vir die mans en hul sewesrugby. Ek hoop die hele kompetisie word weer uitgesaai sodat ek van die begin kan kyk.”

Al is dit “lank terug”, onthou Coelen-Rey nog haar groot aand. “Ek kan onthou ons was net drie wat oor was en skielik het ek besef ek staan alleen daar.

“Ek het om my rondgekyk om te sien wie is nou Mej. Wêreld toe die besef tot my deurdring dit is ek.

“Iemand het destyds vir my die gedig ‘If’ van Rudyard Kipling gegee en die eerste reël het vir my baie beteken: If you can keep your head . . .

“Ek dink ek moes ’n paar swaar voete gehad het wat my op die grond gehou het.”

Ek kon op Rolene se gesig al dieselfde emosies lees as wat ek destyds ervaar het
Rolene Strauss (links) deel ’n oomblik met Mej. Amerika, Elizabeth Safrit, wat derde geplaas is. Deelnemers van 126 lande het die laaste paar weke in Londen meegeding met die kroningsgeleentheid wat Sondagaand gehou is. Dit is die 63ste jaar da
Rolene Strauss is Suid-Afrika se eerste Mej. Wêreld in 40 jaar. Foto: Reuters
Pragtig van kop tot toon! Ons nuwe Mej. Wêreld, Rolene Strauss. Foto: Reuters
Rolene Strauss word gekroon. Foto: AP