Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Rosestad word 2 Kannas ryker
Akteur en strykkwartet vereer vir KKNK-optredes
Kannas kom Bloemfontein toe! Van links is Anmari van der Westhuizen (tjellis), Samson Diamond (violis), Gerben Kamper (akteur), Jeanne-Louise Moolman (violis) en Sharon de Kock (violis). Dié Bloemfonteiners is vanjaar met Kannas vereer vir hul

BLOEMFONTEIN is twee Kannas ryker.

Die akteur Gerben Kamper en die Odeion-strykkwartet was die enigste Vrystaters onder vanjaar se benoemdes en toe bring hulle die dansende trofees huis toe.

Uitsonderlike prestasies op die KKNK word met die Kannas vereer.

“Dit is ’n leeftydse voorreg,” sê Kamper oor die eer wat hom te beurt geval het. “Dit gebeur nie aldag met enige akteur nie. Dit is beslis die hoogtepunt van my loopbaan.”

Die rol van Gregor Samsa wat hy in Willem Anker se Samsa-Masjien vertolk het, was een van die mees uitdagende rolle wat hy nóg moes doen. “Dit was ’n geweldige komplekse karakter, ’n ou skoolhoof wat aan demensie lei wat homself al hoe meer begin verbeel dat hy ’n insek word.”

Hy meen egter die kompleksiteit van die karakter het hom die geleentheid gegee om homself as akteur te bewys. “Die teks is ongelooflik – dit het my uitgedaag om dieper te delf.”

Anmari van der Westhuizen, tjellis en organiseerder van die Odeion-strykkwartet, meen hul Kanna is ’n onbeskryflike eer. “Dit dra geweldige gewig. Dié toekenning gaan vir ons deure oopmaak.”

Sy en die drie ander lede van die kwartet, Sharon de Kock, Jeanne-Louise Moolman en Samson Diamond, is vir hul klassieke musiekuitvoering vereer.

“Ek dink iets wat bygedra het tot ons sukses is dat ons slegs Suid-Afrikaanse komponiste se werke gespeel het, juis in die 20ste jaar van demokrasie,” sê Van der Westhuizen.

Hoewel die vier nog net ’n jaar lank saam speel, meen sy hulle vul mekaar goed aan. “As ’n mens ’n prys wen, sê dit seker iets van hoe jy as ’n span saamwerk.”

Hul snare het op die KKNK verenig om lewe te gee aan die werke van Mokale Koapeng, Alan Stephenson, Pieter de Villiers en Hendrik Hofmeyr.

“Ons voel ons harde werk is beloon. Ons het elke dag vir vier ure geoefen,” sê Moolman.

Dié kwartet gaan op die Vryfees hul CD aan die publiek bekend stel. Die melodieë van Gershwin, Jenkins, Bridge en Sjostakowitsj kan hierop verwag word.

• Die Kanna-wenners is op eergister in Kaapstad bekend gemaak.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.