Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Russe droom van Eurasiese Unie
Jongste gebeure net nog ’n stap na strewe
Hou Wladimir Poetin se strewe na ’n Groot-Rusland nuwe roem in of is dit ’n doodgebore ideaal? Theo Neethling beskou dit van nader.
Mense verkyk hulle Vrydag aan die vuurwerkvertoning waar die woord “Rusland” ter viering van die inlywing van die Krim-skiereiland op ’n regeringsgebou op die hoofplein van die Krimse stad Simferopol vertoon word. Pres. Wladimir Poe
Hier onderteken die Russiese staatshoof, pres. Wladimir Poetin, wetgewing in die Kremlin in Moskou wat die Krim-skiereiland tot deel van Rusland verklaar . Foto: ap

DIE Russiese staatshoof, pres. Wladimir Poetin, se onlangse inlywing van die Krim-skiereiland by Rusland en sy politieke inmenging in die Oekraïne oor die sogenaamde belange van etniese Russe het die vraag laat ontstaan: Wat motiveer Poetin se optrede en waarom sien hy selfs kans om die magtigste Westerse moondhede uit te daag?

Die vraag het ’n verskeidenheid reaksies van internasionale waarnemers ontlok.

Sommige mense het onmiddellik die Russiese inval van Georgië in Augustus 2008 herroep, asook dat die Russe deur Westerse diplomasie en druk gestuit is, maar eindelik wel twee streke, Abkhazia en Suid-Ossetia, in sy beheer gekry het.

Ander het weer gewys op die uitspraak van die voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake, Hillary Rodham Clinton, in Desember 2012 dat Moskou daarna streef om die streek rondom Rusland te “Sowjetiseer”.

Oorvereenvoudiging

Oor die punt dat Poetin probeer om die voormalige Sowjet-Unie te laat herleef, is nie juis eenstemmigheid nie en talle internasionale waarnemers beskou dit as ’n oorvereenvoudiging. Waaroor waarnemers klaarblyklik wel saamstem, is dat Poetin se planne verband hou met die politieke strewe om ’n nuwe streekorganisasie in Januarie 2015 tot stand te bring; ’n organisasie waarna Poetin as die Eurasiese Unie verwys. Dit kom kortom neer op ’n voorgenome organisasie waarvan Rusland die kern sal vorm en met sy naburige state in ’n soort alliansieformaat sal verkeer.

Ofskoon sommige waarnemers skepties oor die haalbaarheid van die voorgenome Eurasiese Unie is, is die vestiging daarvan dalk nie so vergesog nie. Van die post-Sowjetstate, Armenië, Kirgistan en Tajikistan, het reeds aangedui hulle is oorgehaal om deel daarvan te vorm.

Laasgenoemde twee state sukkel met hul ekonomieë en sal veral voordeel trek uit Russiese waarborge om die leiers in daardie state te beskerm teen magte wat hulle in omstandighede van onstabiliteit wil ontsetel. Die regeerders van dié twee state het trouens reeds voorrang aan Russiese veiligheidswaarborge bo toegang tot aantreklike Europese markte gegee.

Doeane-unie

Hierbenewens vorm Belarus en Kazakstan reeds sedert 2009 ’n doeane-unie met Rusland en die plan is om dit na ’n selfs meer verfynde vlak van samewerking te neem ingevolge waarvan arbeid en kapitaal relatief vry oor grense heen kan beweeg.

Die ideaal onderliggend aan die Eurasiese Unie is veral om ’n streekhandelsblok met ’n gemeenskaplike beleid oor migrasie, investering en energie te vorm.

Volgens Poetin sélf het die Eurasiese Unie te make met die doel om ’n supranasionale, geopolitieke mag te skep wat die Russiese invloed op die wêreldtoneel kan terugneem tot die punt waar die Sowjet-Unie was net voordat dit gedisintegreer het. Poetin het ook daarop gewys dat die gemeenskaplike infrastruktuur van die voormalige Sowjet-Unie die grondslag vir samewerking kan vorm en dat dit verder aangehelp sal word deur ’n gemeenskaplike taal, asook ’n wetenskaplike en kulturele grondslag wat net weer afgestof moet word.

Filosofies strek die ideaal van ’n Eurasiese Unie so ver as die 1920’s terug en het baie daarmee te make dat die Russiese identiteit oor baie dekades tussen Europa en Asië verdeel was.

Geografies is die grootste deel van Rusland in Asië, maar die digbevolkte westelike dele – met insluiting van Moskou en St. Petersburg – is baie Europees in hul beoefening en uitlewing van musiek, kuns en literatuur. Tog word die punt dikwels in die Russiese konteks gestel dat die gedagte van “Eurasiënisme” daarop moet berus dat die mense van Rusland en Sentraal-Asië ’n “beskawing” op sy eie moet wees en nie ’n soort tweedehandse Europa uitmaak nie.

‘Ortodokse moraliteit’

Ideologies sal die Eurasiese Unie uiteraard nie op die beginsels van Westerse demokratiese waardes en menseregte geskoei wees nie, maar eerder op ’n grondslag wat in stryd daarmee is. Poetin sélf beskryf dit as ’n Russiese “ortodokse moraliteit”.

Dit bring vervolgens die Oekraïne in die prentjie. Die rede vir Poetin se politieke belangstelling in die Oekraïne is nie sonder motivering nie. Kenners van die Russiese geopolitieke dinamika meen Rusland beskou die Oekraïne as ’n soort kroonjuweel en sou die Russiese leierskap daarin kan slaag om die Oekraïne politiek by Rusland aansluiting te laat vind, kan die voorgenome Eurasiese Unie ’n westelike hoekpilaar daarvan vorm en dat dit boonop teenaan die Europese Unie ingeplant sal wees.

Met die Oekraïne in sy politieke sak sal Poetin ook militêre basisse van Amerika in die besonder en die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) in die algemeen van die Russiese invloedsfeer kan uitsluit. Voorts sal daar strategiese voordeel daarin wees dat Rusland sy militêre magte met die lug- en seemagte van die Oekraïne kan verbind, veral nadat die Russe nou tot die hawe van Sevastopol in die Krim-skiereiland toegang het. Laastens sou die Russe ook beter beheer oor die lewering van gas deur die Oekraïne aan Europese markte langs kon verkry.

Die vraag is of die voorgenome Eurasiese Unie ’n ekonomiese mededinger vir die Europese Unie kan wees. Die antwoord is sekerlik nee, omdat die Russiese ekonomie net te swak is.

Die bedreiging – sonder om alarmisties te klink – lê eerder daarin dat ’n Russiese professor, Aleksandr Dugin, ’n karakter is wat sterk met die gedagte van Eurasiënisme verbind word. Hy en andere het ’n taamlik ekspansionistiese beskouing van hoe na ’n Eurasiese Unie beweeg moet word en hoe ’n “bevryding” van Europese invloed bewerkstellig moet word. So ’n pad kan tot die een of ander vorm van konflik tussen die groot moondhede en hul belange lei.

Ekonomiese sanksies

Maar vir eers is die vraag of die Russe voor die diplomatieke druk van Amerika en die Europese Unie gaan swig. Dit gaan voorwaar ’n interessante toets vir sy politieke wil wees.

Ekonomiese sanksies en skorsing uit die G8-organisasie staar die Russe in die gesig en die vraag is of Poetin hiervoor gaan swig.

Intussen ontken Poetin sterk hy wil ’n nuwe Russiese empire skep, maar eerder ’n post-Sowjet-ruimte wat ’n onafhanklike sentrum vir ekonomiese ontwikkeling kan word; ’n sentrum wat nie politiek-ekonomies aan Europa of Asië verbind is nie.

’n Laaste opmerking is die jongste ontwikkeling gee nog ’n verdere tree weg van die bipolêre wêreldorde wat die Koue-Oorlog-tydperk gekenmerk het.

Ekonomies beperk

Al lyk dit asof ’n mens hier weer met ’n Amerikaans-Russiese magspel te make het, is Rusland ekonomies net te beperk om sy gewig te veel rond te gooi.

Bowendien het die Europese Unie ná die Koue Oorlog as ’n baie invloedryke handelsblok na vore getree en selfs die Amerikaners is nie meer so oorheersend of dominant dat hulle sonder die Europese Unie hul stem dik kan maak nie.

Op die agtergrond van die hedendaagse multipolêre wêreldorde beweeg die Chinese stilweg stadig maar seker na die punt waar hulle na alle waarskynlikheid binne twee dekades die grootste ekonomiese krag ter wêreld sal wees.

Met dit alles gesê, is die jongste gebeure net nog ’n verdere stap weg van die Koue Oorlog, al is dit in ’n sekere sin tog ook ’n terugwaartse stap na die Amerikaans-Russies magspolitieke tonele wat die Koue Oorlog soveel jare gekenmerk het.

• Prof. Theo Neethling is hoof van die Universiteit van die Vrystaat se departement politieke studie en regeerkunde.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.