Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
SA gesin het roeping in Oekraïne
Begin sentrum vir kinders
Ockert en Michele Potgieter, wat reeds die afgelope 18 jaar in Reni in die Oekranië bly, kuier tans in Pretoria. Foto: THEANA BREUGEM

Die Oekraïne sal vir die meeste Suid-Afrikaners nie na die ideale tuiste klink nie, veral nie nou nie.

Maar vir Ockert Potgieter, sy vrou, Michele, en hul orrelpyp-kroos van vyf, wat tans in Pretoria kuier, is die dorpie Reni in die suide van die Oekraïne die afgelope 18 jaar hul huis.

Dit is in Reni waar hulle veral kinders en hul ouers deur die bediening “uit die slawerny van alkoholisme, armoede en sonde” wil help bevry.

Die egpaar het Yolandé Korkie, wie se man, Pierre, steeds deur Al-Kaïda aangehou word, die afgelope naweek in Bloemfontein bemoedig.

Die Potgieters en een van hul kinders is op ’n slag in hul huis in Reni deur ’n Mafia-roofbende aangehou en met haelgewere gedreig.

Dit was vir Ockert, ’n regsgeleerde met ’n streep grade agter sy naam, en Michele, ’n onderwyseres, ’n roeping om weke ná hul troue in Januarie 1996 hulle in die Oekraïne te vestig.

“Ockert het ’n goeie werk as dosent aan die eertydse RAU gehad, maar steeds het hy onvervuld gevoel,” sê Michele.

Ockert, wat ’n passie vir die eertydse Sowjetunie het, het in 1994 ’n studente-uitreikaksie na die Oekraïne onderneem.

Die jaar daarna, toe hy weer ’n uitreikaksie beplan, is Michele na ’n kerk-selgroep by sy huis in Centurion genooi.

Die liefde het geblom en die paartjie is sak en pak na die land waar die sneeu Michele aan diamante herinner en so lekker “krrtts-krrtts” onder hul voete.

Hulle is verbonde aan die Church of the Nations en het ’n sentrum vir kinders op die been gebring.

Hul vyf kinders, Hannes-Joshua (17), Cilliers (15), Mari-Alena (12), Benjamin (11) en Ivan (8), is almal in Potchefstroom gebore, ontvang tuisonderrig en is almal vlot in Russies.

“Ons het elke keer op agt maande vir die geboorte na Suid-Afrika gereis. Elke keer was ’n keisersnee!” sê sy.

Hoewel die gesin sowat 1 000 km van die ergste konflik in die hoofstad, Kiëf, bly, was daar gister minstens 20 Russiese voertuie met Russiese vlae in Reni wat mense aanspoor om die “regte” besluit in die dreigende konflik te neem.

Ockert vertel te midde van die skaakspel tussen die Weste en Rusland wil die meeste (etniese) Russe in die Oekraïne hulself losmaak van Rusland en deel wees van ’n verenigde Oekraïne.

Te midde van die politieke verwikkelinge is dit egter die maatskaplike krisis waarin die mense hulself bevind wat die Potgieters se aandag nog baie lank gaan eis.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.