Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
SA veeartse bekyk Saiga-vrektes in Kazakstan
'n Saiga in Kazakstan. Foto: Paramount
Dr. Johan Marais vroeër op die toneel waar 'n renoster se horing afgekap is. Foto: Verskaf

Twee van Suid-Afrika se vooraanstaande veeartsenykundige spesialiste het in Kazakstan aangekom om te probeer bepaal waarom die helfte van ’n erg bedreigde boksoort, die Saiga, in Meimaand gevrek het.

Drs. Johan Marais en Johan Steyl, albei verbonde aan die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort-fakulteit, sal vandeesweek monsters van die karkasse neem vir verdere ontleding.

Marais is bekend om die chirurgie wat hy op renosters wat in stropings beseer is, uitvoer. Steyl is ’n senior patoloog in wild om peste onder die Afrika-boksoorte na te vors.

Die Saiga is ’n nomadiese bok wat in groot troppe op die steppe van Sentraal-Asië se semi-woestyngebiede gevind word. Meer as 130 000 van die boksoort, wat nagenoeg die helfte van die totale bevolking van dié bedreigde spesie verteenwoordig, is in raaiselagtige omstandighede in Meimaand dood.

Marais het vandeesweek uit Astana, Kazakstan se hoofstad, gesê dit is die eerste keer in sy professionele lewe wat hy soveel massa-vrektes van een spesie in so ’n kort tyd beleef.

“Ons weet hulle is dood weens ’n bakterie genaamd Pasteurella, maar ons moet probeer bepaal wat die sneller was wat soveel bokke laat vrek het. Ons moet dan verder ’n manier vind om die oorblywende bokke te behandel om verdere sterftes te voorkom.

“Ons doen nou nadoodse ondersoeke om te bepaal of daar enige fisiologiese aanduiding is vir die tragedie om uiteindelik hierdie unieke boksoort van uitsterwing te red,” sê hy.

“Sodra die uitslae van bloedtoetse en die nadoodse ondersoeke ontleed is, sal ons hopelik ’n stappie nader wees om die geheimsinnigheid op te los.”

Die twee veeartse is met die bemiddeling van die Ichikowitz-stigting Kazakstan toe gestuur nadat dié land se regering weens sy wapenbande met die Paramount-wapenvervaardigingsgroep in Suid-Afrika, om hulp gevra het.

Dié stigting is ook nou betrokke by die bekamping van renosterstropery in Suid-Afrika – veral in die Kruger-wildtuin. Dáárvoor is vliegtuie, opleiding vir veldwagters en ’n snuffelhond-opleidingskool tot stand gebring vir die opleiding van hanteerders en honde om teen-stroperypatrollies te bemeester.

Volgens Ivor Ichikowitz, voorsitter van Paramount, staar totale uitwissing die Saiga – net soos die renoster in Suid-Afrika – in die gesig.

“Dit gaan ’n massiewe poging van regerings, akademici, nieregeringsorganisasies en die private sektor kos om die oorlewing van dié bedreigde spesie vir die nageslag te bewaar,” het hy gesê.

Die twee veeartse sal later vandeesweek na Suid-Afrika terugkeer waar die monsters verder by Onderstepoort ontleed sal word.


Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.