Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
SAUK het ‘geluister’ en skuif nuus terug na SABC2

Die SAUK het “na die mense geluister” en daarom sal die Afrikaanse nuus van 3 November af weer op SABC2 uitgesaai word.

“Ons het die laaste paar maande baie vergade­rings met verskillende belang­hebbendes, soos die ATKV, gehad.

“Ons het geluister, ons het gehoor wat hulle sê en daarom verander ons nou ons besluit,” het Kai­zer Kganyago, SAUK-woordvoerder, gister gesê.

Die SAUK se besluit in Julie om die Afrikaanse nuus na SABC3 te skuif, het baie kritiek ontlok. Dié kanaal het ’n kleiner uitsaai-voetspoor as SABC2.

In ’n amptelike verklaring het die SAUK gister gesê “klein veranderinge” word aan die televisie-skedule gemaak weens die onlangse bedanking van 16 akteurs van die SABC1-sepie Generations.

Dié sepie word vernuwe en sal van Oktober tot Desember van die lug af wees terwyl nuwe episodes verfilm word.

Die Afrikaanse nuus sal daarom weer om 19:00 op SABC2 uitgesaai word, waarna die Sotho-nuus om 19:30 sal volg.

“Ná die SAUK se besluit om die Afrikaanse nuus na SABC3 te skuif, het ons die bestuurders van die kanale gaan sien,” sê Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV.

“Ek dink ons het dit op ’n baie beskaafde ma­nier gehanteer.

“Ons het eenvoudig aan hulle verduidelik dat baie Afrikaanse mense in die gesig gevat is deur die besluit.”

SABC3 kan in groot dele van die Noord-Kaap, en dele van die Vry­staat, Oos-Kaap en Wes-Kaap nie opgevang word nie. “Dít is oral plekke waar baie Afrikaanse mense woon,” sê Gouws.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.