Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘SAUK het groter probleme as geld’

Die SAUK moet die probleem van SABC3 se uitsaai-voetspoor eers oplos voordat hulle op ’n nuwe finansieringsmodel kan fokus.

So het Juli Kilian, voormalige Cope-LP, Woensdag gesê.

Faith Muthambi, minister van kommunikasie, het Dinsdag in ’n parlementêre debat gesê ’n nuwe strategie moet gevind word om die open­bare uitsaaier te finansier.

Volgens Muthambi is die stabilisering van die SAUK ook boaan die agenda.

“As jy wil vuurmaak, moet jy eers die skoorsteen skoonmaak.

“Jy kan ’n kykersgroep nie na ’n kanaal skuif wat hulle skaars kan opvang en dan verwag adverteerders moet betaal nie. Jy moet dit oplos.

“Daarna kan jy fokus op finansiering. Adverteerders het reeds begin onttrek omdat die SAUK ’n swak programskedule het. Die SAUK ken nie hul mark nie en dit is een van die vele probleme,” het Kilian gesê.

Vonke het gespat toe die SAUK Maandag aangekondig het die Afrikaanse nuus en ander Afrikaanse programme gaan van SABC2 na SABC3 oorgeskuif word.

Volgens Alana Bailey, uitvoerende adjunkhoof van AfriForum, het ’n klomp woedende kykers hulle reeds oor die verandering gebel.

“Mense is raadop. Sommige oorweeg dit selfs om hul tv-lisensies nie meer te hernu of te betaal nie,” het Bailey gesê.

Anina Vorstman Barnard het Woensdag op Beeld se Facebook-blad geskryf sy oorweeg dit.

“Nee wat, as my taal en kultuur nie goed genoeg is nie, dan is my geld ook nie goed genoeg nie.”

Hoewel tv-lisensies slegs ’n klein deel van die SAUK se totale inkomste uitmaak, meen Kate Skinner van die SOS-koalisie so ’n boikot kan steeds ernstige gevolge hê.

“Die SAUK kan ’n lelike hou kry. Die kyker moet altyd eerste op die prioriteitslys wees.

“As mense nie kan kyk nie, kan die kykertal daal en adverteerders kan skepties wees om op die SAUK se TV-kanale te adverteer.”

Volgens Skinner het die SAUK beslis ’n nuwe finansieringsmodel nodig.

“Hulle moet oorbeweeg na openbare finansiering, maar dit sal hulle eers regkry as hulle hulself reggeruk het. Op die oomblik is hulle onder finansiële druk.”

Luidens die SAUK se jaarverslag van 2013 het Ellen Tshabalala, voorsitter van die SAUK-raad, erken die uitsaaier het byna al sy teikens in die kern-prestasie-areas in die 2012-’13-boekjaar gemis.

Volgens Veronica van Dyk, die DA se adjunkwoordvoerder oor kommunikasie, is ’n nuwe finansieringsmodel irrelevant.

“Die verskuiwing van Afrikaans van SABC2 na SABC3 druis in teen die SAUK se eie redaksionele beleid en kan nie toegelaat word nie. Die nuwe finansiële model moet beplan word in die konteks van die SAUK se reëls en regulasies.”

Teen druktyd het die SAUK nie op navrae gereageer nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.