Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gupta-landing:
SMS’e wys Jacob Zuma weet
Lt.kol. Christine Anderson wil alles onthul in siviele saak
Lt.kol. Christine Anderson. Alle klagte teen haar is gister laat vaar. Foto: Deaan Vivier

Teksboodskappe waarin pres. Jacob Zuma se naam glo telkens voorkom, gaan op die lappe kom as lt.kol. Christine Anderson hof toe gaan oor Guptagate.

Anderson is Dinsdag deur die weermag vrygespreek van alle dissiplinêre klagte wat verband hou met die landing van ’n straler deur die Gupta-familie op die Waterkloof-lugmagbasis.

Sy gaan nou ’n siviele eis teen die weermag instel weens naam- en karakterskending.

“Christine het bewyse van gesprekke tussen Bruce Koloane (destyds hoof van staatsprotokol) en pres. Zuma. Ons sal bewys dat Koloane as ‘agent’ van Zuma opgetree het om die landing moontlik te maak,” het adv. Pikkie Greeff van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie (Sanwu) gister gesê.

Onder die bewyse tel ’n aantal SMS’e van Koloane aan Anderson waarin hy glo opdragte van Zuma herhaal.

Koloane het in sy tugverhoor gebieg hy het gelieg toe hy gesê het “Nommer Een” het opdrag gegee vir die Gupta-landing. Hy is intussen deur Zuma aangestel as Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland.

Indien Anderson Koloane sou dagvaar om te getuig, sal hy onder eed in ’n ope hof moet sê hy het gelieg elke keer dat hy Zuma se naam gebruik het.

Die weermag het gisteroggend per brief aan Anderson en lt.kol. Stefan van Zyl, haar medebe­skuldigde, se prokureurs kennis gegee dat alle aanklagte teen hulle laat vaar word.

“Ons gaan die eise ‘laai’ met al die bewyse tot ons beskikking wat ons tot nou teruggehou het. As enigiemand dit wil betwis, sal ons al die vuil wasgoed van die sage in die hof gaan was. Daar is selfs meer bewyse van korrupsie as wat reeds bekend is,” het Greeff gesê.

Anderson het gister aan Beeld gesê: “Ek is bly ek kan weer met my lewe voortgaan en nou my aftrede geniet.”

Jean Griessel, wat namens Sanwu vir Anderson as prokureur verteenwoordig, het gister die kennisgewing deur die weermag beskryf as “geregtigheid – maar teen ’n prys”.

“Tot op hede het niemand behalwe Koloane ’n mate van skuld vir die hele gemors aanvaar nie. Hy is ligweg op die vingers getik deur twee maande se salaris te weerhou en ’n tydelike posverlaging te aanvaar.

“Die land weet steeds nie wie verantwoordelikheid aanvaar vir die veiligheidsbreuk wat plaasgevind het toe ’n kommersiële vliegtuig vol buitelandse burgerlikes toegelaat is om op ’n militêre basis te land nie.”

Volgens Griessel het Jeff Radebe, minister in die presidensie en destyds minister van justisie, namens die interdepartementele komitee wat die voorval ondersoek het Koloane en Anderson in die openbaar uitgesonder en beskuldig van sameswering om ’n misdryf te pleeg.

“Christine is nie eens tydens dié voorlopige ondersoek geraadpleeg voordat sy in die openbaar skuldig bevind is nie.”

Die weermag het aanvanklik aangedui dat hulle weens bedrog, korrupsie en sameswering aangekla sou word.

“Christine is geskors en Stefan met verpligte verlof gesit nog voordat enige ondersoek ingevolge die Verdedigingswet gelas is. Toe die weermag besef dat selfs sy eie regsafdeling aanbeveel het dat daar nie met vervolging voortgegaan word nie, is nóg bewyse teen hulle gaan soek. Uiteindelik is hulle op ’n verwaterde klag aangekla. Toe het daar vir 18 maande niks gebeur nie – tot ons skielik vandag (gister) die kennisgewing van die regsafdeling gekry het.

Bruce Koloane
Die berugte Gupta-straler wat op die Waterkloof-lugmagbasis geland het.

“Niemand het in die openbaar vir hulle om verskoning gevra nie terwyl hulle twee permanent gebrandmerk is. Dit is dié dat ek klaar instruksies van Chris­tine af het om voort te gaan met die siviele eis teen die weermag en al die departemente wat destyds by Radebe se ondersoek betrokke was,” het Griessel gesê.

Volgens Greeff sal die kennisgewing aan die onderskeie departemente dat hulle vir laster gedagvaar word voor die einde van dié week uitgestuur word.

Die “onverwylde” heraanstelling van Van Zyl in sy vorige pos met géén benadeling weens die aksie teen hom nie word ook van die weermag geëis.

Anderson het in haar getuienis voor die weermag se raad van ondersoek gesê daar is altyd om veiligheidsredes na Zuma as “Nommer Een” tydens telefoonoproepe en e-posse verwys.

Mac Maharaj, Zuma se woordvoerder, het nie gister op versoeke om kommentaar gereageer nie.

Guptas se omstrede landing in ’n neutedop

’n Kommersiële straler met nagenoeg 200 bruilofsgaste vir die Gupta-familie se dogter se troue by Sun City het op 30 April 2013 by die Waterkloof-lugmagbasis geland.

Kort nadat ’n openbare bohaai oor die beweerde misbruik van staatseiendom losgebars het, het die regering se veiligheidsgroepering met ’n ondersoek na die magtiging van die landing begin.

Afgesien van die lugmag se bystand met die landing, het die polisie en die metropolisie spesiale begeleiding van die konvooi met gaste Sun City toe help reguleer.

Uiteindelik is lt.kol. Chris-

tine Anderson as waarnemende hoof van BBP-verplasings by die basis, lt.kol. Stefan van Zyl, wat die magtigings in die lugmagbevelspos onderteken het, en ao. Thabo Ntshisi, ook van die bevelspos, verwittig dat hulle van korrupsie, bedrog en sameswering aangekla gaan word.

Intussen het die weermag ook sy eie raad van ondersoek begin wat dié aanbeveling (oor die klagte) bekragtig het.

Jeff Radebe, voorsitter van die interdepartementele groepering, het Anderson en Bruce Koloane, hoof van staatsprotokol, in die openbaar die skuldiges genoem.

Koloane het in ’n interne verhoor skuld beken en gesê hy het gelieg oor pres. Jacob Zuma (“Nommer Een”) se betrokkenheid. Koloane moes twee maande se salaris inboet sowel as ’n posverlaging voordat hy verlede jaar as ambassadeur in Nederland aangestel is.

Anderson is summier geskors, terwyl Van Zyl en Ntshisi op verpligte verlof geplaas is. Ntshisi het later aangedui hy sal ’n staatsgetuie teen die ander twee wees.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie (Sanwu) se prokureurs het Anderson en Van Zyl se saak deurlopend behartig en die hulp van die openbare beskermer (OB) ingeroep. Die OB het nog nie ’n bevinding gemaak nie.

Die direkteur van militêre vervolgings het bevind daar is geen prima facie-saak teen die twee nie, waarna daar vir bykomende verklarings gevra is.

Sedertdien sloer die saak voort sonder enige beslissings totdat die prokureurs die weermag ’n week gelede voor ’n ultimatum gestel het: óf hulle word aangekla óf die unie gaan die hooggeregshof vir ’n interdik nader.

Die prokureurs het gisteroggend ’n kennisgewing van die weermag se regsafdeling gekry dat die aanklagte teruggetrek word.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.