Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Saak voorlopig teruggetrek
Die voormalige Protea-krieketspeler Monde Zondeki gister buite die Goodwood-landdroshof waar hy op aanklagte van dronkbestuur sou verskyn het. Foto: Edrea du Toit

KAAPSTAD. – ’n Voormalige Protea-krieketspeler is in die sop nadat hy na bewering onder die invloed van drank bestuur het.

Monde Zondeki (32) is in Junie verlede jaar in Goodwood vasgetrek.

Hy was na bewering op pad terug van die lughawe na sy huis in Bothasig toe hy by ’n padblokkade voorgekeer is.

Zondeki, geklee in ’n netjiese pak, was gister by die Goodwood-landdroshof waar hy op dié aanklagte sou verskyn.

Sy prokureur, Bruce Hendriks, het egter suksesvolle vertoë tot die senior staatsaanklaer gerig en die saak is voorlopig teruggetrek totdat die uitslag van sy bloedtoets bekend is.

Kapt. Frederick van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

Zondeki, ’n boorling van die Oos-Kaap, het verlede jaar weens knaende rugbeserings as speler uitgetree nadat hy 12 jaar lank beroepskrieket gespeel het.

Hy het as snelbouer in ses toetse en 13 eendaagse wedstryde vir die ­Proteas gespeel asook in 91 wedstryde vir die Cape Cobras.

Hy het verlede jaar met die aankondiging van sy uittrede gesê hy sal hom voortaan op ’n loopbaan as afrigter en TV-kommentator toespits.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.