Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Seriti-kommissie na wapentransaksies kos R113 miljoen
Foto: Lindile Mbontsi

Die Seriti-kommissie van ondersoek na die regering se omstrede wapentransaksies het Suid-Afrika meer as R113 miljoen gekos.

Dit is genoeg om klasgeld vir 2 756 eerstejaar-studente se BSc-studies te betaal.

Die grootste koste is die span se getuienisleiers. Simon Lebala, die advokaat wat die meeste gekry het, het R12,3 miljoen verdien.

Die senior getuienisleiers het altesaam R35,4 miljoen gekry, genoeg om klasgeld vir meer as ’n duisend studente in die eerste jaar van hul LLB-studies te betaal.

Adv. Mike Masutha, minister van justisie, het die syfers oor die koste van die kommissie Woensdag bekend gemaak in ’n antwoord op ’n parlementêre vraag van die DA.

Hennie van Vuuren, medeskrywer van die boek Devil in the Detail: How the arms deal changed everything, het aan Netwerk24 gesê die kommissie was ’n “skandelike geldvermorsing”.

“Dit is skokkend dat die kommissie ’n handjievol mense skatryk gemaak het terwyl dit byna niks gedoen het om die omvang van die korrupsie wat gedurende die wapentransaksies plaasgevind het, aan die lig te bring nie.

“Inteendeel, die manier waarop die komitee en ’n klomp van die getuienisleiers hul werk gedoen het, het daartoe gelei dat Suid-Afrikaners vandag selfs minder weet van die korrupsie omdat baie van die sleutelgetuienes eenvoudig geblok is.”

President Jacob Zuma het die kommissie in Oktober 2011 op die been gebring om beweerde korrupsie tydens die wapentransaksie te ondersoek.

Die kommissie het aanvanklik twee jaar en R40 miljoen gekry om die ondersoek te voltooi, maar dit is verskeie kere deur Zuma verleng.

Die kommissie se geloofwaardigheid is vroeg reeds ernstig geknou toe verskeie senior leiers kort voordat die openbare sittings sou begin het, bedank het.

Dit het regter Francis Legodi, een van die kommissarisse, ingesluit.

Mokgale Norman Moabi, ’n senior navorser by die kommissie, het ook bedank en gekla oor ’n sogenoemde “tweede agenda” om bewerings van korrupsie gedurende die proses te diskrediteer.

* Volgens die Universiteit van die Witwatersrand se webwerf is die klasgeld vir die eerste jaar van BSc-studies R41 080. Die klasgeld vir ’n LLB is R32 470.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.