Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sertifikaat na bewering vervals: Advokaat kry borgtog

DIE advokaat van Bloemfontein wat na bewering sy graadsertifikaat vervals het, is gister in die Bloemfonteinse landdroshof op borgtog van R2 000 uitgelaat. Hy was vyf dae agter tralies.

Ntate Manoel Mabesa (43) gaan skuld op die aanklag van bedrog teen hom ontken, het Jaco Gous van Gous-prokureurs gister namens hom voor landdros Thobela Tshozi gesê.

Hy het gesê Mabesa, ’n pa van vyf kinders van Botshabelo, dra geen kennis van die bewerings teen hom nie en ken ook nie die moontlike getuies teen hom nie.

Mzwandile Mrabe, die aanklaer, het gesê Mabesa sal op nog aanklagte tergestaan. Hy is in die Vrystaatse hooggeregshof toegelaat en het gepraktiseer as advokaat.

Nadat een van sy kollegas sy kwalifikasies in twyfel getrek het, is ’n ondersoek gedoen. Daarna is vasgestel dat hy nie die kwalifikasies aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) behaal het nie.

Landdros Tshozi het sy verhoor tot 20 Augustus uitgestel.

Volksblad verneem hy was in 2003 ’n ingeskrewe student aan die UV, maar het nie ’n enkele vak geslaag nie.

In 2012 is hy met ’n vermoedelik vervalste graadsertifikaat in die Vrystaatse hooggeregshof as advokaat toegelaat.

Sy verskyningsbevoegdheid het in Desember verlede jaar onder die aandag gekom toe hy in ’n verhoor namens vier mans verskyn het, wat na bewering in besit van vervalste geld was. Op dokumente het hy ook voorgegee dat hy ’n lid van die Vrystaatse balie is, verneem Volksblad.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.